Boer Melanie sê oor ‘Die Brug’

Melanie Koegelenberg is ‘n nuwe speler in ‘Die Brug’. (Foto: verskaf)

Melanie Koegelenberg het soos ʼn wafferse waaghals op ʼn vierwielmotorfiets by Die Brug se houthuis opgedaag, en hoewel sy koelkop gelyk het, erken sy vandag dat sy niks behalwe senuwees kan onthou nie.

“Alles was vir my ʼn blur. Ek was, te verstane, baie op my senuwees, maar ek dink ek het dit goed weggesteek,” het Melanie, wat in laasweek se episode van Die Brug as buiteperdspeler bekendgemaak is, aan Maroela Media vertel.

“Toe ek daar aankom, het ek oor ʼn paar skaalplanke gery, en toe ek die motorfiets afskakel toe sien ek vir Rob.”

Dié voormalige rugbyspeler het Melanie bloot verder die skrik op die lyf gejaag. Inteendeel, sy kon net wonder waarvoor sy haarself ingelaat het, erken sy.

Met die intrapslag moes Melanie nie net haarself aan die ander deelnemers voorstel nie, maar sommer die verkiesing van ʼn nuwe leier fasiliteer.

“Dit was werklikwaar baie om in te neem. Vandat ek daar aangekom het, het alles so vinnig gebeur. Ek het nie eens tyd gehad om alles te verwerk nie. My hart het so vinnig geklop en my hande het gebewe toe ek die brief moes lees,” vertel sy.

“Boonop was dit ʼn groot aanpassing met die al die kameras wat ewe skielik oral is. There is no escape.”

Avril, wat in die eerste episode van die reeks as die leier van die groep verkies is, moes in dié episode opsyskuif om plek te maak vir ʼn nuwe leier: Sam, die langhaar-joga-instrukteur.

Melanie het later in die episode uitgevind dat Jacques, wat onlangs ook sy verskyning as ʼn buiteperdspeler gemaak het, met sy aankoms iemand huis toe moes stuur. Dié persoon, erken hy in die episode, het hy op ʼn lukrake wyse gekies, en dit was uiteindelik Marna.

Melanie het gedurende die episode gewonder of haar medespelers se vriendelikheid werklik eg was, en of dit dalk uit vrees was vir die moontlikheid dat sy ook iemand sou moes kies om huis toe te gaan.

(Foto: verskaf)

“ʼn Mens se naam is baie werd, en daarom glo ek dat egtheid altyd belangrik is. Ek het geweet dat daar ʼn reeks persoonlikhede op die program sou wees. Vriendskappe, bondgenootskappe, konflik en rugstekery gaan daarmee gepaard.

“Ek is ʼn vriendelike mens van aard, en ek het my bes probeer om met almal goed oor die weg te kom.”

Dit was ook vir haar belangrik om nie agteraf te wees nie. “Ek kan nie beheer wat ander sê of doen nie, maar ek kan my dade beheer.”

Alhoewel Melanie ʼn boer in haar persoonlike hoedanigheid is, beskryf sy haarself as ʼn “bakkie-boer”, wat nie noodwendig voorbereid was op die harde werk wat vir haar gewag het nie.

“Al kan ek hard werk, swaar sakke optel, vinnig aanpas by veranderende situasies en ʼn hoë pyndrempel het, het dit my nogsteeds nie voorberei vir hoe fisiek uitdagend hierdie ervaring sou wees nie. Tog sal ek dit alles weer doen.”

  • Die Brug word Donderdae om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.