‘Boer soek ʼn vrou’-aanbieder gee jawoord

Marciel Hopkins-Lourens, aanbieder van die gewilde kykNET-werklikheidsreeks Boer soek ʼn vrou, en haar man, Handré Lourens. (Foto: Sulet Fourie Photography)

Huweliksklokke het die afgelope naweek vir Marciel Hopkins-Lourens, aanbieder van die gewilde kykNET-werklikheidsreeks Boer soek ʼn vrou, gelui toe sy met Handré Lourens getroud is.

“Na ses jaar op die dag wat hy my uitgevra het, het ons die knoop deurgehaak [sic] op ʼn perfekte herfsdag in die Boland. Manlief – ek sien uit na die avontuur van ʼn leeftyd saam met jou,” het die 29-jarige Hopkins-Lourens op Instagram geskryf.

Handré het ook nie op hom laat wag om dieselfde foto op Instagram te deel nie.

“Vandag is ek die gelukkigste man op aarde om die ongelooflike en beeldskone vrou my bruid te kan noem. ʼn Leeftyd se avontuur, liefde en passie wag vir ons en ek kan nie wag om die res van ons storie saam met jou te skryf nie,” het hy geskryf.

Maroela Media het in 2020 berig dat Handré, ʼn 31-jarige finansiële bestuurder van Kaapstad, vir Marciel by die Twelve Apostles-hotel buite Kampsbaai in die Wes-Kaap gevra het om met hom te trou.

Volgens Marciel het Handré haar na die hotel gelok onder die voorwendsel dat sy ’n onderhoud met ’n tydskrif sou doen. Hoewel Marciel aanvanklik agterdogtig was oor dié onderhoud, was sy heeltemal uit die veld geslaan met die verlowing.

Dit was tydens Marciel se eerste seisoen as aanbieder van Boer soek ʼn vrou dat Handré op sy knie afgesak en die jawoord gevra het. Marciel was die aanbieder van seisoen 13 en 14, en sy sal weer haar aanbiedershoed vir die 15de seisoen van dié maatsoekprogram opsit.

“My liefdesreis is so pragtig verweef met Boer soek ʼn vrou: Ek het verloof geraak tydens my eerste seisoen, ʼn troue beplan tydens seisoen twee en nou gaan ek ʼn getroude vrou wees as ek my derde seisoen skiet. Dis spesiaal en iets wat ek vir altyd sal onthou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Hannelie

Baie geluk julle