‘Boer soek ʼn vrou’: Boere gereed vir elfde seisoen

Dit is amper weer tyd om voor die kassie in te skuif vir die 11de seisoen van die gewilde kykNET-realiteitsprogram Boer soek ʼn vrou.

Dié keer reis die sangeres en aktrise Leah as aanbieder van die program van plaas tot plaas om die boere en hul potensiële pasmaats van naderby te leer ken.

Hierdie seisoen is daar weer 10 boere wat elkeen ʼn kans op die liefde waag. Hier is die eerste vyf boere:

Boer Frikkie is een van die boere wat te sien is in die elfde reeks van Boer soek ʼn Vrou. Foto: Verskaf deur kykNET

Frikkie (28) is van die Paterson-omgewing in die Oos-Kaap en boer hoofsaaklik met wild. Sy familie is ook ywerige jagters.

Volgens Frikkie is boere ʼn “bedreigde spesie”, maar vasbyt en deurdruk is sy lewensleuse. Hy het Suid-Afrika tydelik verlaat om in die buiteland te gaan werk maar glo dat eie bodem sover die beste is.

“[My suster] het gesien as sy nie gaan plan maak nie, gaan ek maar sukkel,” vertel hy oor sy inskrywing vir Boer soek ʼn vrou. “Die stilte kan ook raas nou en dan.”

Frikkie beskryf hom as ʼn romantiese mense-mens wat lief is vir avontuur en na ʼn ewe avontuurlustige lewensmaat soek. “Iemand wat maklik saam met my in die bakkie kan spring oor ʼn naweek om weg te breek.”

Hy soek iemand wat saam met hom kan droom, lag en in goeie en slegte tye langs hom sal staan. “Solank sy mooier is as my varkhond, sal ek ʼn gelukkige man wees,” skerts hy.

Boer Toanette is een van die boere wat te sien is in die elfde reeks van Boer soek ʼn Vrou. Foto: Verskaf deur kykNET

Toanette (23) se onderneming op ʼn wildplaas in die Modimolle-omgewing in Limpopo fokus op opleiding in natuurbewaring.

“My hart is baie sag en my liefde vir diere is onbeskryflik,” sê Toanette, ʼn kranige perderuiter. Sy geniet avontuurlustige aktiwiteite, maar hou ook daarvan om by tye rustig te verkeer en te teken.

Haar droomman is ongetwyfeld ʼn kind van die Here saam met wie sy kan bid en Bybel lees. Verder moet hy gaande wees oor diere – veral honde aangesien sy haar bed met haar liefdevolle brak deel.

Sy soek na iemand met ʼn positiewe uitkyk op die lewe met drome van sy eie. “Dit is belangrik om nooit jouself te verander om by iemand aan te pas nie, en jy moet presies weet wat jy wil hê.”

Boer Schalk is een van die boere wat te sien is in die elfde reeks van Boer soek ʼn Vrou. Foto: Verskaf deur kykNET

Schalk (26) is ʼn bestuurder op ʼn plaas geleë tussen Vaalwater en Ellisras in Limpopo, maar het in Pretoria grootgeword.

Hy is gaande oor die bos en die natuur, maar erken alleenwees is die moeilikste gedeelte van boer wees. In sy vrye tyd vang Schalk graag vis, jag en geniet hy dit om foto’s te neem en sy hand aan potloodsketse te waag.

Hy vertel hy wil graag eendag ʼn plaasmeisie grootmaak. “Ek gaan haar ook oppas. Ek gaan daai oom wees wat op sy houtstoel sit en wieg met ʼn haelgeweer en ʼn ogie oor sy dogters hou.”

Hy geniet dit om die skoner geslag te bederf en moeite te doen. “Romanties hoef nie noodwendig duur te wees nie,” sê hy.

Dit is vir hom ook belangrik dat sy maat hom moet aanvaar en verstaan.

Boer Rèan is een van die boere wat te sien is in die elfde reeks van Boer soek ʼn Vrou. Foto: Verskaf deur kykNET

Rèan (26) bedryf ʼn wingerd- en pekanneutboerdery naby Groblershoop in die Noord-Kaap. “My boerdery is ʼn lewenswyse en ʼn passie. Ek hou van nuwe projekte aanpak en voltooi.”

Hy raak skoon liries oor hoe hy voel wanneer hy saans huis toe ry. “Dit is vir my mooi om te sien wat ek met my hande kon doen.”

Hy hou van jag, kos maak en tennis speel en is ook ʼn groot grapjas. “ʼn Ding kom maar net uit soos ek aan hom dink, maar ek weet darem wanneer grappies op ʼn stokkie moet wees.”

Sy ouers en tweelingsusters het hom meer geleer van die fynere dinge in die lewe en wanneer dit by inspirerende verhoudings kom, is daar vir hom geen beter rolmodelle as sy ouers nie.

Rèan se ideale vrou is ʼn saggeaarde en ondersteunende Christen wat saam met hom kan gesels, luister en ook ʼn bok vir sports is. Sy moet ook ʼn hondemens wees, want Lielie, sy Jack Russell-hondjie en linkerhand, sit bykans sy hele hart vol.

“Iets vir die oog is darem ook belangrik,” sê hy.

Boer Marx is een van die boere wat te sien is in die elfde reeks van Boer soek ʼn Vrou. Foto: Verskaf deur kykNET

Marx (24) is ʼn skaap-en beesboer van Barkly-Oos in die Oos-Kaap wat kom uit ʼn familie wat die waarde van harde werk verstaan. Hy neem sy voorbeeld by sy ma: Sy doen alles van skape vang tot die vleis verwerk.

Sy ideale pasmaat is ʼn vrou wat nie bang is om haar hande vuil te kry nie en wat eendag ʼn goeie ma vir hulle kinders wil wees. “Ek soek ʼn hele netbalspan, en darem ʼn ou bulletjie. Ek sal my dogtertjies baie bederf met mooi rokkies en al daai goeters.”

Sy moet ook iemand wees wat lekker kan lag en op dieselfde manier as hy na die wêreld kyk. Haar geloof moet sterk wees en aardse dinge moet vir haar minder belangrik wees.

“Ek sien uit na nuwe en opwindende goed in my lewe, en dus het ek myself verlede jaar belowe as ek enkellopend is en plaas toe kom, gaan ek iets uit my gemaksone doen en die kans waag en inskryf vir Boer soek ʼn vrou.”

Skakel vanaf dié week elke Donderdag om 20:00 op DStv-kanaal 144 in vir ’n nuwe episode van Boer Soek ’n Vrou.

Bron: kyknet.dstv.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Boere Emigreer ·

Dit is wat duisende boere tans oorweeg en/of mee besig is.

Nettie ·

Hierdie reeks is vir my só vervelig – reeks 11 van dieselfde ding, oor en oor, jaar na jaar dieselfde? En dan is dit boonop – soos baie ander “Afrikaanse” televisie-reekse – nie eens iets oorspronklik nie. Dit kom uit Australië – “Farmer wants a Wife”.

En vóór julle my dood wil skiet ……………………….. Nee, ek kyk dit nie: ek kyk eerder Expedition Unknown op The Travel Channel daardie tyd van ‘n Donderdagaand.

Sandra ·

Expedition Unknown gladnie eg Suid Afrikaans maar indien jy dit geniet doen dit. Gelukkig verskil mense en dit is ook goed so.

Wessie ·

Lekker Nettie. Geniet jou Ekspedisie Onbekend! Ons sal maar Boer soek ‘n Vrou kyk!

apie ·

Regtig oulike mense hierdie , almal lyk na ondernemende mense. Die program konsep is waarlik vreemd, gegewe die toestande wat heers. Dalk is ek net skepties maar ek sukkel om die besigheid klein te kry. Wat van ‘n program om weerbaarheid te kweek, eerder?

Katrina ·

Hoekom net altyd d jonges? Wat van d ouer boere wat ook n maat soek? Daar is HOPE geslypte diamante daarbuite wat n aanwins sal wees vir ouer boere wat maat soek?

Katerina ·

As ek n jong dame was sou ek dit nie Waag op n plaas in Die helhool land nie. Nie eens vir een dag se kuier nie wat nog te se daar woon.

Wessie ·

Te hél met die perd!! Gelukkig verskil prioriteite… :-))

Johan ·

Bosr soek n ……ja . Klomp gemors. Maak met wittes se naam knaater

Swartwolf ·

En as poplap nou nie deur fris Frikkie Boer gekies word nie dan huil hulle?? As jy jou uitgee vir ‘n toffie gaan jy gekou word……nee wat die is snert op sy beste.

Oujongvrou ·

Almal maak dit nou af as snert. Maar ek kyk dit, want hierdie ou mens sien elke jaar darem een gelukkige paartjie. Maak my hart warm as ek lank daarna lees van hulle troues en swangerskappe en kinders. Is soos my kinders. So kyk julle asb maar iets anders en gun ons ander die lekker van raai wie gaan dit hierdie jaar regkry om sy hart se punt raak te loop.

Wessie ·

Ek stem saam Oujongvrou! Hierdie alewige suurgatte laa my wonder wat hulle doen vir ontspanning!

Johan ·

Mmmmm my pragtige sexy mooi vrou het ek nie op tv gaan soek nie. Klomp snert goekoop …….

Mel ·

Suuuuuuuur druiwe is al wat ek sien op die comments.

Dis goed julle kyk dit nie – daar is nie plek vir suur druiwe op ‘n goeie plaas nie.

Ek is versot op Boer soek ‘n Vrou. Kan nie wag om te sien hoe Leah die program aanbied nie!
#boersoeknvroufan

Driekie ·

Dit is vermaaklik…..maar die onnatuurlike ontmoetings maak dit on-eg… Sowat een uit dertig van die eind rontes se keuses werk op n verhouding, met moontlikhede vir toekomstige huwelik uit. Die boere/mans word in n posisie geplaas waar hulle kan kies en keur….Dames stel hulself bloot aan n “uitstalling’ met n bordjie om die nek wat vra “, kies my asb’ …(herhinner my aan osse wat by n veiling uitgestal word)… n bietjie vernederend vir die vroulike geslag is dit nie?

Bonsmara ·

@Driekie. Ja, soos wafers skousogte, en dan al die trane en sielkundige ontboeseming teenoor die aanbieder na die kiesery, wanneer boer se keuse nie op hulle val nie? Regtig! Wie gaan nou daar sit en opreg sê hoe goor dit is dat hulle nie die boeresportspan gemaak het nie? En die boere wat so ‘n “hellestryd” moet deurmaak om dié een te los en daai een te vat? Dis dan wat hy wou hê!!!Hoe raak iemand in elk geval verlief met kameras wat jou beloer? Dis so ver van ‘real’ af as wat kan kom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.