‘Boer soek ʼn vrou’: Dít soek boere in ʼn pasmaat

Dit is amper weer tyd om voor die kassie in te skuif vir die 11de seisoen van die gewilde kykNET-realiteitsprogram Boer soek ʼn vrou.

Dié keer reis die sangeres en aktrise Leah as aanbieder van die program van plaas tot plaas om die boere en hul potensiële pasmaats van naderby te leer ken.

Hierdie seisoen is daar weer 10 boere wat elkeen ʼn kans op die liefde waag. Maroela Media het gister oor vyf van die boere berig.

Hier is die ander vyf:

Boer Johan is een van die boere wat te sien is in die elfde reeks van Boer soek ʼn Vrou. Foto: Verskaf deur kykNET

Johan (30) boer met beeste op ʼn plaas naby Reivilo in Noordwes. Na matriek het Johan eers ʼn draai in die VSA gemaak en daarvandaan vir sy pa geld gestuur om vir hom ʼn stukkie grond en ʼn paar beeste aan te koop.

Kort ná sy terugkeer na Suid-Afrika is hy gekonfronteer met die uitdaging om die plaas alleen te bestuur toe sy pa sowat twee jaar gelede oorlede is.

Wanneer die plaaslewe hom nie besig hou nie, is hy ʼn mikrotuig-vlieënier en neem hy aan skietkompetisies deel. Oor naweke is daar altyd tyd om ʼn braai of ʼn troue by te woon. “Dit help om die stilte uit te doof,” sê hy.

Hy meen hy is romanties, en sy ideale pasmaat is ʼn vriendelike, spontane vrou met wie hy ʼn spesiale verbintenis deel. “Ek het ʼn hart vol liefde. As ander kyk, wil ek hê hulle moet jaloers wees, só goed gaan dit!”

Boer Duncan is een van die boere wat te sien is in die elfde reeks van Boer soek ʼn Vrou. Foto: Verskaf deur kykNET

Duncan (36) is ʼn beesboer in die Verkykersdorp-omgewing in die Vrystaat. Sy huistaal is Engels, maar hy kan Afrikaans en Zoeloe ook praat.

Hy beskryf homself as ʼn skamerige ou, maar ontdooi vinnig sodra hy gemaklik met iemand voel.

Vir ontspanning doen hy graag iets wat niks met boerdery te make het nie, soos om te gaan draf of muurbal te speel – al beteken dit hy moet 120 km aflê vir een pot muurbal!

Volgens Duncan moet sy ideale pasmaat uiteraard vir hom aantreklik wees. Hy bieg dat hy soms in sy dop in kruip in konfliksituasies en dat hy glo in ʼn sterk kommunikasie-basis.

Sy droomvrou is ʼn familiemens wat sy waardes deel en nes hy die buitelewe geniet.

Boer Cassie is een van die boere wat te sien is in die elfde reeks van Boer soek ʼn Vrou. Foto: Verskaf deur kykNET

Cassie (28) boer in Noord-KwaZulu Natal met beeste, mielies, pekanneute en soja. Sy pa is ʼn tandarts op Elandslaagte terwyl Cassie die fort op die plaas hou.

Hy hou hom oor naweke besig met aktiwiteite soos visvang en swem. Volgens hom kan hy pynlik eerlik en sarkasties wees, maar as jy gelukkig genoeg is om hom as vriend te hê, sal hy enigiets vir jou doen.

Dit was sy vriende wat hom so ver gekry het om in te skryf vir Boer soek ʼn vrou. “Ek is baie skaam, so as ek iewers heen gaan, dan weet ek nie wat om vir die vroue te sê nie!” lag hy.

Sy ideale maat het selfvertroue en is vroulik, aantreklik en saggeaard. “My ma en my sussie is vir my die mooiste vroue op die aarde en ek wil graag iemand hê wat soos hulle is.”

Boer Byron is een van die boere wat te sien is in die elfde reeks van Boer soek ʼn Vrou. Foto: Verskaf deur kykNET

Byron (28) bedryf ʼn hidroponiese boerdery in die omgewing van Kraaifontein in die Wes-Kaap. Hier word groente op ʼn moderne wyse met behulp van tegnologie wat help om water te bespaar, verbou.

Hierdie boer wil oplossings vir vandag se probleme soos voedselsekerheid en werkloosheid probeer vind en is tans besig om ʼn M.Phil-graad in omgewingsetiek te voltooi.

Hy is spontaan en sportief, vriendelik en hou van pret. Hy het al by die dames gehoor hy het “lekker skouers”.

Byron vertrou mense vinnig en dra sy hart op sy mou. “Ek maak baie keer my moue nat ook as ek by die dam werk, so ek hoop nou nie my hart verdrink in dié geval nie,” lag hy.

Sy ideale romantiese afspraak is ʼn piekniek op die plaas met die son wat agter Tafelberg sak. Hy is op soek na ʼn maat wat entoesiasties is oor die lewe, selfstandig is en hom sal uitdaag.

Boer André is een van die boere wat te sien is in die elfde reeks van Boer soek ʼn Vrou. Foto: Verskaf deur kykNET

André (35) boer tussen Colesberg en Noupoort met skape en angorabokke. Skeertyd is vir dié boer die lekkerste tyd, maar hy reis, jag en luister graag musiek.

Werk is sy passie en al hou die plaaslewe hom besig, vind OVK-veilings in die Noord- en Oos-Kaap dikwels onder André se hamer plaas.

Hy het elf lojale honde wat hom elke keer wat hy tuis kom geliefd en spesiaal laat voel.

André glo die vrou is die hart van die huis, maar dit beteken nie die huis of kombuis gaan hom nooit sien nie. “Ek wil nie graag skottelgoed was nie, die masjien kan dit maar doen, maar ek wil help kos maak,” vertel hy.

Hy is ook nie bang vir ʼn langafstandverhouding nie en meen sy ideale pasmaat moet sy positiewe lewensuitkyk en passie vir flieks deel. “Ek is gek oor romantiese komedies,” verklap hy.

Skakel vanaf dié week elke Donderdag om 20:00 op DStv-kanaal 144 in vir ’n nuwe episode van Boer Soek ’n Vrou.

Bron: kyknet.dstv.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.