‘Boer soek ʼn vrou’: Goeie nuus vir deelnemers

Boer Schalk is een van die boere wat te sien is in die elfde reeks van Boer soek ʼn Vrou. Foto: Verskaf deur kykNET

Om jou hart in ʼn brief uit te stort en dié brief aan ʼn wildvreemde boer doer in die verte te stuur, is geen maklike taak nie. Daarom gee kykNET nou vir voornemende deelnemers in dié kanaal se gewilde Boer soek ʼn vrou-werklikheidsreeks nóg tyd om eers meer moed bymekaar te skraap.

Diegene wat ʼn oog op die boere in die jongste seisoen het, het nou tot 27 April om middernag om hul briewe aan die boere te stuur – dít nadat die sperdatum aanvanklik sewe dae vroeër was.

Wilmer Müller, publisiteitsbestuurder van die program, sê dié besluit kom ná talle versoek van die publiek. “kykNET en die vervaardigers het talle versoeke ontvang om die inskryfperiode te verleng,” sê hy. “Talle was weg met vakansie en is nou bang hulle het te min tyd om hul briewe betyds klaar te kry.”

Maroela Media het vroeër vandeesmaand vanjaar se lys boere bekend gemaak. Die ouderdomme van die boere wissel tussen 23 en 36 jaar oud. Daar is vanjaar weer ʼn vroue-deelnemer onder die top-tien. Ses van die boere is van die Noord-Kaap, Oos-Kaap en Limpopo. Die ander vier boere is van die Wes-Kaap, Noordwes, KwaZulu-Natal en die Vrystaat.

Die Afrikaanse sangeres en aktrise Leah is vanjaar as die aanbieder van Boer soek ’n vrou te sien. Kykers sal van Oktober die vyf boere wat die meeste briewe ontvang het se liefdesreis op kykNET kan volg.

Vir meer inligting, stuur ʼn e-pos na [email protected] of besoek die kykNET-webwerf. Jy kan ook die vervaardigers direk skakel by 079 335 5137.

Lees meer oor vanjaar se boere op Maroela Media. Lees ook wat Leah oor haar nuwe uitdaging as aanbieder te sê het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.