‘Boer soek ’n vrou’: Hier is seisoen 15 se boere

Marciel Hopkins, aanbieder van die program. (Foto: Verskaf)

Die gewilde Afrikaanse maatsoekprogram Boer soek ’n vrou kuier dié jaar al 15 jaar op die kassie en die tyd het aangebreek om hierdie seisoen se tien boere te ontmoet.

Dié tien boere, van wie nege mans en een hen onder die hane is, is in die eerste episode van die 15de seisoen op Sondag 3 Julie op kykNET, DStv-kanaal 144, aan kykers en voornemende deelnemers bekendgestel.

Die program se sprankelende aanbieder, Marciel Hopkins, het opgewonde aan Maroela Media vertel dat sy gek oor die nuwe boere is.

Sy vertel dat dié jaar se groep boere, wat onder meer uit ses provinsies afkomstig is, tussen die ouderdomme van 25 en 50 is, en energiek en vol lewenslus is.

“Hulle het ongelooflik lekker persoonlikhede; die een praat meer as die ander.”

Sy voeg by dat elke boer wat vanjaar op die kassie te sien is, ’n unieke en diverse sin vir humor het.

Die verskeidenheid ouderdomsgroepe waarin die boere dié jaar val, maak haar veral opgewonde.

“Verlede jaar was daar heelwat boere wat in dieselfde ouderdomsgroep geval het; hierdie jaar is daar iets vir almal.”

Diegene wat graag wil inskryf, kan kies en keur tussen ’n uiteenlopende groep boere uit verskillende provinsies, van verskillende ouderdomme en wat hulle op verskillende soorte boerderye toespits.

“Ons het vir die eerste keer in 15 jaar ’n volstruisboer op die program,” het Hopkins opgewonde vertel.

Hier is vanjaar se tien boere:

Cherié (34) is van Herbertsdale in die Wes-Kaap en het ʼn gemengde en kleinveeboerdery.

David (31) is van Augrabies in die Noord-Kaap en het ʼn tafeldruiwe- en sitrusboerdery.

Francois (50) is van Oudtshoorn in die Wes-Kaap en het ʼn gemengde en volstruisboerdery.

Hennie (35) is van Moorreesburg in die Wes-Kaap en het ʼn graan- en merinoboerdery.

Kotie (43) is van Harrismith in die Vrystaat en het ʼn gemengde saai- en beesboerdery.

Louis B (26) is van Ottosdal in Noordwes en het ʼn saai- en beesboerdery.

Louis M (26) is van die Mabula-gebied in Limpopo en het ʼn wildsboerdery.

Philru (26) is van Petrus Steyn in die Vrystaat en het ʼn beesboerdery.

Rampie (29) is van Modderrivier in die Noord-Kaap en het ʼn jag-, wild-, en boerbokboerdery.

Riaan (40) is van Nigel in Gauteng en het ʼn saaiboerdery.

Diegene wat vir een van die top-tien‑boere ’n brief wil skryf, moet ouer as 21 wees en ongetroud, geskei of ’n weduwee of wewenaar wees. Inskrywings moet voor middernag op 28 Julie ingedien word.

Persone wat die boere beter wil leer ken, kan dit op een van die volgende maniere doen:

– Skryf in op kykNET se webtuiste by www.kyknet.tv,

– Bel die vervaardigers, Wolflight, by 079 614 2229

– Stuur ’n e-pos na [email protected]

Digitale inskrywings, wat ook deur ’n video vergesel kan word, is welkom. Voornemende pasmaats sal ook briewe of pakkies per koerier vir die boere kan stuur na een van dié twee adresse:

  • Boer Soek ʼn Vrou, PostNet 211, Privaatsak X15, Somerset-Wes 7129
  • Coronation-laan 11, Somerset-Wes 7130.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.