‘Boer soek ʼn vrou’: Hierna kan jy Donderdag uitsien

Minki van der Westhuizen (Foto: Facebook)

kykNET se boere-kupido’s soek al vir een dekade lank liefde vir Suid-Afrikaanse boere. Donderdag gaan dié soektog voort wanneer die tiende seisoen van Boer soek ʼn vrou na die kassie terugkeer.

Op die aandrang van kykers wat gereeld vra wat van dié gewilde reeks se vorige deelnemers geword het, gaan die jongste seisoen in dié reeks se eerste drie episodes ’n terugblik gee oor vorige reekse – en veral wat die stand van sake van dié boere se liefdeslewe is.

Die boere van vorige seisoene wat in Donderdagaand se episode sal verskyn, is onder meer boer Ludwig van die tweede seisoen, boer Jacobus van die derde seisoen, boer Hubert van die vyfde seisoen en boer Gerrie van die sewende seisoen.

Kykers kan vanaf 2 November vir die daaropvolgende 13 weke (tot 25 Januarie 2018) daarna uitsien om saam met Minki van der Westhuizen, wat vir die tweede keer die reeks aanbied, die nuwe boere se soeke na liefde te volg.

Van der Westhuizen het voorheen in ʼn onderhoud met Maroela Media vertel sy is nog altyd ʼn voorstander van die liefde, maar dié reeks het haar oortuig dat liefde op enige wyse sy ontstaan kan hê. “Ek was ook maar soos ander mense skepties oor mense wat lief en verlief raak op die kassie,” terg sy. “Maar nou het ek eerstehandse ervaring om te sien dat dit werklik werk. Ek staan verstom oor die nuwe reeks. Sonder om te veel te verklap, wil ek noem dat kykers duidelik die verliefdheid in dié reeks gaan opmerk. En dis real, daar is niks aangeplak daaraan nie.”

Volgens haar kan kykers uitsien na meer liefdesverhale as voorheen. Daar is boonop intieme oomblikke tussen die boere en die meisies soos ʼn “skelm soen hier en daar”. “Die jongste reeks het baie interessante kinkels en dit verloop baie lekker. Daar is weer oomblikke wat niemand gaan verwag nie. Dan is daar natuurlik ook die indrukwekkende landskappe. In die vorige seisoen het die pragtige Oos-Kaap my beïndruk en in dié reeks is dit Loeriesfontein in die Noord-Kaap. Dit gaan ʼn treffer wees; almal moet gereed sit.”

Boer soek ʼn vrou is Donderdag op kykNET, DStv-kanaal 144, te sien. Lees meer oor dié reeks op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.