‘Boer soek ʼn vrou’: Hierna kan jy uitsien

Boer soek ‘n Vrou a(Foto: Verskaf)

Die tiende seisoen van die gewilde Boer soek ʼn vrou-werklikheidsreeks word binnekort op kykNET uitgesaai.

Die tien finaliste wat in dié reeks gaan deelneem is in Mei vanjaar bekend gemaak.

kykNET het vroeër gesê die jongste reeks hou talle verrassings in. Die reeks gaan onder meer drie episodes bykry wat ’n terugblik gaan gee oor die vorige nege seisoene.

Hier is ʼn opsomming van wat jy kan verwag in die reeks:

Episode een – Minki ontmoet die tien boere

Tien hubare boere soek metgeselle. Dié opwindende realiteitsreeks, aangebied deur Minki van der Westhuizen, volg die boere se soeke na die liefde. Minki deurkruis die land om die boere op hul plase te ontmoet. Sy vind uit waarmee hulle boer, wat hul belangstellings is en waarna hulle in ʼn lewensmaat soek.

Episode twee – Die briewe
Minki lewer die boere se briewe by hulle af. Die possakke bult behoorlik met foto’s, briewe, liefdesverklarings en geskenkies. Die boere se familie en vriende kom help lees en help die boer om die briewe te sorteer. Die vyf boere wat die minste briewe ontvang, hou ál hul briewe en hulle kan enige van die briefskrywers kontak. Die vyf boere wat die meeste briewe kry, moet elkeen tien vroue uit al die briefskrywers kies wat hulle volgende week tydens ʼn blitsafspraak in Kaapstad wil ontmoet.

Episode drie – Blitsafsprake
Die dames kom van heinde en verre vir ʼn kort maar kragtige kennismaking met die boer van hul keuse. Elkeen van die boer se dames kry presies vyf minute om met haar boer te gesels. Aan die einde van dié opwindende dag kies ons vyf boere vyf vroue elk, wat hulle graag beter wil leer ken.

Episode vier: “Die boere gaan op ʼn uitstappie!”
In episode vier vier gaan die boere op ʼn uitstappie met die vyf vroue wat hulle verlede week ná die blitsafsprake gekies het. Minki het vir elke boer ʼn gesellige dag gereël sodat hy die vyf vroue beter kan leer ken. Aan die einde van die dag moet die boer weer ʼn moeilike keuse maak, want hy mag net drie vroue nooi om by hom op die plaas te kom kuier.

Episode vyf: “Die kuier op die plaas”
Minki gaan maak ʼn draai op die plase voordat die dames arriveer. Sy gesels met elke boer oor sy voorbereidings vir die vroue se besoek. Dan breek die groot oomblik aan – skielik is daar nie net beeste, vrugte en skape op die plase nie, maar ook drie vroue! Hulle gaan vir ʼn week lank saam met die boer woon en werk, terwyl die boer moet besluit watter een van die drie moontlik die liefde van sy lewe kan wees.
Episode ses: “Die kuiergaste leer mekaar beter ken”
Die boere leer hul kuiergaste beter ken. Hy stel hulle aan die plaaslewe bekend en wys wat sy boerdery behels. Die drie vroue kyk die kat eers goed uit die boom (of is dit nou die boer uit sy bakkie?). Hulle moet die boer beïndruk, maar terselfdertyd hulself afvra of hulle gereed is om ʼn boer se vrou te wees. Die boer moet mooi na die interaksie tussen die dames kyk, want hy moet binnekort weer een huis toe stuur.

Episode sewe (1 Desember): “Wie gaan eerste huis toe?”
Ná ʼn dag of wat op die plaas, moet een van die drie vroue huis toe gaan. Die boer moet besluit watter een van sy kuiergaste haar tasse moet pak. Makliker gesê as gedaan! Hy het gesien hoe al drie vroue in sy wêreld inpas en tyd gehad om hulle beter te leer ken. Wie gaan die boer vra om te bly? Dalk is daar ʼn vrou wat nie langer op die plaas wil bly nie…

Episode agt: “Twee kuiergaste bly oor”
Daar is net twee vroue op die plaas oor. Die spanning is vir eers gebreek en die boer en die vroue kan lekker saamkuier. Die boerdery-aktiwiteite gaan voort en die vroue spring in om te help. Dit is ook die dag wat elkeen van die dames ʼn geleentheid kry om alleen tyd met die boer te spandeer. Die boere nooi ook vriende en familie oor vir ʼn gesellige kuier sodat hulle die vroue kan ontmoet.

Episode nege: “Die laaste dag”
Dit is die laaste dag op die plaas. Die spanning laai op, want elke boer moet binnekort weer ʼn keuse maak. Dit is die vroue se laaste kans om die boer se hart te wen. Party van die boere sukkel om hul emosies te verwoord en ander gesels openhartig oor hul gevoelens. Een ding is egter seker: Vrou-soek is ʼn ernstige saak!

Episode tien: “Die finale keuse”
Dis tyd vir die boer om te besluit: Watter vrou wil hy nog beter leer ken? Is albei dames nog gretig om die boer se vrou te word? Minki vind uit op watter plase die liefde vol in die blom staan. Vandag kies die boer dié vrou wat moontlik die liefde van sy lewe kan wees. Die liefde is egter onvoorspelbaar en ʼn mens weet nooit wat hierdie dag sal oplewer nie.

Episode 12: “Ontmoet die skoonfamilie”
Dit is tyd vir die boere om hul gekose vroue se familie en vriende te ontmoet. Sy wys hom haar woon- en/of werkplek. Vir die eerste keer is sy tuis in haar omgewing en die boer soos ʼn vis uit die water. Het hy die regte keuse gemaak? Is boer en vrou bedoel vir mekaar? As die kennismaking met die skoonfamilie goed afloop, is daar dalk hoop vir ʼn gelukkige toekoms saam…

Episode 12: “Vakansietyd”
Die boere en hul dames gaan hou vakansie op ʼn romantiese bestemming. Is al die paartjies nog bymekaar of het sommige se paadjies reeds geskei? Al die paartjies kuier ook saam en ruil stories oor hul ervarings uit. Minki gesels met almal om uit te vind waar daar moontlik ʼn langtermynliefde kan ontwikkel.

Episode 13: “Die reünie” – wie is nog bymekaar?

Al tien boere kom vir ʼn laaste keer byeen. Minki kuier saam en hoor by die boere hoe hulle die reeks ervaar het. Sy vind uit of daar onder die vyf boere wat die minste briewe ontvang het, iemand is wat liefde gevind het. Watter paartjies stap nog hand aan hand en wie is steeds alleenlopers? Die gesellige dag word afgesluit met ʼn heildronk op die liefde en geluk.

Lees meer oor Boer soek ʼn vrou op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Liza101 ·

Kan nie wag nie! Hoop die keer het die dames vir die regte redes geskryf! As jy nie vani plaas hou nie, moenie skryf nie asb!

Jakalas ·

Stem saam met jou Liza. Mens raak maar kwaad as hulle wil terug draai en sê die plaas lewe is nie vir hulle nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.