‘Boer soek ʼn vrou’: Hubare boere binnekort te sien

Marciel Hopkins. (Foto: Sulet Fourie)

Kykers van die gewilde Afrikaanse maatsoekreeks Boer soek ʼn vrou kan binnekort weer voor die kassie inskuif om vanjaar se boere te ontmoet.

Aanbieder Marciel Hopkins stel Sondag 19 Julie die oes van die 13de seisoen se boere aan die land voor. Ná afloop van die episode sal inskrywings vir potensiële pasmaats open.

As gevolg van die afsonderingperiode om die verspreiding van die koronavirus te bekamp is die verfilming van die nuwe seisoen vertraag. Hopkins sê sy is daarom opgewonde om uiteindelik die tien hubare boere bekend te stel.

“Ek sien al so lank uit na die verfilming van die nuwe seisoen en ek is só dankbaar die tyd het uiteindelik aangebreek om daarmee te kan begin. In ʼn onsekere tyd soos nou is Boer soek ʼn vrou ʼn wonderlike geleentheid vir enkellopendes om iemand nuut in persoon te ontmoet – iets wat hulle nie tydens die inperking sou kon doen nie,” sê Hopkins, wat ook ʼn lewensafrigter en internasionale model is.

Volgens Wilmer Müller, woordvoerder van die program, moes die vervaardigers met vindingryke planne vorendag kom om die verfilming van die reeks aan te pak.

“Die veiligheid van die deelnemers en die produksiespan geniet te alle tye voorkeur en talle streng maatreëls is getref om dit te verseker,” sê hy.

Anders as met vorige seisoene sal slegs digitale inskrywings wat deur ʼn video vergesel kan word aanvaar word. Handafgelewerde briewe en pakkies sal nie vir die boere aangestuur kan word nie.

“Ons is seker diegene wat ʼn oog op ʼn boer het, sal steeds kreatief kan raak met hul inskrywings,” voeg Müller by.

Vorige seisoene van die reeks is van Oktober tot Januarie uitgesaai, maar hierdie reeks sal vroeg in 2021 op kykNET afskop weens die vertraging van die verfilming. Die seisoen sal steeds uit 13 episodes bestaan en oudergewoonte fokus op die vyf boere wat die meeste inskrywings ontvang.

Die loodsepisode van Boer soek ʼn vrou is op Sondag 19 Julie om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, te sien. Die 13de seisoen word van Donderdag 21 Januarie 2021 op kykNET uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.