‘Boer soek ʼn vrou’: Leah se prettigste, uitdagendste rol nóg

Leah (Foto: Facebook)

Haar nuwe rol as aanbieder van die gewilde kykNET-werklikheidsreeks Boer soek ʼn vrou is ʼn droom wat bewaarheid is, vertel die sangeres Leah – maar in baie opsigte is dié rol ook die uitdagendste een wat sy nóg aangepak het.

Sy is dankbaar én kinderlik opgewonde, vertel ʼn borrelende Leah in ʼn onderhoud met Maroela Media. Die goeie nuus bly ook net instroom: Eers slaan sy die hoofrol in ʼn nuwe Afrikaanse fliek los, toe volg die nuus dat sy die vyfde aanbieder van Boer soek ʼn vrou gaan wees, en nou het sy pas ook gehoor die musiekvideo vir haar liedjie “Volmaan” is meer as een miljoen keer op YouTube gekyk.

Die sangeres sê dit is beslis nóú die opwindendste tyd in haar lewe – en sy lewe vir elke oomblik. “Toe ek aanvanklik gehoor het dat ek vir die oudisie moes gaan, het ek nie eens twee keer daaroor nagedink nie,” vertel sy. “Dit was ʼn droom om selfs net genooi of vir die aanbiedingspos in ag geneem te word. Nou is dit ʼn selfs groter droom om die aanbieder te wees.”

Leah (Foto: Facebook)

Die oomblik dat sy die nuus gekry het dat sy as die nuwe aanbieder op die kassie te sien gaan wees, is waarskynlik een van die grootstes nóg in haar lewe. “Toe ek die nuus gehoor het, wou ek so hard moontlik skree. Dit was so frustrerend, want ek kon nie skree nie aangesien ek my stem moes laat rus. Maar dit was ʼn groot oomblik; ek het uitgebars in trane en verskriklik emosioneel geraak. Dit is ʼn wonderlike geleentheid.”

Die verfilming vir die jongste reeks het reeds begin. Leah vertel sy sou nooit kon droom dat dié reis tegelykertyd só opwindend en uitdagend sou wees nie. “Ons sien die wonderlikste plekke. Ons ry vandag deur die Oos-Kaap – ek sien werklik plekke waarvan ek in my ganse lewe nog nooit gehoor het nie, en beslis nog nie vantevore gesien het nie! Die verfilming is tot dusver ʼn wonderlike reis. Die boere is almal warm en vriendelik en ons het hope pret wanneer ons nié op die pad is nie. Ek is maar ʼn groot chatter – ek moet mooi fokus om dit in beheer te hou,” terg sy.

Sy sê aanhangers kan vanjaar uitsien na baie diversiteit op die kassie. “Nes die plekke wat ons besoek baie verskillend en uiteenlopend is, is die boere ook. Hulle is almal wonderlik en oulik, maar verskil baie van mekaar. Ek dink hierdie reeks gaan ʼn gróót sukses wees en ek wil graag my eie stempel daarop afdruk deur heeltyd net myself te wees.”

Leah se raad aan diegene wat vir die boere ingeskryf het: “Wees net jouself,” sê sy streng. “Wees eerlik oor wie jy is en moenie ʼn front opsit nie. Moenie ʼn verwagting skep oor iemand wat jy nie werklik is nie. As jy op die reeks is, moet dit om die regte redes wees – en dán moet jy net kom om dit te geniet.”

Inskrywings vir die 11de reeks van Boer soek ʼn vrou het reeds in Februarie gesluit. Dit is nog nie duidelik wanneer die nuwe reeks op die kassie te sien sal wees nie.

Lees meer oor Boer soek ʼn vrou op Maroela Media.

Leah (Foto: Facebook)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Vraagteken ·

Goeiedag,

In jou eerste sin is ‘goeiedag’ verkeerd gespel. Dit is een woord in plaas van twee woorde.

En waar is jou punt? En die woord ‘die’ is nie teenwoordig voor 5 nie.

Jue ·

Weet nie wie dié besluit geneem het om haar aantestel nie, sal nie na een episode kyk nie.

Wessie ·

Dis maar goed so!
Ons ander sal ons verlustig in elke episode…

Pietman ·

Tyd raak min, binnekort sal die naam moet verander na ” Boer mis sy plaas”

Ellisras ·

Ek hoop sy BIED die program aan. En sien dit nie as ‘n rol wat sy moet speel of oorspeel nie. Aktrises is gewoonlik nie goed met die sport ding nie.
Die ding is daar is geen kyker terugvoer nie. Die program is klaar as die eerste episode uitgesaai word.

leser ·

“jk” en “lees”, indien julle sulke taalbewustes is, vra MM om julle die skryfwerk te laat doen, julle het seker nog nooit ‘n fout gemaak nie. lees gerus die Bybel van die splinter en die balk

Vraagteken ·

Leser, ek dink nie JK het besef dat sy ook ‘n fout gemaak het nie. Dit is Goeidag i.p.v. goeie dag. Alle groetwoorde is een woord in plaas van twee woorde.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.