Boer soek ʼn vrou: Leer ken vanjaar se boere

Maroela Media het ʼn paar vinnige vrae gestel aan die boere van die 14de seisoen van die Boer soek ʼn vrou-maatsoekreeks op kykNET. Die seisoen word weer deur Marciel Hopkins aangebied.

Leer saam met ons dié tien hubare boere beter ken:

Willem (37), Philippolis, Vrystaat, skaap- en beesboerdery

Willem. (Foto: kykNET)

Wat is jou gunstelingkos en wat eet jy glad nie?

My gunstelingkos is beeshaas. Ek eet amper alles, behalwe Brusselse spruitjies.

Hou jy van reis?

Ek hou van reis, meer in Suid-Afrika, want ek’s bang vir vlieg en hou van pretritte. My gunstelingplek is die Kaap.

Wat is jou gunstelingmusiek en waarna luister jy glad nie?

Ek hou baie van musiek en luister na alles behalwe boeremusiek.

Verklap iets interessants oor jouself?

My vriende gaan my moeilikheid gee, maar ek hou van ʼn romantiese komedie.

Watse bakkie ry jy?

Toyota Hilux.

Watse honde het jy en wat is hulle name?

Ek het ʼn Deense hond met die naam Juka, ʼn Jack Russell genaamd Spotty en ʼn steekhaar-terriër genaamd Bruno.

Watter eienskap in ʼn pasmaat trek dadelik jou aandag?

As ʼn vrou skerp en snaaks is, voel ek dadelik op my gemak en alles val van daar af in plek.

Albertus (38), Calvinia, Noord-Kaap, skaapboerdery

Albertus. (Foto: kykNET)

Wat is jou gunstelingkos en wat eet jy glad nie?

My gunstelingkos is braaivleis, beeshaas en skyfies en natuurlik ook my ma se egte boerekookkos. Ek eet glad nie goed soos brandrissies wat my mond brand nie.

Hou jy van reis?

Ek hou van rondry in die land, om na verskillende boerderye te kyk en om te jag in verskillende streke. Ek hou daarvan om by die see te gaan visvang.

Wat is jou gunstelingmusiek en waarna luister jy glad nie?

Appel se musiek is die beste. Ek hou van Afrikaanse en countrymusiek.

Verklap iets interessants oor jouself?

Ek is bang om te vlieg in ʼn vliegtuig of ʼn helikopter.

Watse bakkie ry jy?

Ek ry ʼn Toyota Hilux en ʼn Ford. Die Hilux is my gunsteling.

Watse honde het jy en wat is hulle name?

Ek het drie skaaphonde, Ben, Oubaas en Roxy. Ek het ook ʼn jaghond, Sproete, en ʼn boerboel, Nakita. Daar is ook ses klein hondjies wat tans huis soek.

Watter eienskap in ʼn pasmaat trek dadelik jou aandag?

Ek hou van ʼn vrou wat lekker kan gesels en grappe maak en wat ʼn gemaklike mens is.

Carel (29), Perdekop, Mpumalanga, gemengde en saaiboerdery

Carel. (Foto: kykNET)

Wat is jou gunstelingkos en wat eet jy glad nie?

Ek hou van ʼn heerlike bord gekookte kos. Daar is ook darem niks lekkerder as ʼn skaaptjoppie op die vuur saam met ʼn braaibroodjie nie. Ek eet glad nie olywe nie.

Hou jy van reis?

Ek hou van reis en om nuwe plekke in Suid-Afrika te ontdek. Ek maak nie altyd tyd daarvoor nie. Elke deel van ons land het sy eie mooi.

Wat is jou gunstelingmusiek en waarna luister jy glad nie?

Ek luister na enige Afrikaanse en countrymusiek. Luke Bryan en Kip Moore is my gunstelingkunstenaars. Ek luister glad nie na harde rockmusiek, jazz en opera nie.

Verklap iets interessants oor jouself?

Gee my ʼn kans en ek dans!

Watse bakkie ry jy?

Toyota Hilux – die bakkie agter die boer!

Watse honde het jy en wat is hulle name?

Ek het ʼn Australiese beeshond en sy naam is Bees.

Watter eienskap in ʼn pasmaat trek dadelik jou aandag?

Ek hou van iemand met ʼn sprankelende en energieke persoonlikheid. Sy moet ʼn glimlag op almal se gesigte kan sit wanneer sy die vertrek binnestap. ʼn Paar mooi, atletiese bene sal ʼn bonus wees!

Mary-Lou (53), Paarl, Wes-Kaap, wynboerdery

Mary-Lou. (Foto: kykNET)

Wat is jou gunstelingkos en wat eet jy glad nie?

Ek hou van alle kos, veral as iemand anders dit maak.

Hou jy van reis?

Ek is gek oor reis. My gunstelingbestemming waar ek al was, is Tibet. Ek hou ook daarvan om tyd in Ierland by familie deur te bring. Ek sal baie graag Machu Picchu in Peru wil besoek. Ek wil ook graag Kilimandjaro uitklim en die Camino stap.

Wat is jou gunstelingmusiek en waarna luister jy glad nie?

Ek luister na die meeste musiek, van rock tot reggae tot bluegrass. Ek hou nie van die musiek waarna my tieners luister nie.

Verklap iets interessants oor jouself?

Op 53 is ek ʼn oop boek – ek het geen geheime nie en wat jy sien, is wat jy kry.

Watse bakkie ry jy?

My Land Rover sal al die Ford Rangers uit die moeilikheid kan help.

Watse honde het jy en wat is hulle name?

Daar is drie honde op die plaas: Molly, ʼn DBV-hond, Sophie, ʼn boerboel, en Sparkpug, ʼn mopshond. Daar is ook twee Transkei-varke wat dink hulle is honde, Sir Oinks-a-lot en Big Mama.

Watter eienskap in ʼn pasmaat trek dadelik jou aandag?

Ek hou van iemand wat eerlik en avontuurlustig is met ʼn goeie sin vir humor en wat hou van die buitelug.

Johan (28), Marquard, Vrystaat, saai- en veeboerdery

Johan. (Foto: kykNET)

Wat is jou gunstelingkos en wat eet jy glad nie?

My gunstelingkos is beslis pizza. Ek is nie lief vir vis of “snaakse” kos nie en ek eet ook nie afval nie.

Hou jy van reis?

Ek hou baie van reis. My gunstelingbestemmings is Amerika en Namibië.

Wat is jou gunstelingmusiek en waarna luister jy glad nie?

Ek luister graag na countrymusiek. Ek luister nie na klassieke musiek nie. Die res hang maar af van die atmosfeer.

Verklap iets interessants oor jouself?

Toe ek drie jaar oud was, het ek ʼn deel van twee van my vingers verloor in ʼn ongeluk. Ek het ʼn soettand.

Watse bakkie ry jy?

Toyota Hilux.

Watse honde het jy en wat is hulle name?

Jessie, my Jack Russell, kom al saam met my van my studentedae af. En ek het ʼn skaaphond, Abby.

Watter eienskap in ʼn pasmaat trek dadelik jou aandag?

Ek hou van iemand met ʼn groot passie vir wat sy doen. Iemand wat seker is van haarself, maar saggeaard is; selfstandig, maar nie oordonderend nie.

Nelis (31), Vaal Marina, Gauteng, veeboerdery

Nelis. (Foto: kykNET)

Wat is jou gunstelingkos en wat eet jy glad nie?

Ek is mal oor ʼn droog-verouderde riboog-beeshaas met murgbene bo-oor van ʼn bekende restaurant, The Fat Butcher, in Stellenbosch. Ek eet glad nie afval, lewer en niertjies nie.

Hou jy van reis?

Ek is verslaaf aan die onbekende en is mal daaroor om nuwe plekke te ontdek. My gunstelingplek is rondom Stampriet in Namibië; die mense en die natuur het ʼn warm hart. Natuurlik bly Londen in Engeland ook ʼn gunsteling – goeie kos, goeie klere en ʼn energie wat in die somer in die strate heers.

Wat is jou gunstelingmusiek en waarna luister jy glad nie?

My musieksmaak is uiteenlopend. Ek luister van klassieke musiek tot harde rock. Gewoonlik is Johnny Cash, Fleetwood Mac en The Doors reg in my kraal. Op die oomblik is Neil Sandilands se nuwe album my gunsteling. Ek is ʼn bietjie sku vir R&B en ravemusiek.

Verklap iets interessants oor jouself?

Ek hou van goeie klere koop, veral pasgemaakte pakke.

Watse bakkie ry jy?

Land Cruiser.

Watse honde het jy en wat is hulle name?

Ek het ʼn Duitse korthaar-pointer genaamd Patrys. Sy is amper gereed vir hondeskool.

Watter eienskap in ʼn pasmaat trek dadelik jou aandag?

Intelligensie, mooi oë en ʼn glimlag en die energie om voluit te lewe.

Tyson (33), Bergville, KwaZulu-Natal, saai- en beesboerdery

Tyson. (Foto: kykNET)

Wat is jou gunstelingkos en wat eet jy glad nie?

Ek hou baie van braaivleis. Ek is allergies vir kreef en garnale, so ek eet dit nie.

Hou jy van reis?

Ek hou baie van reis. My gunstelingbestemming is Oostenryk en om daar te ski in die sneeu. Plaaslik is ek gek oor Ballito en reis gereeld daarheen.

Wat is jou gunstelingmusiek en waarna luister jy glad nie?

Ek is gek oor countrymusiek. Ek hou nie van kletsrym nie.

Verklap iets interessants oor jouself?

Ek hou baie van braai en word beskou as die braaimeester in ons familie.

Watse bakkie ry jy?

Ford-bakkie.

Watse honde het jy en wat is hulle name?

Ek het ʼn Duitse korthaar-pointer genaamd Bullet en hy gaan oral saam met my op die plaas.

Watter eienskap in ʼn pasmaat trek dadelik jou aandag?

Iemand wat lief is vir God, wat weet wat hulle wil hê in die lewe en wat gemaklik is met wie hulle is. Die persoon moet ook gelukkig kan wees op die plaas en net die lewe saam met my doen.

Petre (25), Vierfontein, Vrystaat, gemengde boerdery

Petre. (Foto: kykNET)

Wat is jou gunstelingkos en wat eet jy glad nie?

My gunstelinggereg is enigiets wat oor die kole gebraai kan word. Ek is mal oor skaapstert, ribbetjies, boud of tjoppies. Ek is nie te vol fiemies nie en eet enigiets behalwe sop en groenrissie.

Hou jy van reis?

Ek is mal oor reis. My gunstelingbestemming is die Namibduine of êrens in Mosambiek. Ek geniet dit elke keer om ʼn nuwe plek te kan sien.

Wat is jou gunstelingmusiek en waarna luister jy glad nie?

Appel is my gunstelingkunstenaar. Ek geniet Afrikaanse musiek en Amerikaanse countrymusiek. Ek sukkel om na kletsrymers te luister.

Verklap iets interessants oor jouself?

Buiten goed braai en bokspap maak, is ek nutteloos wat kosmaak betref, hoewel ek graag sal wil leer.

Watse bakkie ry jy?

Toyota Hilux.

Watse honde het jy en wat is hulle name?

Ek het ʼn beagle en haar naam is Blommie. Die skaaphond se naam is Bella en die Amerikaanse veghond se naam is Tyson. Die twee Jack Russells se name is Cheetah en Langneus.

Watter eienskap in ʼn pasmaat trek dadelik jou aandag?

Die kenmerk in ʼn vrou wat heel eerste my aandag trek, is lewenslus. Sy moet hou van planne maak, nuwe dinge doen en die onbekende in die oë kyk. Sy moet lekker sosiaal en energiek wees. Sy moet mooi na haarself kan kyk en ʼn liefdevolle omgeehart hê.

Gerhard (30), Beaufort-Wes, Wes-Kaap, skaap- en wildboerdery

Gerhard. (Foto: kykNET)

Wat is jou gunstelingkos en wat eet jy glad nie?

Al is ek ʼn skaapboer, kan jy my omkoop met hoender. Ek is ook lief vir aartappels, lasagne en boerekos. Een ding wat jy my nooit sal sien eet nie, is soesji.

Hou jy van reis?

Ek hou van reis, veral na ons buurlande. My gunstelingbestemming is Mosambiek.

Wat is jou gunstelingmusiek en waarna luister jy glad nie?

Ek luister graag na Afrikaanse kunstenaars soos Jo Black, Spoegwolf, Bernice West en Theuns Jordaan. Ek luister glad nie na kletsrymers nie.

Verklap iets interessants oor jouself?

Jy kan my omkoop met enige soetgoed, veral sjokolade. Ek hou van aksierolprente. Ek is ʼn baie goeie skut en een van my stokperdjies is boogskiet.

Watse bakkie ry jy?

ʼn Toyota Hilux – die bakkie agter die boer.

Watse honde het jy en wat is hulle name?

My hond se naam is Vlooi. Sy is ʼn langhaar, langbeen- Jack Russell. Sy het haar naam gekry omdat sy verskriklik klein was en het 350 g geweeg toe ek haar op agt weke gekry het. Aanvanklik het ek gedink sy gaan nooit sterk genoeg word en groei nie, maar vandag is sy ʼn baie goeie en gehoorsame hond.

Watter eienskap in ʼn pasmaat trek dadelik jou aandag?

Ek hou van spontaneïteit en iemand wat gemaklik is met presies wie sy is. So iemand sal maklik inpas en maklik gesels. En ook vir my grappies lag!

Hannis (23), Brakfontein, KwaZulu-Natal, saai- en veeboerdery

Hannis. (Foto: kykNET)

Wat is jou gunstelingkos en wat eet jy glad nie?

Ek hou baie van Alfredo-pasta en hou glad nie van beesstert nie. Andersins is ek maklik wat kos betref.

Hou jy van reis?

Ek hou van reis en is baie lief vir Namibië. Ons het grond daar en ons breek gereeld weg soontoe.

Wat is jou gunstelingmusiek en waarna luister jy glad nie?

Ek luister na enige Afrikaanse musiek. Ek hou nie van rockmusiek nie, veral nie Engelse rock nie.

Verklap iets interessants oor jouself?

Ek luister musiek elke oggend in die stort voor ek met my dag begin. Ek is lief vir musiek en luister graag daarna terwyl ek my dag se dinge beplan.

Watse bakkie ry jy?

Toyota.

Watse honde het jy en wat is hulle name?

Ek het ʼn steekbaard- Jack Russell genaamd Patroon en ʼn gladdehaar- Jack Russell genaamd Duimpie. Ons het hom opgetel langs die pad en skerts dat hy duimgegooi het toe ons hom opgetel het.

Watter eienskap in ʼn pasmaat trek dadelik jou aandag?

Dit is vir my baie mooi as ʼn vrou mooi kan werk met die mense om haar, maak nie saak wie hulle is of wat hulle doen nie.

Nuwe reeks

Diegene wat vir een van dié boere ’n brief wil skryf moet ouer as 21 wees en ongetroud, geskei of ’n weduwee/wewenaar wees. Inskrywings moet voor middernag op 29 Julie ingedien word.

Persone wat die boere beter wil leer ken en wil inskryf, kan dit op een van die volgende maniere doen:

  • Skryf in op kykNET se webwerf by www.kyknet.tv
  • Skakel 079 335 5137
  • Stuur ’n e-pos na [email protected] (Let wel .media en nie .co.za nie)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Debbie

Ek dink Albertus gaan die meeste briewe kry op Boer soek n Vrou. Hy maak ons lag elke keer as hy op Kyknet verskyn :)