‘Boer soek ʼn vrou’: Marciel kuier op die plase

Marciel Hopkins het ‘n draai op die tien boere-deelnemers van vanjaar se seisoen van ‘Boer soek ‘n vrou’ gemaak. (Foto: kykNET)

ʼn Amerikaanse wynmaker in die hartjie van die Paarl, skattige boerbokkies en lammertjies en asemrowende sonsondergange het alles van die eerste episode van seisoen 14 van Boer soek ʼn vrou ʼn spesiale episode gemaak.

Dié episode het Donderdagaand op kykNET uitgesaai. Marciel Hopkins, die aanvallige donkerkop wat vanjaar weer die aanbieder van die reeks is, het ʼn draai op die tien boere-deelnemers van vanjaar se seisoen gemaak om hulle weer opnuut aan kykers voor te stel.

Eerste aan die beurt was Mary Lou, ʼn 53-jarige wynmaker van die Paarl, wat van die VSA na Suid-Afrika verhuis het en haar in die Wes-Kaap gevestig het.

Mary Lou is die enigste vrouedeelnemer aan vanjaar se seisoen van die reeks. Sy vertel sy hou van iemand wat eerlik en avontuurlustig is met ʼn goeie sin vir humor en wat hou van die buitelug.

“Ek sal daarvan hou om iemand te ontmoet wat ʼn werk het wat hulle baie geniet en waaraan hulle toegewyd is,” het sy aan Marciel gesê.

Daarna het Marciel kennis gemaak met Hannis, ʼn 24-jarige vee- en saaiboer van Brakfontein in KwaZulu-Natal.

Volgens Hannis trek ʼn vrou wat mooi met die mense om haar kan werk, dadelik sy aandag. “’n Vrou se oë praat met my, al gebeur dit nie gereeld nie,” het hy gesê.

“As ek ʼn ding doen, doen ek dit voluit. Ek wil nie iemand hê wat my terug hou nie, ek wil iemand voor my hê wat my trek.”

Marciel het volgende op Tyson, ʼn 33-jarige saai- en beesboer van Bergville in KwaZulu-Natal, se plaas gekuier.

Tyson het langs die viswaters teenoor Marciel erken dat hy daarvan hou dat elke ding sy plek het en dat dit vir hom ʼn aanpassing sal wees om ʼn vrou in sy spasie toe te laat.

Dit maak hom egter opgewonde om met sy deelname aan Boer soek ʼn vrou ʼn kans op die liefde te waag.

“Dit maak my opgewonde dat ek dalk my lewensmaat, my vrou, kan ontmoet,” het hy gesê.

Die plaaspad het Marciel volgende na die 30-jarige Gerhard se skaap- en wildsplaas op Beaufort-Wes in die Wes-Kaap gelei.

Gerhard en Marciel het klokkies om die skape se nekke gehang en sy het ook ʼn band gevorm met ʼn skattige perdjie op die plaas.

Volgens Gerhard is hy op soek na ʼn vrou wat dieselfde liefde deel vir diere as wat hy koester. “Dit sal vir my wonderlik wees om iemand te hê wat my passie deel en wat die klein diertjies net so baie geniet soos wat ek doen.”

Daarna het sy op die 30-jarige Carel se gemengde en saaiboerdery op Perdekop in Mpumalanga gedraai.

Carel het teenoor Marciel gebieg dat hy baie skaam is en dat hy nie sommer sosiale geleenthede uit sy eie bywoon nie.

“Ek sal eerder op die plaas bly vir ʼn naweek en myself besig hou. Ek is nie iemand wat ʼn gesprek sal begin met ʼn vreemdeling nie. Die toekoms, dit wat volgende gaan gebeur, maak my bang. Ek hou daarvan om te weet wat is die volgende stap en wat volgende gaan gebeur en as ek nie weet nie, is ek geneig om myself te onttrek.”

Wat hom egter baie opgewonde maak, is ʼn vliegtuig en hy het met sy eie ligte vliegtuig gespog. “Dit is my trots. Ek hoop ek is eendag so lief vir my vrou soos ek vir haar is,” het hy geskerts.

Die 32-jarige Nelis, ʼn veeboer van die Vaal Marina in Gauteng, het sy Brahman-beeste aan Marciel voorgestel en haar selfs aangemoedig om hulle in te spuit, al het sy kop uitgetrek.

Hy het aan Marciel gesê dat hy glo hy sal weet wanneer ʼn vrou oor sy pad kom wat sy hart gaan laat vermurwe.

“Ek sal die vertroue kan lees. As dit daar is, sal ek weet of daar ʼn konneksie is en dan sal ek weet of ek ʼn kans kan waag. As jy jou vrou se held is, kan jy die beste wees wat jy moet wees en dan wen jy,” het hy gesê.

Johan, ʼn 29-jarige saai- en veeboer van Marquard in die Vrystaat, het vir Marciel gewys hoe om vas te stel of mielies gereed is om geoes te word.

Hy het ook aan haar gesê hy was vroeër in sy lewe versigtig om sy hart op die spel te plaas en dat hy altyd die plaas eerste gestel het.

“Destyds het ek my volle aandag aan die plaas gegee en ek het agtergekom ek verloor die vroue hier rondom plant tyd,” het hy gelag.

“Sodra ek my fokus op die plaas gerig het en besig geraak het met plant- of oestyd, het die vroue gedink ek het verander, maar ek het eintlik net besig geraak. As ek dit nie ordentlik doen nie, gaan ek volgende jaar nie meer hier wees nie.”

Op Vierfontein in die Vrystaat, waar Petré (26) ʼn gemengde boerdery het, was daar ʼn interessante dag wat vir Marciel voorgelê het.

Nie net het sy ʼn bees- en skaapskrum aanskou nie, maar het ʼn bees sommer ook haar skoenveter gegryp en het Petré haar verras deur sy vernuf met ʼn sweep ten toon te stel.

Dié grappige boer het aan Marciel gesê dit is belangrik dat ʼn vrou sy sin vir humor moet verstaan. “Ek is ʼn terggees; so ek gaan iemand moet kry wat weet waar dit nou nie meer ʼn grap is nie. Ek hou daarvan om mense se siel uit te trek en poetse te bak. Ek weet egter waar om ʼn lyn te trek en nie te probeer snaaks wees nie.”

Hoewel hy voel hy die een sal wees wat aan die einde van die dag die finale sê sal hê, kort hy iemand wat saam met hom die besluite sal neem.

“Ek soek nie eintlik ʼn streng vrou nie, maar ek het ʼn streng vrou nodig. Iemand wat rigting het en wat respek kan afdwing en orde kan handhaaf.”

Die 38-jarige Willem van Philippolis in die Vrystaat is ʼn skaap- en beesboer en is die pa van twee kinders, op wie hy baie trots is.

“Ek is nie die strengste pa op aarde nie. Ek is die maklike pa, die een na wie hulle kom vir lekkergoed en om bederf te word. Ek hou van die pret daarvan, ek sal strenger wees as hulle ouer is. My haelgeweer is gelaai vir my dogtertjie se kêrels eendag,” het hy gespot.

Volgens Willem het ʼn vrou ʼn baie belangrike rol op die plaas. “’n Vrou is die hartklop van ʼn plaas. Soms kan die man ʼn bietjie hard wees en ʼn vrou het ʼn baie ondersteunende rol op ʼn plaas. Sy verstaan dinge anders en werk anders deur situasies.”

Marciel se laaste afdraaipad het gelei na die 39-jarige Albertus se plaas op Calvinia in die Noord-Kaap, waar dié pittige boer met skape boer.

“Jy is die mooiste vrou wat nóg hier op dié plaas gekuier het,” het Albertus aan Marciel gesê. Vir hom is boerdery sy grootste liefde en passie.

“Ek het skool gehaat en ná skool het ek nog nie weer aan ʼn pen of papier gevat nie. Ek wil met my hande werk en na die skape kyk; dit is ʼn liefde waarmee jy gebore word,” het hy gesê.

Volgens Albertus is “vroumense maar yl gesaai” in sy deel van die wêreld. “As ʼn vrou kwaad raak, sal ek uitry na die skape toe en daar sit en wag. Sy het self kwaad geraak, so sy sal self weer goed raak ook.”

Boer soek ʼn vrou is elke Donderdagaand om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Kobus ·

Het Albertus baie geniet, wat jy sien is wat jy kry. Res van die manne lyk ook goed. Sal maar sien hoe lyk die belangstelling, en o ja, hoop die dame vaar ook goed.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.