‘Boer soek ʼn vrou’-paartjie binnekort voor die kansel

Danél Saayman en Carl Möller se liefdesverhaal het deur die kykNET-werklikheidsreeks “Boer soek ʼn vrou” begin. (Foto: A Square Wedding Photography)

“Die venue is bespreek, die kos is gereël, my rok, grimering en hare is reg, alles is klaar. Ons kan nou maar net trou!”

Danél Saayman tel behoorlik die slapies af totdat sy op 21 September met haar geliefde, boer Carl, voor die kansel kan staan en kan “ja” sê om vir die res van haar lewe mev. Möller te wees.

“Ek kan nou nie meer wag nie! Ek is só opgewonde oor ons troudag. Almal vra my of ek stres, en dan wonder ek, is ek veronderstel om te stres?” lag sy. “Ek sien net so baie uit.”

Danél (25) en Carl (33) sʼn is beslis een van die mooiste liefdesverhale wat gespruit het uit die kykNET-werklikheidsreeks Boer soek ʼn vrou. Maar dié twee se liefdesverhaal het nie op die kassie begin nie, maar eers nadat die kameras ophou rol en hul paadjies op ʼn onverwagte manier gekruis het.

Danél het tydens seisoen 10 van Boer soek ʼn vrou vir boer Jacques geskryf voordat hy haar huis toe gestuur het. Carl kon ook nie daarin slaag om tydens dié seisoen liefde te vind nie, aangesien daar heeltyd net een meisie in sy gedagtes was: Danél.

Danél en Carl sien uit na hul lewe saam op die plaas. (Foto: WP v Zyl Photography)

Uiteindelik, nadat die reeks klaar verfilm is, het Carl die moed bymekaargeskrap om Danél op sosiale media te kontak en die spreekwoordelike koeël was deur die kerk.

“Die dag toe ek hom ontmoet het, het ek geweet hierdie gaan nie net ʼn vriendskap wees nie,” erken Danél. “Ek het ná universiteit gesê die volgende man met wie ek ʼn verhouding aanknoop, sal my trouman wees. Ek gaan nie sommer net ʼn verhouding begin nie. En toe ek vir Carl ontmoet, het ek geweet hierdie gaan nie net nóg ʼn afspraak wees nie. Ons albei het geweet ons wil hierdie maak werk.”

Om dié verhouding te maak werk was nie so maklik nie. Carl se plaas is naby Carnarvon in die Noord-Kaap en Danél is ʼn onderwyseres op Vredendal in die Wes-Kaap – 450 km uit mekaar en daar is geen lughawe om die heen en weer reis te vergemaklik nie.

“Ons het mekaar elke tweede naweek gesien en dan het ons maar beurte gemaak om die afstand te ry. Een voordeel van die onderwys is die skoolvakansies, so ek kon darem ook elke vakansie by hom op die plaas deurbring,” sê Danél.

Danél vertel sy het baie gou geweet dat sy haar lewe met Carl wil deel. (Foto: A Square Wedding Photography)

Sy sê dit was nie lank voor hulle van trou begin praat het nie. Albei het geweet hulle het hul sielsgenoot gevind en wou hul lewe met mekaar wil deel. Carl moes net wag vir die perfekte oomblik….

Dié oomblik het gekom op 24 November verlede jaar toe Danél weer by Carl op die plaas gaan kuier het. Met ʼn lang ompadstorie het hy haar uiteindelik oortuig dat hulle saam met sy oom oor die plaas vlieg.

Oor die klein swart sakkie in die vliegtuig het Carl en sy oom vir haar vertel dat dit diamante is waarmee sy oom smokkel. Terwyl hulle op pad was om te land, het hulle ʼn bakkie langs die aanloopbaan sien staan. Dit is die speurders, het Carl paniekerig gesê.

“Ek het alles geglo, ek het nie geweet wat nou gaan gebeur nie!” lag Danél. “Carl het die sakkie ‘diamante’ gegryp en in sy sak gedruk. Toe ons uitklim, was ek so benoud, ek het net tjoepstil gebly. Ek het nie geweet wat ons nou gaan maak nie.”

En toe sak Carl op sy een knie en bring die ring uit die sakkie te voorskyn. En hy vra haar om sy vrou te wees. “Ek was histeries van opgewondenheid, ek kon nie ophou ja sê nie!” vertel sy borrelend. “Ek voel nou nog of ek op ʼn wolk loop!”

Die gelukkige paartjie. (Foto: WP v Zyl Photography)

By die huis het familie en vriende hulle ingewag om die verlowing saam met hulle te vier.

Die troue sal in Vanrhynsdorp naby Vredendal plaasvind, waarna Danél uiteindelik vir die heel laaste keer die lang pad Carnarvon toe sal aandurf – maar dié keer nie om te kuier nie, maar om finaal nes te skrop.

“Ek is so opgewonde oor al die nuwe dinge wat voorlê. Om die huis mooi te maak, en die plaaslewe te geniet en ʼn vrou te wees vir Carl. Ons moes nog heeltyd die langafstand-ding doen, so nou is dit vir ons net so ongelooflik dat ons die heeltyd by mekaar gaan kan wees.”

En is daar dalk ʼn baba Möller in die nabye toekoms? “Ons albei wil baie graag kinders hê en dit is beslis deel van ons planne, maar eers later. Ons wil nou eers vir so jaar of twee net op mekaar fokus. As die Here se planne anders is en dit gebeur vroeër, is dit ook goed. Maar vir nou is dit ek en Carl.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Agie ·

Baie geluk en wees seblief gelukkig
Baie dankie vir die heerlike positiewe berig te midde van ons huidige warboel

Danie ·

Carnarvon, wat n lekker plek. Eintlik is al daai omgewing se dorpies baie lekker. Veral as jy op n motorfiets deur daai geweste ry. Ons was onlangs weer daar deur oppad Afrika Burn toe.

Elanie ·

Baie geluk . Julle pas so mooi bymekaar en alle voorspoed vir julle vorentoe!!! Wees wakker op die plaas asseblief!!!

lisa ·

ag dis n pragtige storie, geluk vir julle twee. mag julle nog donkie jare hand aan hand saamstap op die plaas!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.