‘Boer soek ʼn vrou’ se Marthinus: ‘My driebeenhond is my beste vriend’

Boer Marthinus en sy driebeenhond, Winston, is onafskeidbaar. (Foto: Verskaf)

Te midde van die oorweldigende reaksie op sosiale media nadat die boere van die 13de seisoen van Boer soek ʼn vrou verlede Sondag bekend gemaak is, het Marthinus, ʼn 25-jarige boer, behoorlik die aandag van Suid-Afrika se enkellopende vroue getrek.

Nié net is kykers gaande oor dié saggeaarde boer nie, maar sy driebeenhond, Winston, het ook die harte van vroue landswyd vermurwe.

Marthinus, wat op Arlington naby Bethlehem in die Vrystaat met mielies, sojabone, sonneblom, Bonsmaras en Dohne-merinoskape boer, sê die driejarige Duitse korthaar pointer is sy beste vriend.

“Die langste wat ons al van mekaar af weg was, is twee weke. Ek weet nie wie was meer opgewonde om die ander een weer te sien nie,” lag die boer oor sy vriendskap met die hond, wat sy linkeragterpoot in ʼn fratsongeluk verloor het.

“Ek en Winston was op pad dorp toe om ons mense huis toe te neem. Vir een of ander rede het sy poot gegly en hy is van die bakkie af. Hy het sy poot baie sleg net onder die heup gebreek. Die veearts het hard probeer, maar na twee onsuksesvolle operasies was daar nie meer ʼn ander opsie as om die poot te amputeer nie.”

Winston lê agter op boer Marthinus se bakkie. (Foto: Verskaf)

Marthinus vertel hy is ʼn ernstige mens, maar kan ook die ligter kant van die lewe raaksien en waardeer. “My stokperdjies sluit in motorfietsry, jag, oefen en samesyn met vriende.”

Een vriend wat nooit sy sy verlaat nie, is Winston. “Ons doen alles saam, van stroper- en trekkerry tot kantoorwerk en eet, darem nie uit dieselfde bord nie,” skerts Marthinus.

“Ons was van die begin af aan mekaar gebind, maar ek dink ons grootste band het verlede jaar gekom toe hy sy poot verloor het. Ek het terselfdertyd ʼn knie-operasie ondergaan en ons moes mekaar maar oppas. Ek is nie een vir stil sit nie en Winston het my gehelp om my kop reg te hou.”

Hy verklap die hond is genoem na Winston Churchill, die voormalige eerste minister van Brittanje. “Hy het ʼn aanhaling wat sê dit help nie om ver in die toekoms te kyk nie, want die toekoms is ʼn ketting en kom een skakel op ʼn slag.

“Ironies genoeg spreek daardie aanhaling boekdele van Winston se geaardheid. Hy dink nie verder as vandag nie en leef elke dag voluit. Ek voel elke dag ek kan iets by hom leer. Hy het ʼn houding en die feit dat hy nou net drie pote het, het hom geensins gestuit nie. Hy besef nou juis hoe spesiaal hy is en kan ʼn mens goed op ʼn guilt trip sit as hy nie sy sin kry nie,” sê hy.

Winston en boer Marthinus is beste vriende. (Foto: Verskaf)

Volgens Marthinus is hy op soek na ʼn aantreklike, ambisieuse en selflose vrou met dieselfde geloofsoortuigings as hy. “[Een] wat met my familie en vriende oor die weg kan kom en oop sal wees vir nuwe uitdagings, soos reis. Sy moet in staat wees om ʼn lewe op die plaas te bou en sy moet my ander helfte wees en my onvoorwaardelik kan liefhê.”

As ʼn mens kyk na sy band met sy hond, kan jy net dink hoe lief hy vir sy toekomstige vrou sal wees.

“As ek so lief en dalk nóg liewer kan raak vir ʼn vrou sal ek sê dit wys ek sal regtig enigiets doen vir dié waarvoor ek omgee. Niks is te veel moeite nie en dit is vir my lekker dat ek alles met Winston kan deel, hoeveel te meer dan nie met ʼn ander helfte nie?”

Inskrywings vir die 13de seisoen van Boer soek ʼn vrou is nou oop. Kyk na boer Marthinus en Winston se bekendstelling hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
James

Ek is so verlig dat daar ander ouens ook is wie se honde so ‘n integrale deel van hul lewens vorm. ‘n Hond is inderdaad, die mens se beste vriend. Ek het onlangs afgekom op die volgende – en ek stem heelhartig saam: “If dogs do not go to heaven I would like to go to the place they do -when I die.