‘Boer soek ’n vrou’ skop af; boere deel hartsake aanlyn

Marciel Hopkins het aanlyn met die top-10-boere gesels. (Foto: kykNET)

Ná ʼn lang stilte weens die Covid-19-pandemie het Boer soek ʼn vrou se bekende temalied Donderdagaand weer op die kassie weerklink.

Dit het die begin van die 13de seisoen van dié gewilde kykNET-werklikheidsreeks aangekondig.

Aanhangers het weer die top-10-boere saam met die nuwe aanbieder Marciel Hopkins ontmoet. As gevolg van streng Covid-19-regulasies en reisbeperkings het sy ʼn aanlyn gesprek met elke boer gevoer, maar selfs slegte internetopvangs plek-plek kon nie dié groep boere stuit om hulle hartsake met Hopkins te deel nie.

Vanjaar se boere se ouderdomme wissel tussen 24 en 52, terwyl daar drie boere van die Vrystaat, drie van die Wes-Kaap, twee van Mpumalanga, een van Gauteng en een van Noordwes afkomstig is.

Niel (32) ʼn vrugteboer van Grabouw in die Wes-Kaap, vertel ʼn boek getiteld Die vyf tale van die liefde het hom ʼn ander kant van die liefde gewys.

“Jy moet die persoon leer ken en weet wat dit is wat die persoon se emmertjie vol hou. Ek wil die gewoonte kweek om dit te doen, al is dit om in die oggend ʼn beker koffie en ʼn blom te kry of ʼn briefie in jou handsak te kry as jy werk toe gaan.”

Marthinus (26), wat op Arlington naby Bethlehem in die Vrystaat met mielies, sojabone, sonneblom, Bonsmaras en Dohne-merinoskape boer, het aan Hopkins vertel hoe sy geliefde Duitse korthaar pointer, Winston, sy been verloor het in ʼn fratsongeluk.

Hy voeg by dat dit hom vies maak as iemand sy honde van die sitkamerbanke af jaag. “Hulle hoef nie op die bed te lê nie, maar hulle gaan so nou en dan by my op die bank lê. Om eerlik te wees, Winston gaan by my wil lê, so daar gaan maar ʼn fight moet wees tussen hulle twee oor wie by my gaan lê.”

Kobus (52) boer op ʼn gemengde boerdery in Randfontein in Gauteng en was twee keer vantevore getroud. Op Hopkins se vraag oor hoeveel kanse hy dink ʼn mens kry op die liefde, het hy gesê hoewel ʼn mens baie kanse kry, gaan dit daaroor om die régte liefde te vind.

“Iemand wat jou kan verstaan en wat in jou glo. Dit is baie belangrik,” het hy gesê.

Oudergewoonte sal die 13de reeks, wat uit 13 episodes bestaan, hoofsaaklik fokus op die top-vyf-boere wat die meeste inskrywings ontvang het. Die top-vyf word in volgende week se episode bekend gemaak.

Anders as tevore, het voornemende pasmaats nie handafgelewerde briewe of pakkies vir boere gestuur nie en is slegs digitale inskrywings, wat ook deur ʼn video vergesel is, aanvaar.

Só lyk die top-10-boere:

Boer Albert. (Foto: kykNET)

Albert (24) boer met rooibostee, sitrus en skape in Clanwilliam, Wes-Kaap.

Boer Déan. (Foto: kykNET)

Déan (28) boer met macadamia-neute in Nelspruit, Mpumalanga.

Boer Hannes. (Foto: kykNET)

Hannes (52) het ʼn gemengde boerdery in Kroonstad, Vrystaat.

Boer Kobus. (Foto: kykNET)

Kobus (52) het ʼn gemengde boerdery in Randfontein, Gauteng.

Boer Marthinus. (Foto: kykNET)

Marthinus (26) het ʼn gemengde boerdery in Arlington, Vrystaat.

Boer Mathys. (Foto: kykNET)

Mathys (25) boer met skaap, bees en bosbou in Dullstroom, Mpumalanga.

Boer Niel. (Foto: kykNET)

Niel (32) boer met vrugte in Grabouw, Wes-Kaap.

Boer PF. (Foto: kykNET)

PF (30) boer met vee, groente en saad in Laingsburg, Wes-Kaap.

Boer Richann. (Foto: kykNET)

Richann (29) boer met skilderbokke in Vredefort, Vrystaat.

Boer Stephan. (Foto: kykNET)

Stephan (40) boer met bees en saaigewasse in Lichtenburg, Noordwes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
James

Aanlyngesprekke weens Covid. En die kameraman, dan? ????