Boer Tyson se Alri sê ‘ja’

Tyson en Alri (Foto: Verskaf)

Daar was trane van blydskap toe Tyson Zunckel – die gewildste deelnemer aan die 14de reeks van die kykNET-maatsoekreeks Boer soek ʼn vrou – vir Alri Vorster Sondag die jawoord gevra het.

Boer Tyson (33) kon nie meer langer wag om ʼn ring aan Alri se vinger te steek nie, nadat dié twee duifies reeds tydens die reeks ʼn verhouding aangeknoop het.

Tyson het besluit dat Alri se verjaardagnaweek die ideale geleentheid was om verloof te raak. Haar ouers het vir die naweek op Tyson se plaas by Bergville, KwaZulu-Natal, gekuier. “Ek het gedink dit sal spesiaal wees indien hulle kan by wees met die verlowing,” vertel Tyson.

Tyson het Alri en haar ouers Sondag in sy helikopter die omgewing gewys. Sy aanvanklike plan was om op ’n berg te land en daar om haar hand te vra, maar die reënweer het sy planne in die wiele gery.

Kom wind of weer, Tyson het besluit hy sál Sondag verloof raak.

“Nadat ons vir ʼn rukkie in die helikopter rondgevlieg het, het ons by die huis geland. Daar het ons uitgeklim en  ʼn paar selfies geneem. Ek het my selfoon vir Alri se ma gegee en die selfoon op video gesit. Ek het die tannie gevra om ons af te neem en dit is toe dat ek op my knieë gaan en Alri vra om te trou.”

Alri en haar ouers was uit die veld geslaan.

“Ek het vroeër die maand ouers gevra, maar hulle het nie ʼn idee gehad dat ek dit vir hierdie naweek beplan het nie. Alri was ook heeltemal onkant gevang.”

(Foto: Skermskoot via tysonzunckel, Instagram)

Dit was reeds duidelik tydens die reünieprogram – wat in November verfilm en op 7 April op kykNET uitgesaai is – dat die liefde tussen Tyson en Alri blom. Tyson het reeds in die episode voor die reünieprogram verklap dat hy vir Alri gevra het om sy meisie te wees.

Sedert die reünieprogram het dié twee verliefdes mekaar elke naweek gesien en soveel tyd moontlik by mekaar deurgebring. Alri woon in Bethlehem in die Vrystaat, wat sowat 163 km van Tyson se plaas is.

“Ons verhouding het baie vinnig in ʼn kort tyd gegroei omdat ons mekaar so baie gesien het. Ek het gedink ons hoef nie meer langer te wag om die volgende stap in ons verhouding te neem nie.”

Volgens Tyson het hy iemand gevind saam met wie hy die lewe kan geniet. “Ek is iemand wat van my eie spasie hou, maar ek het besef ek hou daarvan as Alri saam met my in my spasie is.”

Tyson het aan Maroela Media verklap dat hulle beplan om vanjaar nog te trou.

(Foto: Skermskoot via alri.vorster, Instagram)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Browniemix ·

Tyson & Alri
Baie, baie geluk hoop julle gaan baie gelukkig wees. Julle pas perfek by mekaar. Geniet elke oomblik van die tyd wat julle verloof is

Niklaas ·

Mooi paartjie , baie geluk en voorspoed aan hulle. Van die eerste dag (na die boere se finale keuses) kon mens sien , hier kom iets groots .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.