Boere gooi flikkers na makietie saam met familie, vriende

Nelis by Esmerélda en Margot (Foto: verskaf)

Die vyf boere wat vanjaar liefde op die kassie in Boer soek ’n vrou probeer vind, het in die nuutste aflewering van kykNET se maatsoek-reeks die twee oorblywende dames op hul plase aan vriende en familie voorgestel.

Dié ontmoetings het gesorg vir angs, senuwees, vreugde en ʼn verlore traan toe die druk van die oomblik te veel vir een van die vroue geword het.

Die vroue op boer Nelis, ʼn veeboer van die Vaal Marina in Gauteng, se plaas het die dag op twee uiteenlopende maniere ervaar. Dit het rustig vir Esmerélda en Margot begin en hulle het selfs vir Nelis help skaapvoer meng.

Die twee vroue kom goed oor die weg. “Dit lyk asof hulle vriendinne kon gewees het. Daar is nie ’n afsydigheid of enige negatiewe goed wat ek optel nie. Hulle praat meer met mekaar as met my,” het Nelis geskerts.

Deur die loop van die dag het Margot erken dat sy ’n toekoms vir haar en die Gautengse boer sien.

“Ek hou van wat ek sien. Ek dink daar is potensiaal. Ons het baie gemeen. Ek kan definitief, as dinge so uitwerk, myself as deel van sy lewe sien.”

Die twee vroue het uitgesien na die ontmoeting met Nelis se vriende en familie wat die aand sou plaasvind.

Deur die loop van die aand het die klein jakkalsies Esmerélda kriewelrig laat voel . In ’n stadium het sy besef Nelis het nie ’n woord gehoor van wat sy vir hom gesê het nie. “Dit was vir my opvallend gewees, want dit beteken dat sy gedagtes op ’n ander plek was.”

Albei het die vriende en familie beïndruk, alhoewel ’n paar gaste van mening was dat Margot, wat haar vakansie in Griekeland kort geknip het om liefde te probeer vind, beter by hulle sal pas.

Esmerélda het die aand in trane afgesluit. “Ek dink vanaand tap nogal ʼn mens se energie, want almal wil weet wie jy is, waar jy vandaan kom en wat jy doen vir ’n lewe. Ek voel hoe meer jy dit deel, hoe meer gee jy van jouself vir die hele reis,” het sy gebieg.

Johan, Arina en Liandi skiet teiken (Foto: verskaf)

Boer Johan het vroegoggend saam met Arina en Liandi teiken gaan skiet. Iets wat Arina laat erken het dat Johan “’n man is wat kan”.

Hulle het die res van die dag op die plaas deurgebring waar Johan grootgeword het. Dis hiér waar hy nostalgies geraak het oor sy kinderdae terwyl hy hulle gewys het hoe en wat die beeste gevoer word.

“Dis vir my lekker om hierdie plaasaktiwiteite te doen, en om dit saam met Johan te kan doen. Dis vir my lekker om te sien hoe hy nog kinderlik opgewonde is oor hierdie goed. Dit laat my sommer tuis voel,” het Arina erken.

Die drie het na die aand se verrigtinge uitgesien.

“Ek weet nie presies waarna ek vanaand gaan kyk nie. Ek wil graag net sien dat hulle by my vriende inpas en dat hulle lekker saam sal kuier,” het Johan gesê.

Die twee vroue was voor die ontmoeting senuweeagtig, maar die gaste het hulle vinnig op hul gemak gestel.

“Ek kan sien ou Johnnie blom,” het Gian, ʼn vriend van Johan, vertel.” Sy vrou, Tania, het dit beaam. “Die regte paar vellies het nog nie op hierdie plaas aangekom nie, nou is daar twee pare vellies. Een van hulle moet nou net bly.”

Petré, Bu-Anda en Lourize het silo’s besoek (Foto: verskaf)

Die vroue op boer Petré se plaas het die oggend op ʼn avontuurlustige noot begin en saam met dié hubare boer op motorfietse na beeste gaan soek.

Lourize was verlig toe sy agter die stuurwiel van ʼn motor kon inklim in plaas van agter op ʼn fiets, maar Bu-Anda het die geleentheid ten volle benut. Sy en Petré het mekaar selfs in ʼn stadium in ʼn resies uitgedaag.

Die drie het geskaterlag terwyl hulle die beeste gejaag het.

“Ek voel soos ’n kat wat melk gekry het. Ek is op die regte spoor,” het Petré verklap.

Petré het die dag afgesluit deur die vroue se vrees vir hoogte te toets. Hulle is saam silo’s toe, waar hulle met ʼn beknopte hysbak tot heel bo gery het.

Die vroue se senuwees het hul gekou voordat die ontmoetingsaand behoorlik afgeskop het. Bu-Anda het gevoel dit is maak of breek en Lourize was bekommerd oor die groot groep mense wat hulle gaan moet ontmoet.

Dit het egter glad verloop en Petré het erken dat daar iemand is wat sy hart vinniger laat klop.

“Na vanaand trek die aantrekkingskrag na een van die meisies net nog ʼn bietjie sterker. Ek sou nie sê ek is verlief nie, maar die potensiaal om verlief te raak, is 100% daar.”

Tyson stel Anelle en Alri aan familie en vriende voor (Foto: verskaf)

Die twee vroue op boer Tyson se plaas moes eers die vertrek van Chantelle behoorlik verwerk.

“Elkeen van ons voel dat alles moet gebeur soos wat dit moet, maar ek persoonlik was nie gelukkig oor wat gisteraand gebeur het nie. Ek voel daar is soveel onsekerhede. Elke keer wanneer Tyson jou vra, ‘Sal jy langer bly?’ is dit die enigste sekerheid wat jy het. Ek voel dis onregverdig dat iemand dit van jou en van Tyson af wegneem. Ek respekteer dit, dis haar besluit, sy kon gegaan het, maar ek stem nie daarmee saam nie,” het Anelle verduidelik.

Tyson het die besluit glad nie verwag nie.

“Dis haar keuse, sy het ook ’n besluit om te neem. Dit het my ʼn bietjie onkant gevang, maar dis die besluit wat ek sou geneem het. Dit het dit ʼn raps makliker vir my gemaak.”

Anelle en Alri het die dag saam met Tyson se ma in die kombuis deurgebring om vir die aand voor te berei, en dié aand het natuurlik vir groot opwinding gesorg.

Anelle het die geleentheid gebruik om Tyson se vriende te peper met vrae oor hom, soos hoe hy is as mens en of die twee bymekaar sal pas.

Tyson het erken dat daar een vrou is wat vir hom uitstaan.

Willem saam met Chantel en Sonja (Foto: verskaf)

Sonja en Chantel het gehoop dat boer Willem die aap uit die mou sal laat, maar dié is egter steeds ’n toe boek wat verkies om nie te wys dat hy dalk die een bo die ander verkies nie.

Die kuier saam met Willem se vriende en familie het vir Willem die geleentheid gegee om te hoor wat sy mense dink.

Boer soek ’n vrou word op Donderdae om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Kobus ·

Ek het my keuses namens die manne gemaak maar ek dink Johan het ‘n groot uitdaging. Wie gaan hy kies? Bly ek is nie hy nie

SlinkseKoljander ·

Die vrouens is net daar vir die media, nie een van hulle sal met hom trou nie.

Jaco ·

Ek het al na van dié reeks se episodes gekyk: deel van die reeks is dat elke boer wys hoe lyk sy plaas, waarmee boer hy en waarmee is hy besig elke dag. Dis net ‘n ope uitnodiging wat skree: onteien my eendag sonder vergoeding. Moenie dink daars geen Afrikaanssprekendes in die ANC, EFF en BLF nie. Hulle kyk ook TV en baie van hulle het ook DSTV. Wanneer gaan ons mense leet om hulself nie so bloot te stel nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.