Boere sê waarom jy moet inskryf vir ‘Boer soek ʼn vrou’

Die sanger en aktrise Leah keer terug as aanbieder van die 12de seisoen van 'Boer soek ʼn vrou'. (Foto: Instagram)

Die sanger en aktrise Leah keer terug as aanbieder van die 12de seisoen van ‘Boer soek ʼn vrou’. (Foto: Instagram via Leah)

Die gewilde kykNET-reeks Boer soek ʼn vrou het in die afgelope 11 seisoene bewys dat dit wel moontlik is om liefde op die kassie te vind en hubare boere, wat ook die kans wil waag om liefde op dié manier te vind, kan nou vir die 12de seisoen van dié kykNET-werklikheidsreeks inskryf.

Tien jaar nadat die merinoskaapboer Tickey van Wyk sy Selmé-Louise op dié program ontmoet het, is hulle steeds gelukkig saam en is hulle die ouers van twee kinders.

Ook boer Gerrie, wat tydens die sewende seisoen sy trouvrou, Carna, ontmoet het, is vandag nog dolgelukkig getroud en dié paartjie het ook intussen ʼn skattige pienkvoet ryker geword.

Boer Adriaan, ʼn skaapboer van die Langeberg-distrik in die Wes-Kaap en sy Helene, wat een van die gewildste paartjies van die tiende reeks van kykNET se Boer soek ʼn vrou was, het in September verlede jaar hul verlowing aangekondig.

In die vorige seisoen het die boere-Kupido se pyle vir boer Réan, ʼn wingerd-en-pekanneutboer op Groblershoop in die Noord-Kaap, en sy blouoog-blondekop Rox-zee, asook die eerste vroueboer in die top-vyf van die reeks, Toanette, en Nardus getref. Albei dié gewilde paartjies is steeds saam.

Boer Gerrie, Carna en hul dogtertjie, Sanri. (Foto: Verskaf)

Boer Gerrie, sy vrou, Carna, en hul dogtertjie, Sanri. (Foto: Verskaf)

Boonop staan boer André, wat in die Colesberg-omgewing in die Noord-Kaap met skape en angorabokke boer en tydens die 11de seisoen die meeste briewe van potensiële pasmaats ontvang het, eersdaags voor die kansel saam met Monja, wat in 2015 by een van die ander boere in die reeks vlerkgesleep het.

Boer Byron, wat in die top-tien van die 11de seisoen was, vertel aan Maroela Media dat dit steeds die moeite werd is om in te skryf vir die program al vind jy nie noodwendig jou trouvrou in die proses nie.

“Ek en Sharni, wat saam met my die reünie bygewoon het, is nou net vriende,” vertel Byron, ʼn hidroponiese boer in Kraaifontein in die Wes-Kaap. Hy verklap dat hy wel sedert Oktober verlede jaar ʼn nuwe meisie, Jody Paulse, in sy lewe het.

“Die hele ervaring van Boer soek ʼn vrou was heerlik. Al behaal jy nie die top-vyf nie, is dit steeds nie ʼn teleurstelling nie, want jy doen dit mos nie vir daardie rede nie. Dit is nie asof daar ʼn wenner of verloorder is nie,” sê hy.

“As jy dink jy moet dit nie doen nie, maar jy weet jy voldoen aan die spesifikasies wat vereis word van die program, doen dit! Dit is ʼn baie goeie geleentheid om jouself en ʼn paar dames – of mans, as jy nou ʼn vroueboer is – te ontmoet.”

Boer Schalk, wat met eksotiese wild boer op Vaalwater in Limpopo, beaam dit. “Vat ʼn kans, want jy sal nooit weet as jy nie probeer nie. Al is jy bang, vat eerder die kans al werk dit nie uit nie, want jy gaan dit moontlik later berou. So maklik soos dit.”

Boer Byron is een van die boere wat te sien was in die elfde reeks van 'Boer soek ʼn vrou'. (Foto: Verskaf deur kykNET)

Boer Byron is een van die boere wat te sien was in die elfde reeks van ‘Boer soek ʼn vrou’. (Foto: Verskaf deur kykNET)

Schalk het by die reünie van seisoen 11 saam met ʼn blondekop, Henriëtte, opgedaag, maar vertel aan Maroela Media dat dié verhouding nie uitgewerk het nie.

“Ek het wel intussen my trouvrou, Clarisse Visser, ontmoet. Sy het my op die program gesien en het vir al wat leef en beef ʼn boodskap op Facebook gestuur om by my uit te kom. Ons het uiteindelik ontmoet en van daar af het dinge in plek geval vir ons.”

Boer Frikkie, ʼn wildboer in Paterson in die Oos-Kaap, en boer Marx, ʼn skaap-en-beesboer in Barkly-Oos in die Oos-Kaap, het alleen die reünie van seisoen 11 bygewoon.

Volgens Frikkie was dit ʼn baie aangename ervaring om deel te wees van Boer soek ʼn vrou. “Ek wou graag ʼn bietjie uit kom en nuwe mense ontmoet om my vlerke te kan sprei. Die hele ding het my bietjie uit my dop gehaal en my meer mens gemaak,” sê hy.

Frikkie, wat steeds enkellopend is, gee toe dat dit soms stresvol was om voor die kameras te wees. “Jy raak dit uiteindelik gewoond en als het goed verloop. Die span van die program is almal baie vriendelik en stel jou op jou gemak.”

Hy sê voornemende boere wat wil inskryf, maar wat ʼn bietjie skrikkerig is, moet sommer net die bul by die horings pak. “Steek jou bangheid in jou sak, want jy sal glad nie spyt wees nie!”

Boere Frikkie, Marx en Johan het alleen by die reünie van seisoen 11 opgedaag. (Foto: Skermgreep)

Boere Frikkie, Marx en Johan het alleen by die reünie van seisoen 11 opgedaag. (Foto: Skermgreep)

Frikkie vertel dat dit veral ouer dames is wat hom in die dorp voorkeer om ʼn foto te neem of ʼn geselsie aan te knoop. “Dan vra ek maar vir hulle of hulle nie ʼn oulike kleindogter het aan wie hulle my kan voorstel nie,” skerts hy.

Marx vertel op sy beurt dat hy homself deur die proses van Boer soek ʼn vrou beter leer ken het. “Jy word vrae gevra waaroor jy nog nooit vantevore moes dink nie en sodoende besef jy eintlik wat jy wil hê in die lewe.”

Hy verklap dat hy ook nou ʼn meisie, Marlise le Roux, aan sy sy het. “Ek was by ʼn geselligheid waar ek haar raakgeloop het. Sy is oorspronklik van Phalaborwa, maar studeer in Bloemfontein. Ek het vir haar gaan kuier ná die geselligheid en van daar af is ons saam. Ons het mekaar op die normale manier ontmoet,” lag hy.

Voornemende boere kan op die volgende maniere vir seisoen 12 van Boer soek ʼn vrou inskryf:

Belangrike inligting:

  • Foto’s en afskrifte van identiteitsdokumente moet inskrywings vergesel.
  • Diegene wat wil deelneem, moet ongetroud en ouer as 21 jaar wees.
  • Inskrywings moet die vervaardigers voor middernag op 22 Maart bereik.
  • Die tien gekose boere sal teen 19 April in kennis gestel word.
  • Hou kykNET se sosiale media of die media dop vir die aankondiging oor 2019 se top-tien boere. Moontlike pasmaats sal dan hul beurt kry om vir dié boere briewe te skryf.
  • Die 12de reeks sal van Oktober vanjaar op kykNET uitgesaai word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Marlize van der Merwe ·

In alle eerlikheid en realisties-gesproke, by die pas wat boere en hul gesinne deesdae op plase uitgewis word, wil geen vrou meer op ‘n plaas gaan woon nie, want daar is regtig ‘n onsekere toekoms en jou veiligheid is ook heeldag en al dag ‘n risiko. Maak eerder ‘n program wat meer realisties en toegangkliker is vir mense om voor in te skryf, ek dink elk geval nou ‘Boer Soek ‘n Vrou’ is bietjie holrug gery en het al so bietjie sy ‘sparkle’ en potensiaal vir vermaak verloor

Jepetto ·

Marlize .KJ hoekom nou so suurdriuwe wees die program is pragtig die senior afrikaner en self engelse is mal daar oor .Daar is hiemor drama iets van als Dit moet maar sleg wees as a boer jou af se

Johan ·

N mens moet maar hardop wees om so n maat tesoek. Dit moet eientlik wees Boer soek n …..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.