Boere wei uit oor liefdeslewe ná reünie

Die top-10 boere van 'Boer soek 'n vrou' tydens die reünie. (Foto: Skermgreep)

Die top-10 boere van ‘Boer soek ‘n vrou’ tydens die reünie. (Foto: Skermgreep)

Boer soek ʼn vrou-aanhangers het Donderdagaand ʼn eenparige sug van verligting geslaak toe boer Réan (27), ʼn wingerd-en-pekanneutboer op Groblershoop in die Noord-Kaap, verduidelik het sy Engelse blondekopnooi, Rox-Zee, is in Engeland met vakansie saam met haar ma en dat dit die rede is hoekom sy nie saam met hom die reünie in Kaapstad bygewoon het nie.

Dit blyk in die sosiale media dat Réan en Rox-Zee, ʼn skoonheidsterapeut en ywerige perderuiter van Durban, beslis die gunstelingpaartjie onder kykers van die 11de seisoen van dié gewilde werklikheidsreeks op kykNET was.

Réan het kort nadat die laaste episode van die reeks Donderdagaand uitgesaai is, ʼn foto van hom en Rox-Zee op sy Instagram-profiel gelaai, wat bevestig het dat hulle wel nog ʼn paartjie is. “Ek wag al te lank om dit te post. Darm maar lief vir die ou engelse bok van my #daarvathy #boerhetnvrou [sic]”, het hy by dié foto, waar hy en Rox-Zee ooglopend die skoot hoog deur het, gekoer.

Réan het dié foto van hom en Rox-Zee gedeel na afloop van Donderdagaand se episode. (Foto: Instagram)

Réan het dié foto van hom en Rox-Zee gedeel na afloop van Donderdagaand se episode. (Foto: Instagram)

Rox-Zee het op haar beurt ook ʼn foto van haar en Réan op haar Instagram-profiel gedeel. “It must be love,” het sy geskryf.

Réan het aan Maroela Media gesê die publiek se belangstelling in sy verhouding met Rox-Zee “voel onwerklik”. “Ek het nie gedink dit gaan so wees nie en dit was nooit my bedoeling nie. Ek het my nie voorberei op alles nie, want ek wou net iemand ontmoet.”

Dat mense kritiek gelewer het dat hul verhouding nie sal hou nie, veral oor die feit dat Rox-Zee Engelssprekend is, skeel hom min. “Dit wys jou maar net jy moenie iemand te gou oordeel nie. Mense het baie gou ʼn vooropgestelde idee van iemand. As jy hulle dus verkeerd kan bewys, is dit altyd lekker,” lag hy.

Oor of daar ʼn verlowing in die nabye toekoms gaan wees, is hy nog geheimsinnig. “Julle sal maar moet wag en sien!”

Nog twee van die boere, Toanette en Cassie, het sy aan sy by die reünie opgedaag saam met die gekose deelnemers wat op die plaas agtergebly het.

Toanette (24), wat ʼn natuurbewaring-onderneming op ʼn wildplaas in die Modimolle-omgewing in Limpopo bedryf, het hand aan hand saam met Nardus die reünie bygewoon. Toanette is die eerste vrou wat na die top-5 van dié program deurgedring het.

Rox-Zee het dié fot van haar en Réan op Instagram gedeel. (Foto: Instagram)

Rox-Zee het dié foto van haar en Réan op Instagram gedeel. (Foto: Instagram)

“Ek kry elke dag baie boodskappe van mense wat sê hulle kan sien ons is vir mekaar bedoel en ons pas by mekaar. Dit is vir my baie lekker om dit te hoor,” het Toanette aan Maroela Media vertel.

“Aan die begin, toe mense baie ongeskik was en gesê het hulle weet nie of Nardus-hulle mans genoeg is nie, was dit nie lekker nie,” voeg sy by.

Sy het ook bevestig dat hulle wel nog ʼn paartjie is. “Ek het geweet ek gaan hom kies nog voor die familiebraai. Ek het nie heel van die begin af geweet ek gaan hom kies nie, maar toe ek hom ontmoet het, het ons dadelik gekliek en lekker gesels. Gedurende die plaasweek het hy in die laaste uur oopgemaak teenoor my en ons belangstellings is baie dieselfde. Voor die familiebraai het ek eers seker gemaak hoe my ouers daaroor voel.”

Volgens Toanette sal sy ander mense aanraai om aan die program deel te neem, maar hulle moet besef die reeks het ʼn groot invloed op ʼn mens se lewe. “Dit was ʼn fantastiese reis en lekker om almal te ontmoet; ek het goeie vriende gemaak deur die hele seisoen. Dit is die moeite werd, maar jy moet net ʼn sterk persoonlikheid hê om deel te kan wees van so ʼn groot ding.”

Cassie (28), ʼn saai-en-beesboer op Elandslaagte in KwaZulu-Natal, het saam met Alyssa (23), die blondekop-fisioterapeut, by die reünie opgedaag, maar het in ʼn onderhoud met Maroela Media gesê hulle is nie ʼn paartjie nie.

Toanette en Nardus het saam by die reünie opgedaag. Hulle is nog 'n paartjie. (Foto: Skermgreep)

Toanette en Nardus het saam by die reünie opgedaag. Hulle is nog ‘n paartjie. (Foto: Skermgreep)

“Dit het ongelukkig nie uitgewerk nie,” vertel hy. “Ons is wel nog vriende. Ek is inteendeel vriende met ʼn hele paar van die meisies wat in die top-10 was wat ek in die Kaap ontmoet het. Daar is geen kwade gevoelens nie.”

Hy vertel hoewel hy ʼn hele paar vriendelike mense ontmoet het tydens en ná afloop van die reeks, is hy bly dit is nou verby. “Mense wat my nog nooit in hulle lewe ontmoet het nie, het vieslike goed van my kwytgeraak in die sosiale media,” sê hy.

Boer André (35), wat in die Colesberg-omgewing in die Noord-Kaap boer met skape en angorabokke, het saam met ʼn blondekop, Rozanne, by die reünie opgedaag. Sy het nie aan die program deelgeneem nie.

Cassie en Alyssa was saam by die reünie, maar hy het bevestig dat hulle nie 'n paartjie is nie. (Foto: Skermgreep)

Cassie en Alyssa was saam by die reünie, maar hy het bevestig dat hulle nie ‘n paartjie is nie. (Foto: Skermgreep)

Kykers was ewe verras en bly om hom saam met iemand by die reünie te sien, nadat sy en sy gekose dame, Madelé, se paadjies nog voor die boere se skivakansie by die Afriski-oord in Lesotho geskei het.

Boer Duncan (36), ʼn beesboer op Verkykersdorp in die Vrystaat, het die skivakansie saam met Kelly, wat op die plaas agtergebly het nadat die 24-jarige Louise self die plaas verlaat het, geniet, maar hy het sonder haar by die reünie opgedaag.

Op Leah, die aanbieder van die 11de reeks, se vraag oor wat gebeur het, het hy net gesê dit het nie uitgewerk nie omdat hulle albei reeds vroeg in die verhouding getwyfel het oor hulle toekoms saam. “Sy is wel ʼn wonderlike vrou.”

Boere Byron (28) het saam met sy meisie, Sharni, opgedaag terwyl Schalk (25) saam met ʼn blondekop, Henriëtte, opgedaag het. Hy het vertel sy is een van die meisies wat vir hom geskryf het.

Boere Frikkie (28), Johan (30) en Marx (24) het alleen die reünie bygewoon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Zettie ·

Ag dit was sommer net ‘n lekker reeks die. Leah is ‘n wonderlike aanbieder ook nog.

Anni ·

Ag Nee Rean en poppie is in verlief vase, Sy was te voor op di wa met 1ste ontmoeting. Maar as jul by mekaar hoor gud so. Cassie ek verstaan ni, jul is so klouerig en noem dit net vriendskap.????? Ek Hou vd reeks want ek plaas hul by mekaar en aan einde Kyk ek Wie is nog paartjies.

Doempie ·

Christelle sou mooi by Duncan pas met haar sterk persoonlikheid. Dink hy was bang vir haar, maar sy het mooi gepas by hom. Kelly was te “sweet goody 2shoes”. Regte suutjiespoep en te “girly” vir plaaslewe. Die blonde gesiggie van André was ook beter keuse. Op ñ plaas kan mens nie modepop speel nie. Jou kloue en pote word vuil en jy moet kan cope met dit. Die program romantiseer plaaslewe en maak ñ speletjie daarvan. Die waarheid en realiteit is heeltemal anders. En as daai poppies dit besef is almal ontnugter.

Piet parys ·

Toanette en Nardus is my keuse vir die oulikste paartjie. Boere mense.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.