Borrelende Ansu oor sepierol, toekomsdrome

Die borrelende Ansu Visser. (Foto: Instagram/@attie_patatie)

Die borrelende en spontane aktrise Ansu Visser is besig om haar as een van die land se belowendste jong aktrises op die Suid-Afrikaanse vermaaklandskap te vestig.

Visser is tans elke weeksaand op die kassie te sien as Lulu in die gewilde kykNET-sepie Getroud met rugby en het byna dadelik kykers se harte vermurwe met haar lawwe, liefdevolle persoonlikheid.

“Ek is baie bly ek het die rol in ʼn sepie losgeslaan, want dit was nog altyd my droom. Ek is nog altyd mal oor sepies en het as laerskoolkind voor die kassie vasgenael gesit wanneer Egoli gebeeldsaai is. Dan het ek agterna vir my ouers gesê hulle moet nou Engels met my praat, want ek het nou net Egoli gekyk,” skaterlag sy.

“Daar is iets aan sepietekste wat soveel anders is as tekste van televisiereekse en rolprente. Met sepies is daar ʼn ander soort energie en omdat die gebeure in ʼn sepie ook nie altyd só realisties is nie, is daar ʼn mate van oordrewenheid. Dit vat ʼn rukkie om gewoond te raak daaraan, want met reekse en flieks moet jy weer so natuurlik moontlik speel.”

Visser, wat ook ʼn skrywer is vir dié sepie, gee toe dat Lulu se karakter baie naby is aan wie sy as mens is.

“Lulu is soveel pret en het haar speelse kant, maar sy is ook baie braaf en sterk en sal vir jou presies sê hoe sy voel. Mense hou van haar, want sy is vriendelik en borrelend, maar sy gee ook nie regtig om wat mense van haar dink nie. Sy is plat op die aarde en nie gepla oor die materialistiese dinge van die lewe nie. Sy is ʼn baie lekker karakter om te speel.”

Ansu Visser as Lulu in ‘Getroud met rugby’. (Foto: Willem Botha)

Die rol van Lulu se kêrel, die rugbyafrigter Simon, word vertolk deur David Louw. Sy lag wanneer sy vertel dat dit nie té moeilik is om liefdevol te raak voor die kameras nie.

“Hy is darem ietsie vir die oog. Met die maatreëls wat ingestel is om die koronavirus se verspreiding te help bekamp, mag ons nie op stel vry nie. Dit is eintlik baie hartseer vir my, want as enkellopende meisie het ek gedink ek strike dit nou lucky hier, ten minste kry ek ʼn bietjie aksie op die skerm,” skerts sy.

In 2018 het Visser as een van die vars, jong gesigte in Johan Cronjé se grensverskuiwende Afrikaanse rolprent Wonderlus verskyn in die rol van Elsa, ʼn prettige bruidsmeisie.

“Ek het haar vreeslik geniet. Sy was beslis een van die mees komplekse karakters wat ek al vertolk het. Sy was eg en het diepte gehad, maar was ook baie pret. Sy was ʼn jonger weergawe van myself – dáái was Ansu op ʼn tyd in haar lewe!”

Sy sê sy vertolk meestal ligte karakters wat komiese verligting bied en ʼn toevoeging is tot ʼn ander karakter se storie. “Daai karakters het altyd ʼn bietjie meer vryheid en is meer pret. Ek het ʼn prettige kant aan my en dit kom gereeld deur in my rolle.”

Op verlede jaar se kykNET Silwerskermfees het Visser egter ʼn ernstige hoofrol vertolk in die kortfliek Binnelandse sake, geskryf en geregisseer deur Burger Meyer en vervaardig deur Duan Wanty. Sy is met die Silwerskerm-toekenning vir beste aktrise in ʼn kortfliek vereer.

“Ek wou [met daardie rol] bewys ek is meer as net ʼn snaakse mens of ʼn snaakse karakter. Dit was lekker om op daardie manier uitgedaag te word.”

Ansu is met die toekenning vir beste aktrise in ‘n kortfliek vereer vir haar rol in ‘Binnelandse sake’. (Foto: Instagram/Jaco Marais)

Sy was ook te sien as die bitsige Bettie in die kykNET-reeks Tydelik terminaal, wat handel oor Kittie, ʼn joernalistiekstudent wat met kanker gediagnoseer word. Visser vertel sy het aanvanklik ʼn oudisie afgelê vir die rol van Kittie, maar dat hulle die rol van Bettie vir haar aangebied het.

“Met daardie karakter het ek blindelings ingegaan en haar net gespeel soos wat ek gedink het sy moet wees. Baie mense het my gekomplimenteer oor wat ek met Bettie gedoen het, al is ek self nie seker hoe ek lewe aan haar gegee het nie.”

Visser (27) is in Pretoria gebore en getoë en is die middelste van drie sussies. Haar oudste sussie, Runé (30), jongste sussie, Jo-Mari (22), en haar ouers woon steeds in Pretoria.

“Ek het my ouma Ansu se naam gekry. Sy is ook die een wat gereël het dat ek dramalesse kry by die laerskool waar sy as administrasieklerk gewerk het. Sy vertel altyd die storie dat ek in die kleuterskool vir haar ʼn foto van myself gewys het en toe sy my vra oor hoe ek poseer, het ek gesê: ‘Ouma weet dit nog net nie, maar ek gaan eendag op die TV wees’.”

Die toneelspelgogga het behoorlik gebyt en sy het uiteindelik ná skool drama aan die Universiteit van Pretoria gaan studeer.

“My aanlegtoetse het getoon ek moet verbruikerswetenskappe vir binnehuise ontwerp studeer, maar ek het altyd gehoop my toetse sê ek moet gaan drama studeer. Toe ek vir albei kursusse keuring kry, het ek geweet ek wil eerder drama swot.”

Ansu Visser. (Foto: Mandy Stander)

Sy vertel sy was ook ʼn kranige danser en dat sy dié talent by die vroue in haar familie geërf het. “Hulle is gróót op sokkie – en ek is mal daaroor. My ma se kant van die familie is van Bothaville in die Vrystaat afkomstig, en sy en haar sussies gee glad nie om om hulle boude op ʼn dansvloer te swaai nie.”

As aanbieder van Chat Nou! en Fiësta op kykNET het sy ook die geleentheid gekry om die land vol te reis, maar sy het die afgelope paar jaar in Linden in Johannesburg wortelgeskiet.

Die skuif na Johannesburg van Pretoria was ʼn geloofstap, sê sy. “Chat Nou! het einde September 2018 tot ʼn einde gekom en op 1 Oktober 2018 het ek Johannesburg toe getrek. Ek het net gesê: ‘Oukei, Here, U het nou gesê ek mag trek, so ek gaan nou maar voort hiermee’. En hier sit ek, amper drie jaar later, nog steeds besig om elke maand my huur te betaal, wat ongelooflik is.”

Visser sê dat sy benewens haar akteursdrome ook daarvan droom om eendag getroud te wees. “Ek is mal oor verhoudings en die liefde. Ek voel my werk is iets wat my besig hou, maar ek voel nie om ʼn aktrise en skrywer te wees, is my hoofdoel waarvoor ek op die aarde geplaas is nie.

“Ek dink as die huidige pandemie ons enigiets kom leer het, is dit juis dat jou werk nét jou werk is. Daar is baie ander dinge wat veel belangriker is as watter werk jy doen en wat jou loopbaandrome is. Dit is nog altyd ʼn baie diep begeerte in my hart om iemand se vrou te wees en ek voel dit is my ware roeping. As daar nou een ding is wat ek sou moes doen in hierdie lewe, is dit om ʼn vrou te wees vir iemand.”

Getroud met rugby is elke weeksaand om 18:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, te sien. Wonderlus en Binnelandse sake is op Showmax te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

AmY ·

Sy is só ‘n oulike mensie.
Mal oor haar!!!
Ansu; ek is bly jou drome het waar geword xxx

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.