Braai-inspirasie met Jan Braai

Bring die braaihout en die braaisout, steek aan die vuur en sit reg vir aksie. kykNET se Jan Braai vir Erfenis is terug vir ʼn sewende seisoen van vleisies op die kole wat jou mond gaan laat water.

Jan besoek tydens hierdie seisoen interessante plekke soos die Timbavati Wildreservaat, die Overberg, Oranjemund in Namibië en Moditlo in die bosveld. Hy wyk selfs sover uit as Amsterdam om te gaan kyk hoe die Nederlanders Koningsdag vier.

Dis nie asof dit moeilik is om mense te oortuig om te braai nie, maar in seisoen 7 gaan Jan sowaar uit sy pad! Daar is die Tour de Braai – ʼn fietstoer van George af na die Buffeljagsrivier. Jan en 25 fietsryers vat die pad en vind so met die trap saam die beste braaiplekke langs die pad. Hulle stop in Oudtshoorn, Calitzdorp, Van Wyksdorp en Riversdal.

Die Europese been van hierdie seisoen se braaitoer neem Jan van Amsterdam na Gerhardsbergen en Brussel in België waar hy aan allerhande plaaslike lekkernye smul, en op vreemde plekke braai.

Natuurlik is daar in dié seisoen ook weer ʼn verskeidenheid resepte wat Jan met sy kykers deel: Verbeel jou ʼn T-beensteak met mosterdroomys, steak in ’n biltongkors, en ʼn koffie-steak. Jy sal leer om steak-espetadas op die braai te maak, watter port die lekkerste saam met ʼn braai smaak, en hoe om die heerlikste Marmite-en-kaassous vir jou braaivleis te maak.

In een episode wys ʼn kenner jou hoe om ʼn heel skaap te ontbeen, en op besoek aan die Kleinrivier kaasplaas sal jy uitvind hoe om die moeder van alle braaibroodjies te maak.

As jy moeg is vir braai in jou agterplaas, kom op reis saam met Jan Braai en kyk hoe hy allerhande eksotiese braaiplekke uitsnuffel wat jou weer sal inspireer om oorspronklik en kreatief te raak wanneer jy self ʼn vuurtjie aansteek. Al jou braai-inspirasie is op Showmax.

Vanaf 15 Julie is Jan Braai Seisoen 7 vir die eerste keer op Showmax beskikbaar. Indien jy nog nie vir Showmax ingeteken het nie, probeer die gratis 14 dae-proeflopie vir duisende ure se topklas vermaak op jou rekenaar, slimfoon, slim TV of tablet.

*Let daarop dat hierdie reeks op 15 Julie aanvanklik net vir Showmax-kykers in die buiteland beskikbaar gemaak word. Laat weet gerus jou vriende en familielede in die buiteland!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.