Braai, reis en loop saam met bekendes in SA’ners se skoene

Showmax bied van 28 Maart 2017 af eksklusiewe nuwe eg-Suid-Afrikaanse vermaak vir kykers in die buiteland. Veertien van die gewildste reekse op die Afrikaanse leefstylkanaal VIA word nou volledig op Showmax beskikbaar gestel.

Dié programme het almal op verskillende maniere die vinger op die pols van die lewe in Suidelike Afrika: of dit nou die Suid-Afrikaanse ritueel van ’n behoorlike braai is, pret om ’n potjie, of die land se mees bekende broer en suster wat hulle glanslewe verruil vir die werklikheid van gewone Suid-Afrikaners… hulle gaan jou lekker huis toe laat verlang.

Bobby en Karlien: In jou skoene wys wat gebeur wanneer twee van die mees gewilde Suid-Afrikaanse musieksterre in die skoene van doodgewone Suid-Afrikaners klim, en hierdie mense se wel en weë eerstehands beleef. Daar is vreugde en trane soos hulle ander se stories leer ken en deel.

Die vierde seisoen van Kom ons braai lewer nog meer van die wenresep wat die eerste drie seisoene so suksesvol gemaak het. Uiteenlopende Suid-Afrikaners braai oor en weer – en dis nie net die kole wat warm raak nie! Om die braaivleisvuur sê mens mos ’n ding soos hy is – en dit maak vir sappige kykgenot.

Naas braaivleis is potjiekos seker die mees ikoniese Suid-Afrikaanse kuierkos – en in Laat die potte prut spook drie spanne dit om die pot uit om te sien wie as potjiekoskoning bekroon word. Al die disse word in potjies voorberei, maar minstens een moet gebak wees. Dis die professionele potjie-kokers wat die beoordelaars met verstommende smake sal beïndruk.

Erns Grundling en Toast Coetzer is twee van die land se mees bekende reisjoernaliste, en in Weg Agterpaaie Namibië vat die twee die pad na die woestynland net noord van Suid-Afrika se grense. Hulle verken die mooiste plekke in die omgewing, en ontmoet interessante mense.

In Vrydag 4 uur vat die maltrap-paartjie Dirk en Alti laatmiddag die pad vir ‘n naweek vol pret en ontdekkings. Hulle roadtrip soos pro’s, en wys jou waar om te stop, met wie om te kuier en – dalk die belangrikste – watter musiek om langs die pad te luister. Sit reg vir Seisoen 4 van hierdie twee se avontuur.

Pasgetroud vertel die stories agter verliefde paartjies se troudae. Elke paartjie het ’n wenslys waarop dié dinge staan wat hulle groot dag ’n droomdag gaan maak. VIA se kameras is daar om al die drama by die bruilof vas te vang – en om te help seker maak dat die paartjies se drome waar word. Kyk nuwe seisoene 2 en 3.

Die geliefde skrywer Dana Snyman vat weer die pad in Seisoen 2 van Op pad met Dana. Hy ontmoet interessante karakters en vertel die stories van régte mense, diegene wat jy nie gewoonlik voor die kameras sal sien nie, maar wat in der waarheid die hartklop van ons land verteenwoordig.

As jy lief is vir kook, of sommer net baie van kos hou, gaan jy mal wees oor Inspirasiekos met Sarie. Herman Lensing, Sarie se kreatiewe kok, wys jou hoe om verstommende disse aanmekaar te slaan en vertel interessante kosstories wat die mense en kontreie van die land verken. Daar is 4 volledige seisoene op ShowMax – so jy gaan nie gou weer uiteet nie!

Plaaskombuis is die storie van die stadige, vertroostende disse wat in potte op die platteland prut. Die aanbieder is die geliefde Elma Postma, wat al agter die heerlike geure en geheime van egte boerekos aan reis, en die gasvryheid van die plaasmense met kykers deel. Smul saam aan die volledige eerste seisoen.

Rian van Heerden is die aanbieder van Die Grootste Genoot, ‘n speletjiesprogram wat Huisgenoot-behepte lesers teen mekaar opmeet. Die program kyk terug op 100 jaar van Huisgenoot se bestaan en beroemde en berugte stories wat Huisgenoot-lesers oor die jare vermaak het. Kyk Seisoen 1 om te sien hoe jy sou vaar.

Die storie agter die Huisgenoot-storie is ’n dokumentêr wat ’n in-diepte kyk gee na Suid-Afrika se mees ikoniese tydskrif. Die dokkie bied insig oor die geskiedenis van Huisgenoot, maar gee kykers ook ’n blik op hoe dinge vandag in die Huisgenoot-kantoor verloop. Herleef die stories wat die nasie aangegryp het, en vind uit waarom lesers net nie genoeg van die sappige stories in Huisgenoot kan kry nie.

Diegene wat Zavion Kotze op Survivor leer ken het, sal mal wees oor sy realiteitsreeks Zavion. Die reeks bied ’n kykie na Zavion se besige lewe as bruilofsbeplanner – maar terselfdertyd is hy ook besig om hard te oefen om te kwalifiseer vir die Olimpiese Spele. Kan mens só besig wees en sukses bereik? Jy sal seisoen 1 en 2 moet kyk om uit te vind.

In ‘n Ster vir my bed help die super kreatiewe en vindingryke span van Idees-tydskrif gastehuiseienaars om hul gastehuise om te tower, en sodoende hul stergradering te verbeter. Dit vat slim dink en mooi werk met begrotings om hulle blink planne uit te voer, maar met die regte idee en netjiese uitvoering, verdien ’n slaapplek ‘n ekstra ster. Daar is 10 heerlike episodes vir almal wat van handwerk, doen-dit-self, en opknapping hou.

Nina Swart is ’n geliefde TV-ster wat in Jou storie met Nina ’n kinkel in die kletsprogram-formaat plaas. Nina gesels met gewone mense en bekendes oor onderwerpe wat haar laat wonder, en haar sjarme en openhartige benadering laat die lippe lekker loskom. Kyk seisoen 1 om te sien wie wat verklap.

As jy wil saamkyk aan hierdie heerlike reekse, teken in op Showmax. Dis bekostigbaar en gerieflik, en laat jou toe om jou gunstelingprogramme te kyk waar en wanneer jy wil, op ’n toestel van jou keuse. As jy eers wil toets of Showmax vir jou is, maak gebruik van die gratis 14 dae-proeflopie. Kry al die inligting by www.showmax.com.

*Let daarop dat hierdie reekse aanvanklik net vir Showmax-kykers in die buiteland beskikbaar gemaak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.