‘Bridgerton’ laat weer TV-rekords spat

Simone Ashley en Jonathan Bailey as Kate en Anthony in ‘Bridgerton 2’. (Foto: IMDb)

Netflix se Bridgerton 2 het pas weer televisierekords laat spat as reeks op die Engelse televisielys wat die meeste gekyk is binne die bestek van ʼn week.

Die Regency-era-romanse het altesaam 251,75 miljoen ure aan kykgenot verskaf in die eerste week wat dit uitgereik is, naamlik van 28 Maart tot 3 April. Dit is ook in die top-tien in 93 lande.

Bridgerton is geskoei op die romansereeks met dieselfde titel deur Julia Quinn en is vervaardig vir Netflix deur die bekroonde Grey’s Anatomy-vervaardiger Shonda Rhimes se maatskappy, Shondaland. Chris van Dusen het die reeks geskep.

Die verhaal speel af in Londen in die vroeë 19de eeu en sentreer om die stormagtige liefdeslewens van die magtige Bridgerton-familie: Violet, adellike burggravin Bridgerton; haar vier seuns, Anthony, Benedict, Colin en Gregory; en haar vier dogters, Daphne, Eloise, Francesca en Hyacinth.

Die Featheringtons, wat bestaan uit Portia, lady Featherington; haar man, die baron; hulle drie dogters, Philippa, Prudence and Penelope; en hulle niggie Marina Thompson, speel ook ʼn prominente rol in hierdie drama.

Die eerste seisoen het hoofsaaklik op die liefdeslewe van Daphne, vertolk deur Phoebe Dynevor, gefokus, terwyl die tweede seisoen op die oudste broer, Anthony, s’n fokus. Die rol van Anthony word deur Jonathan Bailey gespeel.

Netflix se ‘Bridgerton 2’ het pas weer televisierekords laat spat as reeks op die Engelse televisielys wat die meeste gekyk is binne die bestek van ʼn week. (Foto: IMDb)

Anthony is op soek na ʼn gepaste bruid om sy burggravin te word. Sy planne om trou aan dié seisoen se gunsteling te beloof word egter in die wiele gery deur haar suster, Kate (Simone Ashley). Die spanning tussen Kate en Anthony dui later daarop dat hulle inderwaarheid aangetrokke tot mekaar is.

Die eerste seisoen van die Shondaland-reeks het ook intussen teruggekeer na die top van die Netflix-lyste nadat dit vroeg in 2021 ook televisierekords laat spat het. Dit is tans in die tweede plek op die ranglys.

Die nuwe kosprogram, Is it cake?, is in die derde plek. Die Koreaanse treffer Squid Game bly egter die Netflix-program wat die meeste gekyk is binne die bestek van sewe dae. Dit het altesaam 571,76 miljoen ure aan kykgenot in die eerste week van September verlede jaar verskaf.

Bykomende bronne: Forbes, Deadline

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

VannieBaai ·

Ek het dié reeks die Saterdagoggend na vrystelling begin kyk en het al die episodes teen die Sondag laatmiddag klaargekyk!!! Voortreflik! Die rokke wat die dames van daardie era gedra het is so mooi. Ek het die reeks weereens, vreeslik geniet.

Janine ·

Ek het altwee seisoene geniet. Maar die sekstonele? Dis regtig onnodig! Ek verstaan werklik nie hoekom als met seks moet verkoop word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.