‘Bridgerton’: Reeks met outydse sjarme en skeut moderne flair

Phoebe Dynevor as Daphne Bridgerton. (Foto: IMDb)

Elegante balrokke, vuurwarm romanse, hogere Engels en smeulende hoofkarakters is aan die orde van die dag in die Netflix-trefferreeks Bridgerton, wat sy debuut op Kersdag verlede jaar op dié internetstromingsreus gemaak het.

Te oordeel aan die reeks se gewildheid en die gegons op sosiale media oor die vars gesigte wat in die historiese drama verskyn, is dit geen verrassing dat dit onlangs vir ʼn tweede seisoen hernu is nie.

Bridgerton is geskoei op die romansereeks met dieselfde titel deur Julia Quinn en is vervaardig vir Netflix deur die bekroonde Grey’s Anatomy-vervaardiger Shonda Rhimes. Chris van Dusen het die reeks geskep.

People berig Quinn het op die kletsprogram The Tamron Hall Show vertel Rhimes het per toeval op haar boeke afgekom toe sy leesmateriaal gesoek het terwyl sy met vakansie was.

Sy het ook vertel dat sy die presiese oomblik kan onthou toe sy uitgevind het dat Rhimes die boeke vir die kleinskerm gaan verwerk en vervaardig. Sy was besig om te skryf in ʼn Starbucks-koffiewinkel toe haar agent haar met dié nuus gebel het.

Die Bridgerton-gesin. (Foto: IMDb)

“Ek het amper van my stoel af geval,” het Quinn gesê. Sedertdien het sowat 63 miljoen huishoudings wêreldwyd reeds na die eerste seisoen van die reeks gekyk.

Die verhaal speel af in Londen in die vroeë 19de eeu en sentreer om die stormagtige liefdeslewens van die magtige Bridgerton-familie: Violet, adellike burggravin Bridgerton; haar vier seuns, Anthony, Benedict, Colin en Gregory, en haar vier dogters, Daphne, Eloise, Francesca en Hyacinth.

Die Featheringtons, wat bestaan uit Portia, lady Featherington; haar man, die baron; hulle drie dogters, Philippa, Prudence and Penelope; en hulle niggie Marina Thompson, speel ook ʼn prominente rol in hierdie drama.

Phoebe Dynevor (as Daphne, die oudste Bridgerton-dogter) en Regé-Jean Page (as Simon Basset, die hubare hertog van Hastings) is op die voorgrond van die eerste seisoen as twee enkellopendes wat voorgee om ʼn paartjie te wees, elkeen met sy eie geheime agenda.

Hoewel Daphne en Simon aanvanklik nie ooghare vir mekaar het nie, stem Daphne in om te maak asof sy en Simon verlief is in ʼn poging om ander mans aan te moedig om uit jaloesie haar hart te verower.

Regé-Jean Page as Simon Basset. (Foto: IMDb)

Simon bedink dié plan met die hoop dat hy sy indringerige familielede se monde kan snoer oor die feit dat hy nie trouplanne het nie. Die vonke begin egter later tussen dié twee spat en wat ontvou is ʼn liefdesverhaal soos min.

Dynevor is ʼn 25-jarige Engelse aktrise wat aan Glamour vertel het dat sy amper haar drome vir ʼn loopbaan as aktrise laat vaar het toe sy die rol van Daphne Bridgerton losgeslaan het.

Sy was op die punt om ʼn vlug van Los Angeles, waar sy gewoon het, te bespreek terug na haar ouerhuis in Manchester, Engeland, toe die rol oor haar pad gekom het.

“Ek was so te  sê op pad huis toe toe ek die oproep kry dat ek teenoor Regé ʼn oudisie moet aflê. Die tydsberekening was gek. Ek onthou ek het gedink dat ek dadelik huis toe sal gaan na Manchester sou dit nie vir my uitwerk nie.”

Sy het haar ouers wakker gebel nadat haar agent haar meegedeel het dat sy die rol gekry het. “Ek dink nie my familie het daardie aand ʼn oog toegemaak nie. Dit was baie opwindend.”

Dynevor moes onder meer dans- en perdrylesse ontvang om haar vir die rol voor te berei. Sy vertel sy het dit geniet om teenoor Page te speel en verklap dat hy “baie lekker ruik”.

Regé-Jean Page en Phoebe Dynevor vertolk die hoofrolle in ‘Bridgerton’. (Foto: IMDb)

Page is ʼn Engelse en Zimbabwiese akteur bekend vir sy rol as Chicken George in die minireeks Roots (2016) en was ook in die ABC-dramareeks For the People te sien.

Die vonke tussen Dynevor en Page se onderskeie karakters is so tasbaar dat aanhangers op sosiale media begin spekuleer het dat hulle in die werklikheid ook ʼn paartjie is. Die akteurs het nie die gerugte bevestig of ontken nie.

“Ek dink alles wat jy behoort te weet is op kamera,” het Page vroeër vandeesmaand aan Access Hollywood gesê.

“Dit is waarom ons dit so beeldskoon voorgestel het vir julle, en al die vonke wat gevlieg het, het uit die pragtige tekste gekom wat in ons hande gestop is.”

Die ikoniese aktrise, dame Julie Andrews, is die verteller, Lady Whistledown. Sy is die skrywer van die skinderblad, Lady Whistledowns Society Papers, wat op die dorp versprei word en is gevolglik die aanhitser van drama en intrige.

Die doel van die karakter is ook om die gehoor te mislei en om ʼn weerspieëling te wees van wat die karakters dink. Die ware identiteit van dié karakter word in ʼn verrassende wending aan die einde van die reeks onthul.

Die moderne musiek wat gebruik word in die reeks, soos die hartebrekersanger Shawn Mendes se “In my blood”, Billie Eilish se “Bad guy” en ʼn klassieke weergawe van Ariana Grande se “Thank U, Next”, het kykers  ook gaande.

“Sodra jy die reeks aansit en die musiek hoor en die kostuums en kinematografie sien, trek dit jou onmiddellik in,” sê Joy Mitchell van Radio 1 Newsbeat in Brittanje.

Netflix sal na verwagting in die Amerikaanse lente weer op die stel van Bridgerton wees om die tweede seisoen van die reeks te skiet. ʼn Uitreikingsdatum is nog nie bekend nie. Die reeks is nie geskik vir kykers jonger as 16 nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.