Britte deel gesogte TV-pryse uit

Die Baftas TV-toekennings is Sondag uitgedeel. (Foto: Facebook/BAFTA)

Michaela Coel is aangewys as beste aktrise tydens vanjaar se Bafta-prysaand (British Academy Film Awards) vir haar rol in die drama I May Destroy You.

Sy het Killing Eve se Jodie Comer, Small Axe se Letitia Wright, I Hate Suzie se Billie Piper, Adult Material se Hayley Squires en Normal People se Daisy Edgar-Jones uitgestof in dié kategorie.

I May Destroy You het ook die Bafta vir die beste minireeks ingeoes. Die reeks handel oor ʼn jong vrou, Arabella Essiedu, wat haar lewe moet voortsit nadat sy seksueel aangerand word in ʼn nagklub. Die reeks is geïnspireer deur gebeure in Coel se eie lewe.

Die Netflix-reeks The Crown, wat in vier kategorieë benoem is, insluitend ʼn benoeming vir aktrise Helena Bonham Carter vir haar rol as prinses Margaret en ʼn benoeming vir Josh O’Connor as beste akteur vir sy rol as prins Charles, is leë hande huis toe.

Paul Mescal van Normal People is as beste akteur vereer. Charlie Cooper van This Country en Aimee Lou Wood van Sex Education is onderskeidelik as beste akteur en aktrise in ʼn komedie aangewys.

Die geleentheid is vir die tweede keer deur Richard Ayoade aangebied.

Hier is ʼn volledige lys van die wenners.

Bron: BBC

Michaela Coel. (Foto: Facebook)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.