Brûe word verbrand in ‘Die Brug’

Emosies het vanaand hoog geloop in ‘Die Brug’. (Foto: verskaf)

“Wie sal jy opoffer?”

Dít is die vraag waarmee die spelers van Die Brug vanaand moes worstel. Dié vraag, wat aanvanklik bloot filosofies was, het aan die einde van die episode twee spelers se senutergende werklikheid geword.

Brand of bou jy ʼn brug?

Die episode het afgeskop met ʼn verkenningsessie waartydens die spelers hul harte teenoor mekaar kon uitstort. Bondgenootskappe is blootgelê en knakpunte in vertrouensverhoudings is bekendgemaak.

Die persoon wat egter die meeste trane ná dié spel gestort het, was Jamie. Sy is deur onder meer Geo, Rob en Tina aangewys as die persoon wat hulle in dié stadium van die spel huis toe sou stuur.

“Dit het my anders na sekere mense laat kyk. Ek het ʼn bietjie vertroue in sekere mense verloor,” het Jamie na afloop van die sessie gesê. Sy was wel nie die enigste speler wat met ʼn wrok in haar hart gaan slaap het nie.

Jacques was geaffronteerd nadat dit op die lappe gekom het dat Jamie hom nie vertrou nie, en hom sou opoffer indien sy die kans gegun sou word. ʼn Bewoë Iana het Tina ná afloop van die uitdaging gekonfronteer omdat sy hul vertrouensverhouding in gedrang gebring het. Op die vraag: “Wie vertrou jy die meeste?” het Iana vir Tina gekies, terwyl Tina vir Geo gekies het. Iana het egter gevoel dat sy haar vertroue in die verkeerde persoon gestel het, en het haar vriendskap met Tina bevraagteken.

Tina het weer later in die episode besef dat haar vertroue in Geo dalk nie so standvastig moet wees nie, aangesien hy erken het dat hy Rob meer as enige ander speler vertrou. Tina het ook besef dat Geo aan’t stuur staan van hul bondgenootskap, wat uit Tina, Geo, Rob en Iana bestaan.

ʼn Lewenslyn

Terwyl spelers geworstel het met die bou van nog vlotte, het goeie nuus die houthuis getref: die spelers het videoboodskappe van hul geliefdes ontvang. Daar was egter ʼn kinkel in die kabel: net vyf spelers kon hul videoboodskappe kyk, en hulle moes onder hulself besluit wie dié spelers sou wees.

Uiteindelik het die besluit grootliks berus op wie ouer kinders het, en Jamie, Tina, Rob, Jacques en William is gekies om die video’s te kyk.

Die trane het behoorlik gevloei, nie net onder die spelers wat hul geliefdes kon sien nie, maar ook onder dié wat besluit het om eerder om die vuur te bly sit. Geo moes homself verskoon om sy verlange en emosies weer onder beheer te kry.

Vir diegene wat egter boodskappe kon hoor, was dit soos ʼn briesie vars lug wat oor hul gewaai het.

Twee spelers, Melanie en Larry, het die meeste geworstel met wie hulle sou huis toe stuur tydens die brand- of bou-ʼn-brug-spel. Uiteindelik het albei dié spelers gekies om hulself eerder op te offer as om een van hul mededeelnemers die trekpas te gee.

Die spel het aanvanklik bloot geheime verklap, maar het later in die episode daadwerklike gevolge gedra. ʼn Fakkel is geskiet, en die nuus is bekendgemaak: iemand gaan huis toe, en dit is Melanie en Larry wat moet besluit wie dié deelnemer gaan wees.

“My en Melanie se bereidwilligheid om onsself op te offer het teruggekom en ons gebyt,” het Larry met ʼn swaar hart erken. Wie dié speler is wat huis toe moet gaan, sal in die volgende episode bekendgemaak word.

  • Die Brug word Donderdae om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.