Brümilda, Annelisa en Kie. terug op die kassie

Brümilda van Rensburg as Belinda. (Foto: kykNET)

Brümilda van Rensburg is terug in die titelrol in die tweede seisoen van die kykNET-komedie Lui maar op, Belinda.

Dié reeks is eersdaags weer op die kassie en beloof volgens ʼn verklaring om kykers se lagspiere te kielie. Die eerste seisoen van dié gewilde komedie is in 2019 op kykNET uitgesaai en die oorspronklike rolverdeling kom weer byeen vir die nuwe reeks van 13 episodes.

Van Rensburg snoer kragte saam met gesoute akteurs soos Annelisa Weiland (Annetjie), Eric Nobbs (Frans), Duncan Johnson (Ian), Wian Taljaard (Dirkie) en Carmen Maarman (Maggie).

Soos in die eerste seisoen speel die verhaal met die wel en wee van dié groepie aweregse karakters in Ian se hardewarewinkel in George af.

Verskeie ander bekendes soos June van Merch, Hannes van Wyk, Marco Spaumer, André Roothman, Melt Sieberhagen en Craig Adriaanse maak ook hul verskyning.

Die skryfspan bestaan uit Marcel Spaumer, Desiré Gardner en Corné van Rooyen, met Ben Heyns as regisseur.

Spaumer en Gardner, wat tot onlangs in die kykNET-sepie Suidooster te sien was, was in die skryfproses van die vorige seisoen betrokke, terwyl Van Rooyen ook voorheen die regisseur was.

Annelisa Weiland as Annetjie. (Foto: kykNET)

Volgens Van Rensburg is die nuwe seisoen weer ’n toonbeeld van vars komedie. “Lui maar op, Belinda is genotvol en die humor is baie skerp.

“Belinda is ʼn vrou met flair, maar sy hanteer verandering nie eintlik baie goed nie. Om ouer te word is nie vir haar maklik nie, en ʼn plooi op die bolip herinner haar gereeld aan dié lot. Tog het sy steeds drome en gee sy nogal om vir haar vriende en medemens.”

Weiland moes vir die duur van Lui maar op, Belinda tydelik haar Suidooster-sepiekarakter, Kate, verruil vir dié van Annetjie. Sy sê dat die Lui maar op, Belinda-span baie pret agter die skerms gehad het en dat dit ook deurskemer in die episodes.

“Ons akteurs het regtig ‘goed van mekaar af gespeel’, wat baie belangrik is as ʼn mens komedie doen,” sê sy.

“Ek geniet my karakter, Annetjie, vreeslik baie, want sy is eintlik heeltemal die teenoorgestelde van my. Sy is preuts, ouderwets en bietjie konserwatief, maar ek en Annetjie kan albei tog te lekker lag.”

In die tweede seisoen van Lui maar op, Belinda:

Brümilda van Rensburg as Belinda. (Foto: kykNET)

Dit is nou al ʼn paar jaar sedert Annetjie haar gevoelens vir Frans diep in haar sak begrawe het en die hasepad gekies het. Ian verwerk ook nog die skok van sy huwelik wat op die rotse is terwyl Frans, Belinda en Dirkie ʼn eenvoudige dog vervelige bestaan in die ou winkeltjie probeer lei.

Annetjie word gemis en die spannetjie besluit om iets omtrent haar afwesigheid te doen en wanneer sy terug is, begin die oues se ondeundheid van vooraf: Ian moet meeding met sy eksvrou wat uit die bloute ʼn winkel oorkant syne oopmaak en Belinda steek haar haweloosheid vir almal weg.

Frans en Annetjie raak versoen en Belinda voel sy wil ook weer op afsprake begin gaan, en Dirkie begin die soektog na sy biologiese ouers. Daar is ʼn groot troue, maar die wittebrood moet dalk uitgestel word wanneer Belinda deur die uitdagendste rol van haar lewe in die gesig gestaar word…

Die tweede seisoen van Lui maar op, Belinda begin Maandag 5 Julie op kykNET (DStv-kanaal 144).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Belinda ·

Ugh ek hoop net nie hulle is so eenvoudig soos die lot op 7de laan nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.