‘BSV’: Boer Francois se besluit wéér vir hom gemaak

Boer Francois en aanbieder, Marciel Hopkins. (Foto: Verskaf)

Emosies het hoog geloop in Donderdagaand se episode van Boer soek ʼn vrou toe vanjaar se boere elkeen die finale vrou moes kies om vir eers saam met hom op die plaas te bly.

Boer Louis M het vir Anja gevra om langer saam met hom op sy wildsplaas in Bela-Bela in Limpopo te bly. Hy het vir Laurette – wat vroeër aan aanbieder Marciel Hopkins gesê het dat sy aanslag teenoor hom en Anja haar deurlopend deurmekaar gelaat het, huis toe gestuur.

“Ek dink die feit dat hy aan elkeen van ons gevat het, het selfs sy vriende en familie deurmekaar gemaak. Mens kom op ʼn punt waar jy oor dit is,” het Laurette oor haar ervaring gesê.

In die Wes-Kaap het boer Hennie vir Eloïse gevra om langer op die plaas te kuier.

“Nou kan ek asem haal en ietsie gaan eet,” het ʼn verheugde Eloïse na sy besluit gesê.

“Ek dink ʼn mens moet maar oopkop oor hierdie goed wees, jy berei jouself voor vir goeie nuus én teleurstelling,” het Rachelle vir Marciel gesê nadat sy Hennie gegroet het.

Volgens boer Philru het die vorige dag se alleentyd hom help bepaal wie langer saam met hom op sy plaas in Petrus Steyn in die Vrystaat gaan bly.

“Die gesprek het maklik gevloei, dit het gevoel asof ons oor enigiets met mekaar kon praat,” het hy oor sy keuse om vir Lané langer op die plaas te laat kuier, gesê.

“Is jy reg vir die avontuur,” was Lané se tergende reaksie op Philru se besluit.

Volgens Sumari het sy ook rustigheid in haar hart oor sy keuse. “Dit het nie gelyk of dit vir hom ʼn moeilike besluit was nie. Ek is bly vir hom.”

In ʼn onverwagse wending is boer Francois vir ʼn tweede keer deur een van die vroue op sy plaas gegroet.

Maroela Media het vroeër berig dat Lizelle, een van die drie vroue wat aanvanklik vir die week op Francois se volstruisplaas sou kuier, met haar aankoms besluit het om kop uit te trek.

“Ek het iemand anders ontmoet voor ek plaas toe gekom het. Ons was voorheen net vriende, en intussen het die verhouding ontwikkel in iets meer,” het Lizelle destyds aan Francois en Marciel, verduidelik.

Lorinda en Vanessa. Foto: Verskaf)

Lorinda het in Donderdagaand se episode ook besluit om boer Francois se keuse te vergemaklik en self besluit om die plaas te verlaat.

“Dankie dat jy ons altwee so mooi behandel het, ek gaan totsiens sê. Ek dink nie ek sien kans om aan te gaan nie,” het ʼn tranerige Lorinda aan Francois gesê.

Volgens Lorinda kon sy van dag twee af op die plaas sien dat Francois en Vanessa ʼn hegte band het. “Ek wou nie verneder voel as hy iets sê wat ons altwee eintlik klaar weet nie.”

By boer Louis B is Rachie gevra om langer te kuier en Cherecé gevra om die plaas te verlaat.

“Hy het gesê hy soek ʼn vrou wat hierdie onbeskryflike gevoel in hom kan ontlok en as sy die een is wat dit vir hom gee, dan is ek baie gelukkig vir hom. My persoon kom nog,” het Cherecé oor Louis se besluit gesê.

Boer soek ʼn vrou is elke Donderdagaand om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, te sien. Dit word ook op CatchUp uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.