‘BSV’-boere het skoot hoog deur

Liandi en Arina wag op boer Johan se plaas om te hoor wie hy wil hê moet langer kuier. Hy het vir Arina gekies. (Foto: Verskaf)

Na weke se afwagting en asems ophou het vanjaar se boere-deelnemers aan Boer soek ʼn vrou uiteindelik bekend gemaak met watter een van die twee vroue op hul plase hulle ʼn toekomspad wil stap.

Op boer Johan van Marquard in die Vrystaat se plaas het Kupido se liefdespyl in Arina se rigting geskiet en het hy vir Liandi huis toe gestuur.

“Ek is opgewonde en optimisties. Hy tick outomaties al my boksies en ons is baie gemaklik rondom mekaar,” het Arina aan Marciel Hopkins, aanbieder van die program, gesê kort voordat Johan sy keuse bekend gemaak het.

“Ek verstaan sy wêreld en ek hou baie van hom. Hy is ʼn warm mens en ek voel veilig by hom. Niemand wil soos ʼn tweede opsie voel nie en dis vir my belangrik dat hy sy keuse opreg moet maak. Ek wil nie ʼn louwarm ding hê nie – ek wil ʼn vuurwarm ding hê.”

Esmerélda en Margot wag op boer Nelis se plaas om te hoor wie hulle tasse moet pak. Hy het vir Esmerélda gekies om agter te bly. (Foto: Verskaf)

Boer Nelis, wat op die Vaal Marina in Gauteng boer, het ná ʼn lang dag vir Esmerélda gekies. “Dis ʼn hengse proses hierdie,” het ʼn tranerige Esmerélda gesê voordat Nelis vir Margot huis toe gestuur het.

“My keuse het deur die loop van die week geswaai,” het Nelis teenoor Marciel gebieg. “My kop en my hart belyn gelukkig meeste van die tyd. Wat ek hou van Esmerélda is dat sy redelik konstant bly, want ek is ʼn loskop.”

Esmerélda het geskerts dat sy agter Nelis moes skoonmaak die week wat sy op die plaas by hom gekuier het. “Ek is ʼn moeite-mens,” het sy gesê.

“Dalk is die eerste stap net eers om Nelis se nommer te kry,” het sy gelag terwyl sy en Nelis hande vasgehou het.

Op Tyson se plaas in KwaZulu-Natal was die atmosfeer aanvanklik baie speels terwyl hy, Annelle en Alri sy geliefde hond Bullet gebad het.

Annelle en Alri het op boer Tyson se plaas gekuier. Hy het vir Alri gekies om langer te bly. (Foto: Verskaf)

Dit het egter later ernstiger geraak toe hy sy keuse moes maak van wie op die plaas gaan agterbly. Annelle het uiteindelik haar tasse gepak terwyl Alri agtergebly het.

“Tyson weet presies wat hy wil hê en as jy vir hom gaan probeer voorskryf oor hoe dinge moet werk, gaan jy hom in ʼn boksie druk. Hy maak dit duidelik hoe hy van dinge hou en dis belangrik om hom te los om homself te wees. Dit is wanneer hy blom,” het Alri aan Marciel gesê.

“Daar is beslis ʼn moontlikheid vir iets meer as vriendskap, hoewel ek nie nou al kan sê dat ek verlief is nie. Ek hou wel baie van haar – haar oë, hare en klerestyl is vir my mooi,” het Tyson oor Alri gesê.

Op Petré se plaas in Vierfontein lyk dit asof die liefde behoorlik tussen dié boer en Lourize, ʼn spraakterapeut wat tans in Port Elizabeth woon, blom.

Nadat Bu-Anda in verlede week se episode self besluit het om die plaas te verlaat, het Lourize en Petré alleen tyd op die plaas deurgebring en mekaar se sin vir humor en geselskap terdeë geniet.

Boer Petré en Lourize het die skoot hoog deur. (Foto: Verskaf)

“Ek sal nie op dié stadium vir Lourize ʼn vriendin kan noem nie, want ʼn mens kyk nie na jou vriendin op die manier wat ek vir Lourize kyk nie,” het Petré gesê terwyl hy haar aan sy geliefde koei Daisy voorgestel het.

“Ek moet net kort-kort seker maak ek is wakker. Ek is opgewonde en sien uit daarna om nog meer van haar te leer ken. Met haar wat tans in PE woon, sal ek seker binnekort myself meer gereeld op lughawens bevind,” het Petré bygevoeg.

Lourize het dit giggelend beaam en geskerts dat Petré “die maklike uitweg” gekry het toe Bu-Anda self weg is van die plaas af.

“Ek is opgewonde oor die toekoms,” het sy gesê en bygevoeg dat sy binnekort ʼn werksonderhoud in Potchefstroom, nader aan Petré se plaas, het.

Boer Willem van Philippolis in die Vrystaat het in verlede week se episode albei die vroue op sy plaas die trekpas gegee.

Boere Nelis, Johan, Petré en Tyson sal binnekort die geleentheid kry om die vroue wat hulle gekies het se families te ontmoet.

Boer soek ʼn vrou is op Donderdae om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, te sien. Dit is ook op DStv CatchUp beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Chantel ·

Ek hoop werklik hierdie jongmense vind geluk, dis nie lekker om alleen die lewe te moet aanpak nie. Sterkte vir julle almal

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.