‘BSV’: Boere verklap hoe sake van die liefde staan

Vanessa en Francois is nog saam. (Foto: Verskaf)

In die laaste episode van die 15de seisoen van die maatsoekreeks, Boer soek ʼn vrou, het nege van die toptien boere saamgekuier en gespog met die nuwe liefde in hulle lewens.

Die reünie-episode is reeds in November verlede jaar geskiet. Kupido se pyl het duidelik vir boer Francois en die donkerkop Vanessa getref.

Die paartjie het verklap dat Vanessa binnekort haar tasse gaan pak om van Benoni in Gauteng na sy volstruisplaas in Oudtshoorn te trek.

Francois het intussen aan kykNET bevestig dat hy en Vanessa nog steeds gelukkig saam is.

“Ek het inderdaad liefde gevind! Iemand met wie ek kan eerlik wees, en wat my deur goeie en slegte tye kan bystaan en ek ook vir haar. Ek sou nie vir Vanessa andersins ontmoet het nie. Dis alles te danke aan Boer soek ’n vrou.”

Rachie en Louis B is nog saam. (Foto: Verskaf)

Boer Philru van Petrus Steyn in die Vrystaat het saam met Dihana, wat voorheen op Louis M se plaas gekuier het, by die reünie opgedaag. Hulle het mekaar via sosiale media gekontak nadat dinge tussen Philru en Lané nie uitgewerk het nie.

Hoewel Philru en Dihana tydens die reünie die skoot hoog deur gehad het, het hy intussen aan kykNET gesê hy is tans enkellopend.

“Ek het nog nie liefde gevind nie, nee, maar is baie positief oor die liefde in die toekoms,” het Philru gesê.

Hennie van Moorreesburg in die Wes-Kaap het ook alleen opgedaag. Hy het egter vir Marciel Hopkins, aanbieder van die program, gerusgestel dat die donkerkop Eloïse net nie verlof by die werk nie kon kry en daarom nie die reünie kon bywoon nie.

“Ja, ek en Eloïse is nog saam. Ek raak by die dag meer verlief,” het hy ook onlangs aan kykNET gesê.

Hennie en Eloïse is nog gelukkig saam. (Foto: Verskaf)

Louis B van Ottosdal en Rachie het ook saam by die reünie opgedaag en het aan Marciel gesê hulle beplan ʼn rooskleurige toekoms saam.

“Ek het ’n baie spesiale meisie gekry en ek en Rachie is baie gelukkig,” het Louis B intussen aan kykNET gesê.

Louis M, wat alleen by die reünie opgedaag het, het intussen aan kykNET gesê hy het nog nie liefde gevind nie.

“Vir my is liefde nie iets wat oornag of met ’n paar geselsies gevind kan word nie. Soms is dit iets wat tyd vat om op ’n gesonde basis te begin en dan te groei,” sê Louis M.

“Daarom gaan ek nie oorhaastige besluite neem nie. Ek het iemand oulik ontmoet en ons leer mekaar nog ken. Sover lyk dit baie goed. Ek wil nie weer ’n fout maak nie. Ek is ernstig en wil graag settle met ’n oulike meisie aan my sy wat saam met my die lewe sal aanpak.”

Die res van die toptien, wat insluit boere Cherié, David, Rampie en Kotie het almal nog enkellopend by die reünie opgedaag. Riaan, wat ook deel gevorm het van die toptien, het nie die reünie bygewoon nie.

Boer soek ʼn vrou is op DStv CatchUp beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Anna84 ·

Louis B, Hennie en oom Francois was my gunstelinge en is so bly hulle het geluk gevind!!! Het aanvanklik van Louis M gehou, maar sy swak maniere het my heeltemal van plan laat verander. Sonder om vir Philru te oordeel, lyk dit maar vir my of hy nie eintlik weet wat hy soek nie.

Hennie lyk verseker oor sy ore toe verlief, ek vermoed dit gaan ‘n gelukkige einde hê. Hoop ook so vir Francois en Louis B, hulle lyk albei so opreg met geen bybedoelings nie.

RS ·

Louis B lyk heel gelukkig en is baie bly dat hulle dinge op die regte manier handteer. Trou haar gou gou!

Louis M …nee ek weet nie. Hy wil n meisie he aar lyk my nie hy wil werklik vas wees nie. Gaan dink maar nog n bietjie oor wat die lewe jou moet gee en bedaar n bietjie ou.

Francois lyk gelukkig metsy keuse maar ek weet werklik nie of dit in die langduur gaan uitwerk nie. Daar is iets omtrend hul prentjie wat nie reg lyk nie.

Philru is effe nat agter die ore. Hy wil ook iemand he maar of hy weet nie hoe en wat om te maak nie of hy besef na die proses watse harde werk dit is om aandag te gee aan iemand.

Hennie, nou hier is n boertjie wat weet wat hy wil he en dit reg doen en dit reg kry. Hy is gelukkig en hulle twee se harte sit op die regte plek deur die proses. Ek wens julle sterkte toe. Kinders by dosyne!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.