‘BSV’: Dinge raak nou ernstig

Petré en Lourize. (Foto: Verskaf)

Hoewel die deelnemers aan vanjaar se seisoen van Boer soek ʼn vrou aanvanklik skugter was om hulle ware gevoelens te wys, het hulle in vanaand (Donderdag) se episode getoon hulle is wel almal daar om die regte rede: Om liefde te vind, al dan nie.

Op boer Petré se plaas het die borrelende blondekop, Bu-Anda, besluit om self haar tasse te pak nadat sy erken het sy koester geen ander gevoelens as vriendskap teenoor die Vrystaatse boer nie.

Bu-Anda het ook te kenne gegee dat sy kan sien daar is iets aan die broei van Lourize se kant af en dat sy eerder ʼn verhouding tussen Petré en Lourize kan sien ontwikkel.

“Jy is ʼn wonderlike mens en ek het alles gate uit geniet op die plaas. Dit was ook fantasties om vir Lourize te leer ken, maar jy is dalk net nie die man vir my nie,” het die Kaapse Bu-Anda, oorspronklik van Wellington, gesê.

Hoewel Petré effe onkant betrap is deur Bu-Anda se besluit om voortydig die plaas te verlaat, het hy erken dat dit is “hoe dinge sou eindig”. Lourize het ook laat hoor dat sy onkant betrap is, maar dat sy “opgewonde” is oor wat tussen haar en Petré kan blom.

“In hierdie stadium is ek redelik seker dat ons ʼn gevoel deel en baie belang stel in mekaar se geselskap. Tyd sal leer,” het Petré oor Lourize gesê.

Willem het vir beide Chantel en Sonja gegroet. (Foto: Verskaf)

Boer Willem, van Philippolis in die Vrystaat, het ook besluit om na sy hart te luister en het albei die vroue op sy plaas die trekpas gegee.

“As ek kon, het ek al vandag die plaas verlaat,” het Sonja laat hoor kort voordat Willem sy hart met hulle gedeel het.

Chantel en Sonja het egter verskillende reaksies gehad op Willem se nuus. Sonja, die donkerkop ma van drie, was ooglopend verlig oor Willem se besluit, terwyl Chantel ʼn meer emosionele reaksie gehad het.

“Ek is net ʼn bietjie uit die veld geslaan. Ek dink ek en Willem sal dalk later kan vriende wees, maar vir eers het ek net ʼn bietjie spasie nodig,” het Chantel aan Marciel Hopkins, aanbieder van die program, gesê.

Boere Tyson, Nelis en Johan het ook elkeen die geleentheid gekry om individuele alleentyd saam met die vroue op hulle plase deur te bring.

Tyson wil nog steeds nie veel verklap oor watter een van die vroue hy verkies nie. Hy het wel benadruk dat hy nie ʼn vrou soek wat ʼn loopbaan van haar eie nastreef nie en dat hy sal verkies dat sy toekomstige vrou hom op die plaas ondersteun.

Hieroor was Alri op dieselfde golflengte as Tyson. “As kind was my rolmodel my ma, wat ʼn tuisbly-mamma was. Ek weet ek wil graag dieselfde hê – ek wil ʼn ma wees en ek wil daar wees vir my kinders,” het sy gesê, waarop Tyson geantwoord het dat dit is wat hy wil hoor.

Nelis en Margot tydens hulle alleentyd. (Foto: Verskaf)

Esmerélda, ʼn donkerkop skoonheidsterapeut van Springs, het vir Nelis gepeper met diep vrae tydens hulle alleentyd, terwyl hy en Margot, wat tans in Luxemburg woon en ʼn vakansie in Athene kortgeknip het om by Nelis op die plaas te kuier, ʼn gemakliker gesprek gehad het.

“Ek besef ek kan nie vir altyd toer nie en dat dit tyd is om te settle,” het Margot gesê, terwyl Esmerélda emosioneel gesê het sy wil nie meer “wonder” oor die toekoms nie.

“Vanaand aan tafel het ek reg oorkant hom gesit en ek het myself so ʼn paar oomblikke betrap dat ek net vir hom gesit en kyk het. Ek dink iemand raak vir jou soveel mooier hoe beter jy hulle leer ken. Ek dink hy is ʼn mooi man,” het Esmerélda gesê nadat hulle saam aandete geëet het.

Op boer Johan se plaas het Arina nie ʼn moordkuil van haar hart gemaak nie. Sy het erken dat dit “vir haar lekker is om sy [Johan se] stem te hoor in die verte”. “Vandat ek op die plaas aangekom het, was dit vir my gemaklik en asof dit tweede natuur is. Ek hoop in my hart dat hy my sal kies,” het sy bygevoeg.

Liandi het reguit gevra of Johan in haar belang stel, waarop hy geantwoord het dat hy wel in haar belang stel.

“Ek is nogal bang om valse hoop te skep en dit is hoekom ek so terughou. Ek is eerlik met jou, ek stel belang. Op die regte tyd sal ek oopmaak, maar ek wil nie iemand seer maak nie,” het Johan vir Liandi gesê.

“Ek hou baie van jou sin vir humor en persoonlikheid. Ek het nou al lekker vir jou gelag,” het Johan bygevoeg.

Boer soek ʼn vrou is op Donderdae om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, asook op DStv CatchUp te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Jack ·

Hierdie is seker die laagste vorm van enterainment op TV.Regtig dit kan maar in die niet verdwyn.Gemors.

Anna84 ·

Dis ‘n goeie vraag Nommer 7, hoe weet Jack as hy dit nie kyk nie. En as hy dit kyk, hoekom kyk hy dit as dit gemors is????

VaalDonkie ·

Hulle moet ‘n meer outentieke weergawe van hierdie program maak waar daar gesuip en baklei word elke naweek en die wenner die meisie kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.