‘BSV’: Een pak self tasse op gewilde boer se plaas

Annelle, Alri en Chantelle het op Tyson se plaas gekuier. Chantelle het self besluit om die plaas te verlaat. (Foto: Verskaf)

Een van die vroue wat op vanjaar se gewildste boere-deelnemer aan kykNET se maatsoekreeks Boer soek ʼn vrou se plaas gekuier het, het gesorg vir ʼn opskudding toe sy self besluit het om haar tasse te pak.

Die blondekop Chantelle, wat as ʼn mondhigiënis in Kaapstad werk, het besluit om boer Tyson se plaas in KwaZulu-Natal te verlaat voordat hy nog sy finale keuse kon maak oor watter een van die drie in vanaand se episode hulle ry moes kry.

Dit het die donkerkop Annelle genoop om te vra of dit ooreenstem met die keuse wat Tyson wel sou gemaak het. “Ek en Alri wil nie hier agterbly as jy nie wil hê dat dit een van ons moet wees nie,” het sy gesê, waarop Tyson geantwoord het dat hy in elk geval vir Chantelle die trekpas sou gee.

“Ek voel nie dat daar ʼn konneksie tussen my en Tyson is nie en ek dink nie hy hoef ʼn keuse te maak as ek reeds weet dat hy nie my tipe is nie. Ek laat my intuïsie my lei en ek weet vinnig of ek iets vir iemand voel of nie,” het Chantelle aan Marciel Hopkins, die aanbieder van die program, gesê.

Tyson en Marciel Hopkins, aanbieder van die program, kort voordat Chantelle aangekondig het sy wil die plaas verlaat. (Foto: Verskaf)

Tyson het dit beaam dat dit belangrik is om jou instink te vertrou. “Ek het reeds ʼn gevoel oor wie by my gaan pas en my gaan aanvul. Die een vrou wat vir my uitstaan se oë en hare is baie mooi,” het hy verklap.

Op Willem se plaas in Philippolis, Vrystaat, het Sonja teenoor Marciel erken dat dit belangrik sal wees om haar kinders se roetine aan te pas by dié van Willem se twee kinders.

Sy het ook gesê sy dink nie Nicolene pas by Willem nie, terwyl Nicolene weer gesê het sy dink daar is ʼn “aantrekking” tussen Sonja en Willem. Willem het uiteindelik vir Nicolene gevra om haar tasse te pak, terwyl Sonja en Chantel op die plaas agterbly.

“Dit pla my ʼn bietjie dat ek nog nie ʼn volwaardige spark voel nie, maar dit is dalk te vroeg daarvoor,” het Willem aan Marciel gesê.

Petré groet vir Eloise nadat hy haar die trekpas gegee het. (Foto: Verskaf)

Eloise het Petré se plaas op Vierfontein in die Vrystaat verlaat nadat hy vir Bu-Anda en Lourize gevra het om nog by hom aan te bly.

“Bu-Anda is iemand met baie energie en wat kan bydra tot die energie in my lewe, terwyl Lourize iemand is wat baie gemaklik is. Ek dink Eloise sal ʼn goeie huisvrou wees en nie skrik vir werk nie, maar ek dink sy is dalk net ʼn bietjie te rustig vir my,” het Petré aan Marciel gesê.

Op Johan se plaas in Marquard in die Vrystaat het die trane gevloei toe Johan vir Chanzé gevra het om die plaas te verlaat. Liandi en Arina, wat vroeër gesê het Johan gee vir haar skoenlappers in haar maag, het aangedui dat hulle nog op die plaas sal aanbly.

“Ek is op soek na ʼn saggeaarde meisie. Ek hou nie daarvan om ge-mikrobestuur te word nie, en ook nie van iemand met ʼn oordonderende persoonlikheid nie. Ek hou daarvan as dinge lig bly,” het Johan gesê.

Chanzé het teenoor Marciel erken dat sy tot ʼn mate Johan se besluit verwag het. “Hy het baie meer oogkontak met die ander twee meisies gemaak.”

Johan help vir Chanzé om haar bagasie na die voertuig te dra nadat hy haar gevra het om die plaas te verlaat. (Foto: Verskaf)

Dit was koud en reënerig op die Vaal Marina in Gauteng toe Nelis sy keuse gemaak het. Hy het vir Steffeni gevra om die plaas te verlaat en gesê hy wil vir Margot en Esmerélda beter leer ken.

“Ek het tussen gister en vandag genoeg alleentyd met die vroue gehad om te weet of daar een van hulle is met wie ek in ʼn verhouding kan belê,” het Nelis gesê.

Volgens Esmerélda is Nelis “110% die moeite werd”. “Hy laat my belangrik voel wanneer hy met my praat en hoe meer ek met hom gesels, hoe meer wil ek met hom gesels,” het sy gesê.

Margot, wat in Luxemburg woon en in Athene met vakansie was toe sy die oproep gekry het dat Nelis haar graag in die Kaap tydens die blitsafsprake wil ontmoet, sê sy is bly sy het die besluit geneem.

“Wie nie waag nie, wen nie. Uiteindelik het jy niks om te verloor nie.”

Volgens Steffeni bid sy al lank vir die regte man, maar het ook gesê dat sy verlig is oor Nelis se besluit.

“Hy is ʼn goeie man en ek wens hom en die ander twee vroue alle geluk toe. Hulle verdien dit. Ek is bly vir hulle en vir hom.”

Boer soek ʼn vrou is Donderdagaande om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Pietertjie ·

Ek het lank gelede ook self my tasse gepak. By Multichoice.

Cherokee ·

Die program waarin vrouens hulself verneder. Stupid stupid stupid.

Lillian ·

Ek sal tog my naam so gat maak op nasionale televisie …. die kinders moet nog leer van die lewe

VaalDonkie ·

Ek moet darem erken die Suid-Afrikaanse weergawe is baie meer smaakvol as die Amerikaanse “Bachelor/Bachelorette” programme. Maar dis nogsteeds onsinnig.

Plaaskind ·

Was dit regtig nodig vir Anelle om haar oë so lelik te rol toe Chantelle hulle meedeel dat sy nie meer verder wil deel neem nie….

VaalDonkie ·

Hulle moet ‘n slag ‘n Vrou Soek ‘n Boer program maak. Dit sal nou sports wees.

RS ·

Ek wens net die boere wil ophou om eers na n foto te kyk en dan n bietjie te lees van die brief. Ek se nie die mooi meisies in nie die moeite werd nie…maar kom ons weer nou eerlik…sien julle ooit n meisie op BSV wat n size XL of XXL dra? Is hulle nie ook die moeite werd nie? Is hulle nie ook trou matriaal nie?

LD ·

Ja né! Die storie lyk vir my ook soos “naam brand”. Genade, het die girls van vandag niks meer trots nie! Vernederend op sy beste!

Eclectus ·

Landbou Weekblad moet Die Opsitkers terugbring dan sal hierdie gekkigheid einde kry.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.