‘BSV’: Eerste vroue kry trekpas

Louis B het vir Kisha (heel links) die trekpas gegee. (Foto: kykNET)

Die deelnemers van Boer soek ʼn vrou het behoorlik gesweet toe die boere in Donderdagaand se episode een van die vroue op die plaas die trekpas moes gee.

Net boer Francois, wat met volstruise op Oudtshoorn in die Wes-Kaap boer, kon die ongemaklike situasie vir nog ʼn aand vermy, aangesien hy reeds aan die begin van die seisoen ʼn vrou kwyt is.

Terwyl die ander boere ʼn baie belangrike keuse moes maak, het Francois saam met die donkerkop Vanessa en die blondekop Lorinda speletjies gespeel en gelag.

“Ek het ʼn ander kant van hom gesien en dit is ʼn kant waarvan ʼn mens hou,” het ʼn glimlaggende Vanessa gesê.

“Francois het ʼn speelse kant en dit is iets wat ek van iemand waardeer, want ek is ook ʼn speelse mens.”

Louis M, wat in Bela-Bela in Limpopo boer, het die saggeaarde Dihana huis toe gestuur en die donkerkoppe Laurette en Anja gevra om nog saam met hom op die plaas te kuier.

“Hy is definitief versigtig met sy hart en hy wil dit vir die regte persoon gee,” het Anja gesê.

Op Louis B se plaas in Ottosdal, Noordwes, was almal ietwat verras toe hy die blondekop Kisha laat huis toe gaan het. Cherecé en Rachel het agtergebly.

Hennie van Moorreesburg, Wes-Kaap, het Rachelle en Eloïse gekies om agter te bly nadat hy vir Madeleen die trekpas gegee het.

Op Philru se plaas op Petrus Steyn in die Vrystaat het Karla haar tasse gepak terwyl Sumari en Lané ingestem het om nog te kuier.

Marciel Hopkins, aanbieder van die program, het deurgaans die seer harte gepaai.

“Ek wil nie weer seer kry nie. Ek wil nie ʼn oppervlakkige verhouding hê nie,” het Philru gesê.

Boer soek ʼn vrou is elke Donderdagaand om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, te sien. Dit is ook op CatchUp beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.