‘BSV’: Leer ken vanjaar se 10 boere

Marciel kuier saam met boer Kotie. (Foto: kykNET)

In die eerste episode van die 15de seisoen van Boer soek ʼn vrou, wat sedert Donderdagaand weer op die kassie vertoon word, kies Marciel Hopkins, aanbieder van die program, weer koers na die uithoeke van die land om die tien boere wat aan dié seisoen deelneem, nog beter te leer ken.

Die toegesneeude bergpieke van die Vrystaat en die wollerige jas wat Marciel Hopkins dra is net ʼn paar van die tekens dat dit snerpend koud is, maar boer Kotie van Harrismith ontmoet die donkerkop aanbieder van Boer soek ʼn vrou sommer met ʼn kortmouhemp.

ʼn Spontane Kotie (43), ʼn saai- en beesboer, sê hy hou van grappe en glo in ware liefde. “Ek moet alleen voel as sy nie daar is nie,” sê hy.

In Augrabies in die Noord-Kaap kuier Marciel by boer David, wat onlangs teruggetrek het na dié omgewing.

David (31) boer met sitrusvrugte en tafeldruiwe en trakteer Marciel met vars lemoene uit een van sy boorde. Hy sê hy het dit geniet om die afgelope paar jaar op Piketberg in die Wes-Kaap te boer, maar dat sy hart huis toe verlang het.

“As ʼn mens al so lank op jou eie is, het jy baie tyd om te dink hoe om jouself te verbeter. Ek fokus daarop om elke dag ʼn bietjie beter te wees as gister.”

Marciel en boer Philru kuier saam. (Foto: kykNET)

Terug in die Vrystaat, op Petrus Steyn, maak Marciel van nader kennis met boer Philru, ʼn beesboer, en sy Limousine-beesras.

“Dit gaan ʼn aanpassing wees om iemand langs jou te hê en in jou lewe te hê wat dinge saam met jou doen, maar ek sal dit verwelkom. ʼn Mens raak gewoond aan jou eie maniere, maar ʼn mens is aanpasbaar,” sê Philru (26).

In Endicott, Gauteng, sê die 40-jarige boer Riaan hy het ʼn passie vir blomme en hy voel nog soos ʼn 25-jarige.

“Hulle sê mans word nie ouer nie, hulle speelgoed word net groter en groter,” skerts hy.

“Ek is trots op wie ek is en waar ek vandaan kom en jou boerdery is op die ou end jou nalatenskap. Boerdery is in jou bloed, jou genetika, en dit word deur generasies oorgedra.”

Boer Louis B, wat op Ottosdal in Noordwes boer, is ʼn kranige mikrovlieënier, en hy het sommer met die intrapslag vir Marciel geneem om die plaas van bo af te leer ken.

“Ek sal daarvan hou om rustig te word. Die enkellopende lewe is nie maklik nie. Dit vat tyd om iemand te ontmoet en jy weet ook nie of dit die regte persoon op die regte tyd is nie.”

In Bela-Bela in Limpopo kuier Marciel op boer Louis M (26) se wildsplaas. “Hierdie wêreld is die plek wat jou hart die maklikste steel.

“Daar sal vir my niks lekkerder wees in die lewe as om my eie gesin hier op die plaas te hê nie,” sê hy terwyl ʼn seekoei vir hom en Marciel loer.

Marciel en boer Riaan kuier saam. (Foto: kykNET)

Op Moorreesburg in die Wes-Kaap vertel boer Hennie (35), ʼn graanboer, hy is versigtig as dit kom by verhoudings.

“Ek dink nogal baie oor als en dit beteken dat ʼn mens altyd die risiko’s eerste raaksien. Ek is ʼn persoon wat maklik sê hoe ek voel. Hier op die plaas is jy en jou maat ook alleen, so julle sal moet kan praat.”

Die enigste hen onder die hane, die vroueboer Cherié (34), boer met kleinvee op Herbertsdale in die Wes-Kaap.

“Ons het nie rolle op die plaas nie en as hy ʼn gamer is, laat hy games speel. Maar as ek vir hom sê die koei is nou in die put, dan moet hy so hier en daar homself kan help op die plaas. Ek soek darem nie ʼn couch potato nie, ek soek iemand saam met wie ek kan leef – ek wil lag en huil en dans.”

Boer Louis M kuier saam. (Foto: kykNET)

Boer soek ʼn vrou se heel eerste volstruisboer, boer Francois (50), is op soek na ʼn tweede kans op liefde.

Die boer, wat op Oudtshoorn in die Wes-Kaap boer, sê hy hou daarvan om in iemand se oë te kyk. “Sy moet net daai vonk in haar hê. ʼn Mens raak nie te oud om oor die liefde te droom nie. Dit is wat jy daarvan maak.”

Op Modderrivier in die Noord-Kaap kuier Marciel vir oulaas by boer Rampie (29) op sy wildsplaas.

“Dit is albei partye in die verhouding se verantwoordelikheid om die romanse in die verhouding aan die gang te hou,” sê hy.

  • Boer soek ʼn vrou is elke Donderdagaand om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, te sien. Dit is ook op Catch Up beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.