‘BSV’: Liefde blom in Tankwa-Karoo

Tyson en Alri is reeds in ‘n verhouding. (Foto: Verskaf)

Die Tankwa-Karoo was die speelplek van vanjaar se groep boere van Boer soek ʼn vrou se vakansieweek.

Tyson en Alri, Nelis en Esmerélda, Johan en Arina, en Petré en Lourize het saam by die Inverdoorn‑ private wildreservaat vakansie gehou – en dit lyk asof dié paartjies almal die skoot behoorlik hoog deur het.

Willem het die vakansie alleen meegemaak nadat hy vroeër vir Sonja en Chantel die trekpas gegee het en gesê het hy wil net vriende met albei van hulle wees.

Die groep het die ys gebreek met ʼn verfbalspel. Hulle is in twee spanne ingedeel en die verfballe het behoorlik deur die lug gevlieg en vir ʼn hele paar bloukolle gesorg.

Tyson en Alri is die enigste paartjie wat te kenne gegee het dat hy haar reeds gevra het om sy meisie te wees en dat hulle in ʼn verhouding is. Hulle het ʼn wildrit deur die reservaat geniet.

“Ek hou daarvan dat Tyson my reeds gevra het om sy meisie te wees. Dit beteken dat ek presies weet waar ek met hom staan,” het Alri met ʼn breë glimlag gesê.

Esmerélda en Nelis is nog nie amptelik in ‘n verhouding nie, maar hou baie van mekaar. (Foto: Verskaf)

Esmerélda het op haar beurt gesê dinge tussen haar en Nelis is nog aan die ontwikkel en het geskerts dat hy “vitamiene E – Esmerélda” gekry het.

Sy en Nelis het op elektriese fietse die wildreservaat, en mekaar, beter leer ken.

“Daar is baie chemistry tussen my en Esmerélda. Ons is beslis nie net vriende nie,” het Nelis gesê.

ʼn Perdrysessie het die spontane Lourize op haar senuwees gehad, maar Petré het haar deurgaans op haar gemak gestel. Dié twee duifies het ook deur die hele vakansie vir mekaar gekoer, maar het ook erken dat hulle nog nie amptelik in ʼn verhouding is nie.

“Almal lyk só gelukkig. Ek dink dit gaan ʼn goeie jaar wees vir Boer soek ʼn vrou,” het Lourize gesê.

“Ek en Lourize is nog nie gekys nie, maar ek glo ons is op pad na iets baie spesiaal,” het Petré gesê.

Petré en Lourize het saam perd gery. (Foto: Verskaf)

“Ons was van dag een af só gemaklik met mekaar en ek het al vandat ek sy video gesien en ingeskryf het, geweet ek gaan 100% hiervoor,” het Lourize bygevoeg.

Johan en Arina het agter op vierwielfietse wild gaan kyk en renosters, sebras en kameelperde te sien gekry.

Hoewel hulle ook nog nie amptelik in ʼn vaste verhouding is nie, is hulle “eksklusief saam met mekaar”, het Arina gesê.

“Ons moet nog sien waarheen dinge lei, maar ons sien nie ander mense nie. Ons praat elke dag op die foon as ons kan,” het Johan gesê.

Boer soek ʼn vrou is Donderdae om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, te sien. Dit is ook op DStv CatchUp beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kobus ·

Kys volwassenes ? Nie geweet nie. Baie oulike spannetjie bymekaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.