BSV: Marciel ontmoet vanjaar se 10 TV-boere

Marciel Hopkins. (Foto: kykNET)

Marciel Hopkins, aanbieder van die gewilde kykNET-maatsoekreeks Boer soek ʼn vrou, het Sondagaand die tien boere-deelnemers van die 14de seisoen van dié reeks aan die land bekend gestel.

Hopkins se ervaring van die eerste ontmoeting met die boere verskil hemelsbreed van die vorige seisoen, waar sy die boere weens die Covid-19-pandemie via Zoom of WhatsApp-oproepe moes ontmoet het.

Dié keer het sy die geleentheid gekry om die tien hubare boere te ontmoet in die omgewing waar hulle gemaklik voel – en dit was “wonderlik”, vertel Hopkins aan Maroela Media.

“Dit is een ding om vir iemand te verduidelik waaroor jy passievol is, maar dit is ʼn ander dinamika as hulle kan wys waaroor hulle passievol is.”

Hopkins het baie tyd deurgebring op die plase van Albertus (38), Carel (29), Gerhard (30), Hannis (23), Johan (28), Mary-Lou (53), Nelis (31), Petre (25), Tyson (33) en Willem (37). Sy vertel sy weet nou meer van boerdery en dat sy tydens haar huisbesoeke baie by dié tien boere geleer het.

“Dit was wonderlik om in die oomblik teenwoordig te wees en nie bewus hoef te gewees het van tegnologie, swak seine en onderbrekings nie.”

Marciel Hopkins het vanjaar die geleentheid gekry om die top-10-boere op hulle plase te besoek. (Foto: Instagram/Marciel Hopkins)

Sy vertel vanjaar se groep boere, wie se ouderdom hoofsaaklik in die 30’s draai, is almal ernstig daaroor om liefde te vind.

“Almal van hulle voel dit is nou tyd om ernstig te raak oor die liefde en dit was vir my mooi om te sien. Die feit dat hulle jonk is, is geen rede vir hulle om nie nou al ʼn lewensmaat te ontmoet nie.”

Hopkins sê die meerderheid van vanjaar se deelnemers boer op familieplase en is tradisievas.

Daar is ook ʼn Amerikaanse vroueboer wat die afgelope 20 jaar in Suid-Afrika woon. “Sy is so ʼn diverse persoon met ʼn goeie sin vir humor en energie. Uit die hele groep was sy die een wat die meeste na die ligte kant van die lewe kyk.”

Sy vertel die weer het nie saamgespeel by Mary-Lou se wynboerdery in die Paarl, Wes-Kaap, nie. “My hare was later stokstyf gespuit van die haarsproei omdat die weer so opgesteek het. Dit was soms ook uitdagend om te hoor wat sy sê, want dit het katte en honde gereën.”

Dis egter alles deel van die avontuur, voeg sy by. “Met die wind moes ons baie praktiese haarstyle uitwerk, anders was my hare oral. Tog was dit ʼn ongelooflike ervaring en as’t ware ʼn ‘eerste keer’ vir my.”

Hier is vanjaar se tien boere:

Albertus (38), Calvinia, Noord-Kaap, skaapboerdery

Albertus. (Foto: kykNET)

Carel (29), Perdekop, Mpumalanga, gemengde en saaiboerdery

Carel. (Foto: kykNET)

Gerhard (30), Beaufort-Wes, Wes-Kaap, skaap- en wildboerdery

Gerhard. (Foto: kykNET)

Hannis (23), Brakfontein, KwaZulu-Natal, saai- en veeboerdery

Hannis. (Foto: kykNET)

Johan (28), Marquard, Vrystaat, saai- en veeboerdery

Johan. (Foto: kykNET)

Mary-Lou (53), Paarl, Wes-Kaap, wynboerdery

Mary-Lou. (Foto: kykNET)

Nelis (31), Vaal Marina, Gauteng, veeboerdery

Nelis. (Foto: kykNET)

Petre (25), Vierfontein, Vrystaat, gemengde boerdery

Petre. (Foto: kykNET)

Tyson (33), Bergville, KwaZulu-Natal, saai- en beesboerdery

Tyson. (Foto: kykNET)

Willem (37), Philippolis, Vrystaat, skaap- en beesboerdery

Willem. (Foto: kykNET)

Diegene wat vir een van dié boere ’n brief wil skryf moet ouer as 21 wees en ongetroud, geskei of ’n weduwee/wewenaar wees. Inskrywings moet voor middernag op 29 Julie ingedien word.

Persone wat die boere beter wil leer ken en wil inskryf, kan dit op een van die volgende maniere doen:

  • Skryf in op kykNET se webtuiste by www.kyknet.tv
  • Bel 079 335 5137
  • Stuur ’n e-pos na [email protected] (Let wel .media en nie .co.za nie)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Nell ·

Ek dink dit maak saak. Mary-Lou wil weet of sy kan inskryf…;)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.