‘BSV’ se Stephan ‘so verlief soos ’n tiener’

Stephan Booyens en Melanie Els is dolverlief. (Foto: Verskaf)

Al het boer Stephan Booyens van die vorige seisoen van die kykNET-reeks Boer soek ʼn vrou nie deurgedring tot die topvyf nie, het hy die hope briewe wat hy van vroue oor die land ontvang het, noukeurig deurgelees.

Stephan (42), ʼn bees- en saaiboer van Lichtenburg in Noordwes, het egter nie by een van die briefskrywers liefde gevind nie. Hy en die Klerkdorpse fotograaf Melanie Els het mekaar deur gemeenskaplike vriende ontmoet en is sedertdien ʼn paartjie.

“Ek het ʼn hele rits afsprake gehad, maar baie van die vroue wat vir my geskryf het, was van die Kaap of Bloemfontein, en die afstand het dinge bemoeilik. Met dié dat ʼn mens tydens die inperking ook nie kon reis nie, het dit dinge ook nóg moeiliker gemaak.”

Hy vertel hy was op moedverloor se vlakte toe hy heel onverwags ʼn boodskap van ʼn vriend kry wat vra of hy nie met Melanie kontak wil maak nie.

Stephan Booyens en Melanie Els is dolverlief. (Foto: Verskaf)

“Ek dink my deelname aan Boer soek ʼn vrou het my die selfvertroue gegee om met haar kontak te maak, want voorheen sou ek nie die moed gehad het nie. Ek en Melanie het ons eerste afspraak by Pont de Val in Parys gehad en sedertdien is ek so verlief soos ʼn tiener.”

Melanie is geskei en het twee kinders, 15 en nege jaar oud. “Die kinders het my baie maklik aanvaar in hulle ma se lewe en het selfs gesê dat hulle haar lanklaas soveel sien glimlag het.”

Hy vertel die kinders het al saam met Melanie by hom op die plaas gekuier. “Hulle het dit vreeslik geniet en ons het goed oor die weg gekom. Ek het hulle gewys hoe om te stroop en trekker te ry.”

Volgens Stephan gesels hulle gereeld oor die toekoms en droom hy daarvan om vir Melanie en die kinders saam met hom op die plaas te hê. Tot dit kan gebeur, kuier hulle oor en weer by mekaar oor naweke terwyl hy hom in die week op die boerdery toespits.

Hy vertel dit was ʼn goeie oesjaar, nie net vir die plaas nie, maar ook vir sy liefdeslewe.

“Ons is dolverlief en ek is baie bly ons het mekaar in hierdie moeilike tyd gevind.”

Kyk hier na vanjaar se TV-boere wat voor die kameras na liefde gaan soek.

Diegene wat vir een van dié boere ’n brief wil skryf moet ouer as 21 wees en ongetroud, geskei of ’n weduwee/wewenaar wees. Inskrywings moet voor middernag op 29 Julie ingedien word.

Persone wat die boere beter wil leer ken en wil inskryf, kan dit op een van die volgende maniere doen:

  • Skryf in op kykNET se webtuiste by www.kyknet.tv
  • Bel 079 335 5137
  • Stuur ’n e-pos na [email protected] (Let wel .media en nie .co.za nie)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Willem ·

Wys bietjie vir ons wat met ander boere gebeur. Is van hulle nog bymekaar?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.