‘BSV’: Verliefde boere hou Kaapse reünie

Vanjaar se toptien-boere het gesellig saam gekuier in die Kaap. (Foto: Verskaf)

Aan die einde van elke seisoen van die gewilde kykNET-maatsoekreeks Boer soek ʼn vrou, kom die boere en hulle pasmaats byeen om die opwindende reis wat hulle voor die kameras gehad het, behoorlik te vier en af te sluit.

Vanjaar was ʼn goeie oesjaar vir die reeks, met vier uit die topvyf‑boere-deelnemers wat almal saam met die pasmaats wat hulle uiteindelik gekies het, by die reünie by die Devon Valley-hotel in Stellenbosch opgedaag het.

Die res van die toptien‑boere-deelnemers het ook die reünie bygewoon: Mary-Lou, Gerhard, Carel en Hannis het almal enkellopend opgedaag, hoewel Mary-Lou verklap het dat sy op ʼn ete-afspraak was saam met een van die mans wat sy ontmoet het deur die briewe wat vir haar geskryf is.

“Hy kon ongelukkig nie die reünie bywoon nie, want die oestyd op sy plaas begin môre. Maar ons beplan om mekaar weer te sien,” het die 53-jarige wynmaker van die Paarl in haar swaar Amerikaanse aksent gesê.

Albertus, die boer van Calvinia wat ondanks die feit dat hy nie die topvyf gehaal het nie, steeds ʼn gunsteling onder Boer soek ʼn vrou-kykers was, het saam met die blondekop Suzanne by die reünie opgedaag.

Albertus het vir Suzanne, ‘n Kapenaar, saamgebring reünie toe. (Foto: Verskaf)

Hy het aan Marciel Hopkins, aanbieder van die program, gesê hy en Suzanne, ʼn Kapenaar, het ontmoet toe sy ʼn ram by hom wou koop. “Ons het oor die plaas gesels en toe aanhou gesels,” het Suzanne aan Marciel gesê.

Albertus het gesê hy tel die slapies af totdat Suzanne weer op die plaas by hom kuier van die Kaap af. “Ek wil graag baie meer tyd saam met haar deurbring,” het hy gesê.

Carel het ook aan Marciel gesê dat hy iemand ontmoet het deur die briewe wat vir hom geskryf is en gesê hulle kuier nog net saam.

“Sy kon weens werksverpligtinge nie hier wees vandag nie, maar dinge lyk goed,” het hy gesê.

Willem, wat deel van die topvyf was, het reeds vroeg in die proses albei die vroue wat op sy plaas gekuier het die trekpas gegee en het ook alleen opgedaag. Hy het aan Marciel gesê hy is gemaklik met sy lewe soos dit nou is, hoewel dit lekker sou wees om iemand aan sy sy te hê.

“’n Mens is nie desperaat daarvoor nie. Als gebeur op sy tyd en ons almal soek na geluk,” het dié boer van Philippolis in die Vrystaan en pa van twee jong kinders gesê.

Die liefde blom

Tyson en Alri het reeds met die vakansieweek verklap dat hulle in ‘n verhouding is. Hulle was op die reünie nog dolverlief. (Foto: Verskaf)

Tyson, die Engelse boer wat vanjaar se gewildste deelnemer was nadat hy verreweg die meeste briewe van hoopvolle vroue reg oor die land ontvang het, se oë blink behoorlik met Alri aan sy sy.

Tyson het reeds in die vorige episode verklap dat hy vir Alri gevra het om sy meisie te wees. Dié twee duifies het op die reünie aan Marciel  vertel dat hulle hope tyd saam deurbring.

Hulle het selfs laggend vertel dat Alri saam met Tyson se geliefde hond, Bullet, in die trekker sit en slaap wanneer Tyson besig is op die landerye van sy plaas in KwaZulu-Natal.

“Ek het op die vloer van die trekker gaan sit, want die stoel is ongemaklik. Toe raak ek en Bullet saam aan die slaap!”

Alri het ook gesê sy voel rustig by Tyson. “Ek weet heeltemal waar ek met hom staan, omdat hy iemand is wat weet wat hy wil hê. Dit gee my sekuriteit, want ek weet hy gaan my nie onkant vang nie.”

Nelis en Esmerélda het ook saam die reünie bygewoon. “Ons het baie chemistry en soos wat ons mekaar beter leer ken, raak dit selfs nog meer,” het Esmerélda aan Marciel gesê terwyl sy en Nelis hande vasgehou het.

“Ons kommunikasie is goed, ten spyte van swak selfoonsein,” het Nelis geskerts. “Ons suiwer die lug vinnig wanneer daar iets is wat pla en dit help om dinge vinnig in ʼn rigting te druk.”

Esmerélda het dit beaam. “Ons is besig om saam in een rigting te gaan. Ons werk nie teen mekaar nie en ons maak ʼn goeie span. Ons is albei oopkop en forseer nie dinge nie. Ek kan week na week sien hoe dinge tussen ons nog meer ontwikkel het.”

Petré en Lourize. (Foto: Verskaf)

Petré en Lourize, wat die seisoen se speelse paartjie was, het gesê hulle sien mekaar elke tweede naweek, aangesien Lourize nog in Gqeberha (Port Elizabeth) werksaam is en Petré op Vierfontein in die Vrystaat boer.

“As hy die persoon vir my is, sal 1 000 km nie tussen ons kan staan nie,” het Lourize gesê.

“Ek is ʼn gelukkige man. Ek kan terugkyk en myself op die skouer klop en sê welgedaan,” het Petré gesê.

Johan en Arina het aan Marciel gesê hulle is nou net vriende en dat hulle ná die vakansieweek besluit het om nie ʼn verhouding aan te knoop nie.

“’n Mens wil nie iemand anders se tyd mors nie,” het Johan gesê. “Ek dink die besluit het meer van my kant af gekom. Sy is ʼn ongelooflike mens, maar ʼn mens weet tog of iets gaan werk of nie en dit is hoekom ek die besluit geneem het.”

Johan en Arina het onthul dat hulle nou net vriende is. (Foto: Verskaf)

Arina het gesê sy respekteer Johan se besluit. “Die gesprek het skielik gekom, maar dit het my perspektief gegee en ek kon terug tree en kyk of ons werklik by mekaar pas. As jy eers die verliefdheid opsy plaas, kan jy helderder dink oor dinge.

“As jy geaard is, kan jy teleurstellings beter hanteer. Ek ken die Here en het ʼn verhouding met Hom en ek vat alles na Hom toe. Dit gee my vrede oor dinge wat gebeur. Ek glo daar kan steeds mooi dinge hieruit kom.”

Die 14de seisoen van Boer soek ʼn vrou het nou tot ʼn einde gekom. Marciel het egter onlangs op Bravo! aangekondig dat sy die aanbieder van die 15de seisoen sal wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Mel84 ·

WAt ‘n lekker kyk seisoen! So bly Marciel is weer die aanbieder! Ek is mal oor haar!

MakersMark ·

Die program moet tussen 02h00 en 03h00 uitgesaai word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.