‘Byt & Buskruit’: Hofmeyr en Tas gaan vang vis in Mosambiek

Steve Hofmeyr het saam met Adam Tas gaan visvang in die jongste episode van Byt en buskruit. (Foto: ‘n Skermgreep van die video.)

In vandag se gejaagde lewe is dit al hoe meer duidelik dat daar ’n groot gaping tussen mens en natuur ontstaan het. Vandag se kinders moet die buitelewe, bosveld en natuur vanaf hulle aanlyn profiele probeer leer ken. Waar is die dae van stofvoete, stokdiertjies en stokbrood op die vuur?

En kom ons wees ook maar eerlik met mekaar – selfs die grootste wildjagter of avontuurlustige persoon sukkel deesdae om gehaltetyd in die natuur deur te bring waar jy jou in die aanbreek van ’n nuwe dag kan verlustig, die rooiblou skemer kan beloer of net in die savannas kan tuis voel. Om nie te praat van die laaste lyn-ingooi voor die koplampies moet uit nie.

Dit is met hierdie hunkering en verlange na die viswaters en jagveld dat die sanger Adam Tas, Forum Films en Dapper Media besluit het om ’n omvattende ervaring van die buiteluglewe te verpak. Hierdie belewenis is nou net ’n skerm ver.

Die vennote bied nou ’n eg-Afrikaanse aanlyn program aan – Byt & Buskruit – wat jou onder die sterrehemel langs ’n kampvuur met kitaarmusiek in die agtergrond sal plaas.

Ons hengel saam met Steve Hofmeyr in episode 6

Almal van ons ken vir Steve Hofmeyr en “Pampoen” en “Die Bloubul” is sekerlik van dié bekendste liedjies in ons land, en jonk én oud sing steeds saam as dié bekende lirieke oor die radio speel.

Hofmeyr het al baie hoogtepunte in sy lewe bereik en is bo en behalwe ’n bekende sanger ook akteur, aanbieder en ’n ware patriot. Dit was nog altyd vir Hofmeyr belangrik om stories deur musiek te vertel, en dit doen hy verseker. Dit was voorwaar ’n voorreg om saam met hom in Mosambiek te hengel en die man agter die naam beter te leer ken.

Indien jy hom ook ’n bietjie beter wil leer ken en wil sien hoe hy teen die visse baklei, kom kyk saam.

Mosambiek was ’n pragtige ervaring waar soveel mooi wegkruip. Saam het ons hierdie mooi gaan ondersoek en wil ons jou wys wat Mosambiek se viswaters bied.

Dus, kom kuier saam met ons. Dit is ’n ervaring wat jy beslis nie sal wil misloop nie en jy sal sommer vinnig jou eie jag- of hengeluitstappie bespreek! Gaan registreer by www.dappermedia.co.za om die reeks te kyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.