‘Byt & Buskruit’ terug vir ’n tweede seisoen

Adam Tas is weer terug met ’n nuwe reeks van “Byt & Buskruit”. (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Byt & Buskruit, die gewilde aanlyn reeks oor visvang en jag, is terug vir ʼn tweede seisoen. Die jongste reeks beloof om kykers weer vasgenael voor die skerm te hou en mee te voer na nog eksotiese bestemmings oor die hele suidelike Afrika en selfs verder.

Dié keer wag daar avonture vir die sanger en aanbieder van die program, Adam Tas, en sy gaste in die VSA, Orania, Knysna en Namibië, om maar net ʼn paar van die bestemmings in dié reeks te noem.

Natuurlik kuier daar ook weer ʼn paar bekende gesigte uit die vermaaklikheidsbedryf saam met Adam in hierdie reeks. Elvis Blue, Meyer le Roux en Jan Rhaap is van dié bekendes wat saam met Adam gaan visvang, jag en heerlike disse voorberei. Wees ook verseker van baie lag, gesellige kuiertjies en ʼn paar treffers, wat saam om die kampvuur in elke episode gesing sal word.

“Daar is so baie om na uit te sien. Ons besoek ongelooflike plekke, om nie eens te praat van die ongelooflike gaste wat saamgenooi is nie,” sê Adam, wat erken hy is baie opgewonde oor die nuwe reeks.

Elvis Blue en Adam Tas is te sien in een van die jongste avonture op “Byt & Buskruit 2”. (Foto: Verskaf.)

Volgens hom gaan Byt & Buskruit egter nie bloot net oor vermaak nie, die span ploeg ook graag terug in die gemeenskap. Al die wild wat tydens die program gejag word, word aan Solidariteit Helpende Hand se #HelpJag-projek geskenk. Dié projek help om sowat 8 000 honger kleuters daagliks te voed.

“Dit is ʼn wonderlike projek as ʼn mens dink hoeveel kinders ons kan kos gee met die wild wat ons jag,” sê Adam, wat passievol is oor hierdie projek.

Die eerste seisoen van Byt & Buskruit is reeds op Dapper Media se webwerf beskikbaar en kykers kan dit nou gratis stroom. Die stroming sal slegs van jou eie internetdata gebruik en dit neem ʼn paar sekondes om op Dapper Media se platform as ʼn gebruiker te registreer.

Byt & Buskruit 2 sal aanlyn vanaf Donderdag 2 Julie beskikbaar wees. Volg gerus Dapper Media se Facebook-blad om op die hoogte te bly van al die jongste nuus en kompetisies uit dié reeks.

Forum Films vervaardig Byt & Buskruit in samewerking met Dapper Media en Adam.

Dapper Media bedank graag die borge van Byt & Buskruit se pryse, naamlik: SSG Cases (geweerkaste), Patriot Apparel (klerasie), TriggerCam (spesiale jagbykomstighede), Ballistic Polarized Eyewear (gehaltesonbrille vir visvang), Joseph Rodgers (messe), Bakkies the Butcher-speserye en ’n Buffelsfontein Beesboerdery-pakket.

Byt & Buskruit se trotse mediavennote is die tydskrif Wild & Jag, Maroela Media en Pretoria FM.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.