Cato Bekker herstel verhoudings in ‘Die Uitnodiging’

Cato Bekker. (Foto: Facebook)

In die Afrikaanse kykNET-reeks Die Uitnodiging, met radio-omroeper en televisieaanbieder Cato Bekker aan die stuur, word verhoudings tussen vriende en familielede herstel wat weens groot of klein verskille versuur of verbrokkel het.

Bekker en haar span poog met elke episode van die program om kwaaivriende te oorreed om te versoen en rondom die etenstafel tydens ʼn sogenaamde versoeningsete eerlike gesprekke te voer wat die verhouding kan help herstel.

Daar is ook ʼn “Sorry Limo”, ʼn limousine met ʼn kamera in wat voor ʼn winkelsentrum in Kaapstad parkeer is waarin lede van die publiek kan klim om vir ʼn vriend of familielid wat hulle te na gekom het – oor alles en nog wat – om verskoning te vra.

“Dis perfek vir hierdie Covid-tyd waarin ons almal maande lank in ons huise moes sit en introspeksie begin doen. Wie het ek seergemaak? Watter familielede praat nie meer met mekaar nie? Watter van my vriendskappe is gebroke maar kan dalk nog herstel word?

“Ek glo in die krag van gesonde gesprek om konteks en begrip te bring, nie net tussen die deelnemers nie, maar ook vir ons kykers.”

Bekker het die konsep vir die program op die Nederlandse kassie ontdek en het gedink ʼn soortgelyke program kan werk op eie bodem.

Cato en een van die deelnemers aan die program ‘Die Uitnodiging’. (Foto: Facebook)

“Wat my van die program aangegryp het, is hoe eg en alledaags die temas daarvan is – van hoe verhoudings en dinamika in families verskil. Dit was vir my interessant hoe ʼn klein misverstand ʼn groot skeur in ʼn verhouding kan veroorsaak en hoe die gebrek aan kommunikasie die skeur verdiep. ʼn Rusie is egter nie ʼn eienaardige ding nie en ons almal beleef soms konflik en daarom kan soveel mense aanklank vind by die program,” sê Bekker.

Dit is vir haar ʼn riem onder die hart wanneer mense op sosiale media laat hoor hoeveel dié hartroerende program vir hulle beteken.

“Ons vertel die stories van mense wat wil kontak maak met ʼn ander persoon, maar nie weet hoe nie. Ons hoop die program sal kykers in soortgelyke situasies aanspoor om ook kontak te maak met ʼn geliefde met wie hulle graag wil versoen word, maar nie weet hoe om uit te reik nie.”

Bekker vertel haar verwagting van hoe die program in ʼn Suid-Afrikaanse konteks gestalte gekry het, is oor en oor oortref.

“Ons het met ongelooflike families en vriendekringe gewerk, mense wat hulle volle vertroue in ons geplaas het en openlik met ons oor hulle konflik gesels het sodat ons hulle uiteindelik by die versoeningsete kon kry. Ons vertel eg, diverse Suid-Afrikaanse stories van alle soorte en dit was regtig vir my ʼn voorreg om deel te kon wees van mense se stories.”

Cato Bekker voor die sogenaamde ‘Sorry Limo’. (Foto: Facebook)

Sy bieg dat sy met tye gespanne en emosioneel was tydens die verfilmingsproses van Die Uitnodiging. “Omdat ons met regte mense en emosies werk, weet jy nooit vir seker of die persoon met wie die ander een wou versoen, gaan opdaag nie. Die meeste van die tyd weet ek self nie of die persoon daar gaan wees wanneer die limousine se deure oopgaan nie.

“Met die onderhoude is ek ook baie op my senuwees, omdat ek so graag wil hê dit moet uitwerk. Ek probeer agterkom wat die kwessie is sodat dit opgelos kan word en dit veroorsaak soms baie spanning. Ons leer ken die mense ook binne een enkele dag, maar gelukkig is daar ʼn maatskaplike werker wat my na elke persoon vergesel wat die gesprekke verder lei en fasiliteer wanneer ek die onderhoude afgehandel het.”

ʼn Reünie-episode word op 29 Desember uitgesaai. “Mense wil altyd ná ʼn episode weet wat van die mense geword het en of hulle verhoudings herstel is. In die laaste episode loer ek in by drie van die deelnemers en kyk hoe hulle stories nou lyk en hulle deel wat hulle geleer het. Dit was vir my baie interessant om weer op te volg.”

Die Uitnodiging is Dinsdagaande om 21:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, te sien. Dit is ook op CatchUp te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
RS

Ek het die program al gekyk. Glo nie dis so eenvoudig soos om n ete te reel en dan ewskielik is alles ok in mense se verhoudings nie…dis wel n begin punt.