Christel van den Bergh en David Louw praat oor teaterstuk

Christel van den Bergh en David Louw (Foto: verskaf)

Die liefde het op stel vir Christel van den Bergh en David Louw begin blom. Nou spog hulle al met ʼn pragtige 11 maande oue seuntjie en vermaak gehore met ʼn komiese teaterstuk oor verhoudings.

Van den Bergh en Louw, wat jare lank op die kassie te sien was in die immergewilde kykNET-sepie, Getroud met rugby, het Namibië platgetoer met hul teaterstuk, Trou is nie perdekoop nie, en beplan om eersdaags op Suid-Afrikaanse verhoë op te tree.

Oor Trou is nie perdekoop nie

Louw het die teks vir dié teaterstuk reeds in 2019 geskryf, maar moes dit eers agterweë hou toe die Covid-19-pandemie die wêreld getref het.

Hy spot dat hy die produksie juis geskryf het omdat hy graag saam met Van den Bergh in ʼn verhoogstuk wou werk.

“Sy het al saam met almal opgevoer, maar nog nie saam met my nie,” het Louw tong-in-die-kies aan Maroela Media verklap.

Louw sê dit was vir hom belangrik om die komedie op so ʼn manier aanmekaar te weef dat dit gepas vir alle gehore sou wees.

“Ek moes iets skryf wat universeel is, en wat is meer allesomvattend as liefde, verhoudings en die huwelik? Dit is iets waarmee almal hulle kan vereenselwig,” het Louw gesê.

“Die average Joe moet aanklank vind by die stuk, dis nie hierdie absurde teaterstuk wat oor liefde gaan nie,” het Van den Bergh bygevoeg.

Hulle moedig mense uit alle portuurgroepe aan om na die stuk te kom kyk.

“Ek dink dit is geskryf vir enigiemand; of jy nou in ʼn huwelik of verhouding is, verloof is, beplan om te trou of verloof te raak, of geskei is,” het Louw verder verduidelik.

Hulle wil graag hê die produksie moet mense inspireer om dieper in hul eie verhoudings te delf. Dit moet lede van die gehoor laat vra waar hulle met die persoon in hul eie verhouding staan, en hoe die pad saam vir hulle vorentoe lyk.

Trou is nie perdekoop nie gaan oor Milan en Daniël wat terugkom van ʼn troue af, een begin fantaseer oor trou en die ander een is nie regtig aan boord nie. Die gesprekke wat uitkom tussen die twee laat jou as lid van die gehoor ook wonder oor waar jy in jou verhouding is,” het Louw gesê.

Van den Bergh het bygevoeg dat dit ʼn heerlike komedie is, maar daar is waarhede deur die storie vervleg.

Die liefde blom tussen Christel Van den Bergh en David Louw (foto: verskaf)

Die liefde blom

Louw en Van den Bergh het mekaar 12 jaar geken voordat hulle verlief geraak het.

“Toe ons karakters in Getroud met rugby skei, het ek en David mekaar gevind.”

Dit was vir hulle ʼn aanpassing om nie meer op stel saam te wees nie. Van den Bergh se kontrak by Getroud met rugby is uit die bloute beëindig. Sy het die rol van Renate, die eksvrou van die Stryders-speler Simon Greeff, vertolk. Haar storielyn oor onvrugbaarheid, aborsie, surrogaatskappe, postnatale depressie en egskeiding het kykers enduit geboei tot die laaste toneel wat verlede jaar Desember uitgesaai is.

“Dit was vir my so lekker om saam met David toneel te speel, hoewel ek nie altyd met die storielyn saamgestem het nie.”

Die twee is egter dolgelukkig, selfs al sien hulle mekaar nie meer elke dag op stel nie.

“Sy is darem verplig om my te sien, ons bly saam,” het Louw gespot.

“En ons het natuurlik vir Daniël saam,” het Van den Bergh bygevoeg. Dié mannetjie het saam met ma en pa kom gesels, en glimlag deurentyd breed vir almal wat verbyloop.

Daniël het reeds vroeg-vroeg al sy debuut as sepie-akteur gehad toe Louw en Van den Bergh se karakters, Simon en Renate, ʼn baba gehad het.

Oor ouerskap

Ouerskap het vir die akteurspaar natuurlik gekom, erken hulle.

“Ek dink dis omdat ons ouer en boonop albei trotse diere-eienaars is. Dis vir my baie na aan mekaar, mense kan maar sê wat hulle wil. Ek het al van 21-jarige ouderdom af troeteldiere. Dis ʼn ander soort verantwoordelikheid,” het Van den Bergh verduidelik.

“Ons troeteldiere is soos familie vir ons, hulle slaap gemakliker as wat ek slaap. As gevolg daarvan was ons baie vinniger reg vir ouerskap,” het Louw bygevoeg.

Ouerskap het die twee ook ʼn ander blik op die lewe gegee.

“As akteur is jou werk vir jou ongelooflik belangrik, maar vandat ons seuntjie in ons lewe gekom het, is dit ʼn bysaak. Alles gaan vir my oor hulle twee,” het Louw gesê.

“Almal sê altyd wanneer jy ʼn pa word, verander alles; ek het dit nooit geglo nie. En dit is wragtig so. Alles wat ek doen, doen ek vir Christel en Daniël.”

Wat is volgende?

Van den Bergh het onlangs saam met ʼn mede-aktrise, Zetske van Pletzen, ʼn aanlyn dramaskool begin. Besoek hierdie webwerf vir meer inligting daaroor.

Indien jy meer te wete wil kom oor Louw en Van den Bergh se verhoogstuk of kaartjies daarvoor wil bespreek, stuur ‘n e-pos na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.