Christina Applegate onthul VS-diagnose

Christina Applegate. (Foto: James Atoa/Everett Collection/Facebook)

Christina Applegate, die Emmy-bekroonde Amerikaanse aktrise, het pas bekend gemaak dat sy met veelvuldige sklerose (VS) gediagnoseer is.

Applegate het onlangs die hoofrol in die Netflix-reeks Dead to me vertolk. Sy het destyds as kinderster naam gemaak in die komediereeks Married with children, as die dogter van die skreeusnaakse karakter Al Bundy.

Sy het ook ʼn Emmy-toekenning ingeoes vir haar rol as Amy, die suster van Jennifer Aniston se karakter in die uiters gewilde komediereeks Friends.

“Dit is ʼn vreemde reis, maar ek word deur soveel mense ondersteun wat ook aan die toestand ly,” het die 49-jarige aktrise Dinsdagoggend op Twitter geskryf.

“Dit is ʼn moeilike pad.”

Sy het verduidelik dat sy haar tot ʼn vriend, wat ook aan die toestand ly, gewend het vir raad om met dié siekte saam te leef. Veelvuldige sklerose is ʼn neurologiese toestand wat die senuweestelsel se vermoë om behoorlik te werk belemmer.

“Soos wat een van my vriende wat ook VS het, sê: ‘Ons skrik wakker en tree daadwerklik op, soos aangedui.’ En dit is wat ek doen. So, vir eers vra ek privaatheid terwyl ek hierdeur gaan. Dankie.”

Applegate het voorheen ʼn dubbele mastektomie ondergaan nadat sy in 2008 met borskanker gediagnoseer is. Dit was terwyl sy gewerk het aan die ABC-sitkom Samantha Who?. Sy het in 1991 haar deurbraak as aktrise gemaak in die fliek Don’t tell mom the babysitter’s dead.

Sy het ook onlangs as uitvoerende vervaardiger opgetree vir die Dead to me-reeks. Die reeks se derde en finale seisoen is tans in produksie.

Sy is vir ʼn Golden Globe-, Emmy-, Screen Actors Guild- en Critics’ Choice-toekenning benoem vir haar rol as Jen Harding in Dead to me.

Applegate was ook ʼn lid van die oorspronklike Pussycat Dolls toe hulle ʼn burleskgroep was. Sy het ook die rol van Veronica Cornerstone vertolk in Anchorman: The Legend of Ron Burgandy en Anchorman 2: The Legend Continues.

Sy was te sien in rolprente soos Bad Moms en The Sweetest Thing, teenoor Cameron Diaz en Selma Blair.

Blair is ook in 2018 met veelvuldige sklerose gediagnoseer.

Bronne: Entertainment Weekly, BBC

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.