Cindy Swanepoel oor dankbaarheid, nuwe geleenthede

Cindy Swanepoel (foto: verskaf)

As die strenge “Annelize Roux” is sy elke aand op die kassie te sien, maar Cindy Swanepoel is in werklikheid ʼn saggeaarde vrou met haar voete ferm in dankbaarheid geplant.

Oor dankbaarheid en motiveringspraatjies

Swanepoel is drie jaar gelede gevra om ʼn motiveringspraatjie te lewer. Die aanvanklike gedagte daaraan het haar skoon skrik op die lyf gejaag.

“Om vir ʼn uur te praat, wat sê jy ooit? Dis freaky!”

Sy het besef dat weerloosheid die sleutel is wat die deur tussen haar en die gehoor sal oopsluit.

“Vroue gaan vir ʼn uur lank voor jou sit en hulle moet na jou wíl luister. Ek weet dat as jy deel van jouself, eerlikwaar deel, dan sál mense luister. Ek het van die ouderdom van sewe dagboekies gehad, ek het later baie oor myself ontdek deur hierdie boekies. Ek het begin deur stukke daaruit tydens my praatjies te lees.”

Die praatjies het saam met Swanepoel gegroei.

“Dis nou al drie jaar later. Mens dink anders, dit het ontwikkel tot wie ek nou is as ʼn 40-jarige vrou. Ek pas dit nou maar net aan volgens wat met ons gebeur. My hooffokus is die feit dat almal ʼn storie het. As jy met my gaan praat oor jou storie, gaan dit iets groot en uniek wees. Die vroue moet maar na my storie luister. Dalk gaan jy lag, dalk gaan ons saam huil, dalk gaan jy net my storie geniet. Ons gaan mekaar iewers kan ontmoet.”

ʼn Stuk selfontdekking het Swanepoel op ʼn lewensveranderende pad gesit, iets wat ongetwyfeld die grondslag van haar praatjies gevorm het.

“Dankbaarheid het in daardie stadium alles in my lewe beteken. Dit het my lewe en beroep verander toe ek besef het wat dit beteken om dankie te sê en dit te bedoel.”

ʼn Boekie oor die onderwerp het jare gelede op Swanepoel se spreekwoordelike tafel geland. Dié boekie het haar geleer hoe om vir die kleiner dinge in die lewe dankbaar te wees.

“Ek het omtrent vir nege jaar in kinderteater gewerk. Ek wou ernstig opgeneem word as ʼn aktrise, maar ek het nie geweet hoe ek by dit gaan uitkom nie. Ek het geld nodig gehad en moes terselfdertyd beskikbaar wees vir oudisies. Ek was vasgevang. Ek het in daardie stadium ook nog as kelnerin begin werk.”

In plaas daarvan dat Swanepoel in sak en as oor haar mismoedigende situasie gaan sit het, het sy besluit om deur ʼn ander lens daarna te kyk.

“Ek het ophou fokus op dit wat ek nie het nie, en op hierdie loopbaan wat ek so graag wíl hê. Toe ek daardie dinge laat gaan en net begin fokus op dit wat ek het, toe begin dinge vir my gebeur. Deure het vir my oopgegaan en my loopbaan het eintlik daar begin.”

Lindie Stander en Cindy Swanepoel in ‘Binnelanders’. (Foto: kykNET)

Jare op die stel van Binnelanders

“Sy probeer maar net veg vir haarself. Dis al wat sy ken,” so sê Swanepoel oor die bekende karakter wat sy op die sepie vertolk.

“Ek en Annelize is báie verskillend, behalwe vir die feit dat ek ook 40 en enkellopend is. Ek kan ook met haar harde werk vereenselwig. Ek is iemand wat hard gewerk het, en steeds hard werk, om te kon kom waar ek is. Dit is waar ek en sy dieselfde is.”

Hoewel Swanepoel en Annelize soos dag en nag verskil, is daar sekere karaktereienskappe wat Swanepoel bewonder.

“Sy vertrou glad nie, ek vertrou te maklik. Ek dra my hart op my mou, ek moes leer om dit nie te doen nie. Annelize het al vroeg in haar lewe seergekry, so sy sukkel soms om haar grense te laat sak. Ek wens soms dat ek so eerlik soos sy kan wees. Sy het nie altyd baie takt nie, sy kan ʼn ding nogal hard oordra. Maar ek beny mense wat eerlik en reguit kan wees, ʼn mens respekteer sulke mense nogal gou.”

Daar is iets nuuts wat sy by elke akteur en aktrise rondom haar leer.

“Oom Hans [Strydom] het so ʼn indrukwekkende teenwoordigheid, daar is só baie wat ek al by hom geleer het. Kyk net, ek was met hom getroud in die sepie, maar ek noem hom steeds oom Hans,” voeg sy laggend by.

(Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Die mens agter die karakter

“Ek verstaan nie waarom vroue so vrees het vir oud word nie. Ek verwelkom dit met ope arms!”

Die suurknolle op sosiale media is soms vir Swanepoel ʼn doring in die vlees.

“Mense vergeet dikwels dat ons regte mense is. Dis een ding om te sê dat Annelize ʼn mislike karakter is, dis ʼn ander ding om aanmerkings oor ons voorkoms te maak, want dit gaan oor my, nie oor Annelize nie.”

Alhoewel dit dikwels swaar op haar hart gaan lê, meen Swanepoel dat die lelike kommentaar eintlik net ʼn spieëlbeeld van die beledigende persoon se eie onsekerhede is.

“As jy iets lelik dink of sê oor iemand moet jy jouself afvra waarom dit jou so pla. Dit sê eintlik baie meer oor jou as oor die ander persoon.”

ʼn Vrou met vele talente

Swanepoel het onlangs Suid-Afrikaanse sosialemediagebruikers bekoor met haar aanlyn karakter Carmen.

“Ek het nog altyd by die huis geoefen deur na YouTube-video’s te kyk en te volg. Ek wou ook nog altyd my eie oefenprogram aanbied. Dis hoe Carmen ontstaan het. Ek is eintlik baie lief vir karakterwerk, ek sal nog bietjie wil skaaf en skuur aan haar, wie weet, dalk word sy eendag deel van my motiveringspraatjie,” skerts sy.

Sy erken dat hoewel sy nog altyd lief vir oefening was, sy nou die rustige aanslag van joga geniet. “Ek wens ek het vroeër daarmee begin, ek het nog altyd gedink dat dit vervelig is – dit is glad nie!’

Wanneer sy nie op die kassie te siene is nie, hou sy haar lyf meermin.

“Ek het onlangs begin klasse neem om te kan swem soos ʼn meermin – dis snaaks, maar dis iets wat ek nog altyd wou doen!”

  • Besoek en volg Cindy Swanepoel se splinternuwe Facebook-blad hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.