Cintaine: Van klippe kou tot verlowing … en volop rolle

Cintaine Schutte tydens vanjaar se Silwerskermfees. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Cintaine Schutte tydens vanjaar se Silwerskermfees. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Hoewel Cintaine Schutte geen vreemdeling vir Suid-Afrikaanse teater- en fliekgangers is nie, is dit asof gehore en regisseurs meteen nie genoeg kan kry van dié donkerkop aktrise se talente nie en haar dagboek is stampvol met teater- en televisierolle.

Die 31-jarige Pretorianer wat eers haar dramagraad aan die Universiteit Stellenbosch voltooi en later haar honneursgraad in drama aan die Universiteit van Kaapstad verwerf het en sedertdien ʼn Kapenaar in murg en been geraak het, is op vanjaar se Silwerskermfees met die gesogte toekenning vir beste vrouebyspeler vir haar rol as Masha in die die vollengtefliek Die seemeeu vereer.

Die Afrikaanse rolprentweergawe van dié Anton Tsjechof-drama, wat gemoderniseer en verwerk is deur Christiaan Olwagen en Saartjie Botha, word deur kykers beskryf as ʼn kragtoer. Volgens Schutte was dit vir haar oorweldigend om deel van dié projek te wees.

“Ek was gelukkig genoeg om saam met ongelooflike akteurs soos Marius Weyers, Sandra Prinsloo en Rolanda Marais dié stuk as ʼn toneelstuk én as ʼn rolprent te beleef. My karakter, Masha, neem haarself baie ernstig op en sy rou oor haar lewe. Sy ken die plaas soos die palm van haar hand, want haar pa is die boer en haar ma werk in die huishouding.”

Cintaine-SchutteSy vertel dat die stuk die vraag vra oor wat gebeur wanneer dinge te stil raak. “Tsjechof kry dit só goed reg, en ek dink Christiaan en Saartjie ook, om ʼn vergrootglas op doodgewone mense se lewens te plaas en om sonder te veel krulle en draaie die soeke na aanvaarding en liefde uit te beeld.”

Nadat sy haar dramagraad voltooi het, het sy en haar portuurgroep agtergekom dat geleenthede vir jong mense in die teaterbedryf skaars is en hulle het een aand om ʼn braaivleisvuur met die idee van ʼn teaterkollektief met die naam Polony opgekom.

“Ek en my vriende in die bedryf het een aand gekla omdat ons nie werk het nie en dat niemand vir ons die geleentheid wil gee om iets te doen nie. Ons het daar en dan besluit om ʼn kollektief te stig waar elkeen ʼn platform kon hê om sy kunsvorm te ontwikkel en uit te brei. Christiaan Olwagen, Wessel Pretorius, Hannah Borthwick en De Klerk Oelofse is van die mense wat saam met my in die Polony-kollektief was.”

Die akteur Carel Nel, aan wie Schutte onlangs verloof geraak het ná ʼn verhouding van sewe jaar, was ook deel van dié groep. Hy was onlangs te sien as dr. Christiaan Barnard in die TV-reeks Hartstog, en het ook saam met Schutte in die kykNET-dramareeks Fynskrif gespeel. Nel is ook te sien in die Sallas de Jager-fliek, Dominee Tienie, wat ook sy première op vanjaar se Silwerskermfees gehad het.

“Deur die kollektief te stig kon Wessel sy skryfhand ontwikkel en Christiaan kon sy belangstelling in regie uittoets. Ons het onder meer toneelstukke soos N is vir neurose, Tjop en dop, Slaaf en Lelike eend op die planke gebring vir R2,50 en ʼn worsbroodjie, maar ons het ʼn repertoire van werk begin en, meer as wat ons desperaat was om werk te skep en vir mense te wys wat ons kan doen, wou ons jong mense in die teaters kry en stories vir jong mense skryf.”

Olwagen is op vanjaar se Silwerskermfees vereer met die beeldjie vir beste regisseur vir die rolprent Kanarie, wat op 19 Oktober landswyd in rolprentteaters begin draai.

“Die verhoog is die plek waar ek gegroei het en waar ek dissipline geleer het. Dit is ongelooflik dat ek in ʼn repetisiespasie kon instap en daar is ʼn Marius Weyers, ʼn Sandra Prinsloo, ʼn Aletta Bezuidenhout en ʼn Deon Lotz. Ek is baie lief vir die verhoog en vir die kamera, maar ek raak soms angstig as ek so besig raak met televisie en rolprente dat ek nie by teaterwerk uitkom nie, so dit sê seker tog iets en dat ek baie lief is vir teater.”

Cintaine Schutte tydens vanjaar se Silwerskermfees. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Cintaine Schutte tydens vanjaar se Silwerskermfees. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Schutte vervaardig vanjaar in opdrag van die Aardklop Nasionale Kunstefees ʼn stuk getiteld Huishou, wat geskryf is deur Philip Rademeyer. Die regie word deur Nico Scheepers behartig, en Nadia Valvekens, wat ná 13 jaar as Pippa Venter in die kykNET-sepie Binnelanders vir die eerste keer terugkeer na die verhoog, speel teenoor Schutte in dié stuk.

Die toneelstuk handel oor twee wit vroue wat ʼn swart kind wil aanneem. Die jonger vrou, vertolk deur Schutte, is ʼn swerwer wat jare tevore haar plattelandse tuisdorp verlaat het. Haar ouers emigreer, en dit veroorsaak ʼn identiteitskrisis en ʼn soeke na haar wortels en Afrikaner-erfenis. Die ouer vrou, vertolk deur Valvekens, is ʼn selfverklaarde, progressiewe vrou, wat sorgvuldig en noukeurig ʼn huis wil opbou en vol maak.

“Ek kan baie identifiseer met my karakter. Ek het onlangs 31 geword en 30 het my soveel geleer van myself en oor my eie soeke na my wortels en identiteit. Huishou is ʼn interessante stuk om te debuteer op ʼn plek soos Potchefstroom, maar dit is ʼn belangrike storie wat ek glo vertel moet word.

“Ons as Suid-Afrikaners het ongelooflike stories om te vertel en ons as kunstenaars het die verantwoordelikheid om dit rég te vertel om ʼn verskil te kan maak. Ellen Pakkies – Die storie van Ellen Pakkies hetmy gebreek. Dit is ʼn storie wat so ʼn groot verskil kan maak in mense se lewens. Nié net die mense van Lavender Hill moet dit sien nie, maar almal behoort dit te sien. As Ellen Pakkies byvoorbeeld by elke skool vertoon kon word, sou dit die geleentheid vir verandering soveel verbreed.”

Schutte glo die gehoor is die laaste lid van die rolverdeling. “Daar is iets ongeloofliks wat gebeur as jy in een ruimte saam met jou gehoor sit en jy weet dit wat op die skerm of op die verhoog is, maak ʼn verskil. ʼn Storie kan ook wonde oopkrap, maar dit gaan daaroor om dit eg te hou. Dit is die belangrikste.”

Cintaine en haar verloofde, Carel Nel. (Foto: Instagram)

Cintaine en haar verloofde, Carel Nel. (Foto: Instagram)

Buiten die finansiële uitdagings is een van die grootste uitdagings in die bedryf om nie jouself te vergelyk met enigiemand anders nie. “Dit is ʼn duur les wat ek vroeg reeds geleer het. Ek kan nooit soos iemand anders lyk, praat, klink of dieselfde werksetiek hê nie. Moenie jou reis met enigiemand anders sʼn vergelyk nie.”

As akteur is daar baie tye wanneer sy nie werk het nie en dit is dan wanneer sy glo sy haarself die beste leer ken. “In werklose tye moet jy jouself van naderby aanskou, want dit is wanneer jy die meeste van jouself leer. Ek het vir ʼn rukkie lank met mense se honde gestap – ek het gedink aan wat my aktief besig gaan hou, ek hou van honde en ek hou van buite wees. Ek het ook au pair-werk gedoen, want ek hou van kinders en ek kan uit ander mense se yskaste uit eet,” skerts sy.

“Die belangrikste is om te onthou dat alles oukei gaan wees, want dit móét oukei wees. Tensy jy hou van pyn, soos Masha,” lag sy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.