Daniah terug veld toe in ‘persoonlikste rol nóg’

Daniah de Villiers. (Foto: Verskaf)

In Dierepraters, ʼn nuwe kykNET-reeks wat fassinerende, alternatiewe maniere om met diere te kommunikeer ondersoek, is die jong Daniah de Villiers as aanbieder te sien.

Dié 18-jarige aktrise en diere-aktivis het drie maande lank op reis deur die land gegaan om kykers voor te stel aan kenners wat op verskillende vlakke met diere kan kommunikeer.

Kykers sal onder meer kennis maak met Annalize Carelse, ʼn gespesialiseerde kinesioloog wat katte help wat met jaloesie sukkel. Enid Fox deel ook onder meer haar tegnieke om diere en eienaars te help wanneer diere uitgesit moet word.

Daar is ook bekendes wat ʼn draai in die program gaan maak, onder wie Suid-Afrika se eie leeufluisteraar (lion whisperer) Kevin Richardson, Anna Breytenbach, Groen Namibië se Marlice van Vuuren en selfs die akteur Neels van Jaarsveld en sy worshond, Lulu, gaan oor die liefde tussen mens en dier gesels.

De Villiers, wat in die kykNET-reeks Kompleks te sien was en rolle in rolprente soos Nul is nie niks nie, Meerkat Maantuig en Vaselinetjie vertolk het, het as jong kind drie jaar lank saam met leeus grootgeword vir die rolprent Mia and the white lion.

Sy en haar gesin het sak en pak van Kaapstad af na Pretoria verhuis toe sy op tienjarige ouderdom die rol van Mia in dié rolprent losgeslaan het. Die skietproses het drie jaar geduur en De Villiers het as’t ware saam met die leeus wat in die rolprent verskyn, grootgeword.

Daniah de Villiers en Hettie Richter, ‘n dierekommunikeerder. (Foto: kykNET)

Sy vertel sy is nostalgies wanneer sy aan daardie tydperk in haar lewe dink. “Ek mis die leeus verskriklik baie. As ek nou terugdink voel dit amper soos ʼn ander lewe, asof dit met iemand anders gebeur het. Dit is herinneringe wat ek altyd kan koester en saam met my kan dra.”

Volgens De Villiers het sy dié magiese ervaring altyd as vanselfsprekend aanvaar, maar het mettertyd besef watter groot geleentheid sy gehad het.

“Dit is werklik ʼn eens in ʼn leeftyd, unieke ervaring, al het dit destyds vir my so normaal gevoel,” sê die aktrise, wat tans haar matriekjaar deur tuisonderrig voltooi.

Sy voeg by dat die leeus haar beste maats was. “Ek het tyd saam met hulle deurgebring vandat hulle welpies was. Ek het hulle hokke skoongemaak en gehelp om hulle te voer. Ek het saam met hulle in die natuur gestap en saam met hulle geslaap. Hulle was my hele lewe.”

De Villiers het daarna met geesdrif haar rol as diere-aktivis ingeneem en tree steeds op as ambassadeur vir die Kevin Richardson Wildlife Sanctuary in Cullinan.

“Ek was nog altyd lief vir diere, maar toe ek met die leeus begin werk en gesien het hoe spesiaal hulle is, het ek werklik besef ons elkeen het ʼn verantwoordelikheid teenoor die natuur. Ek sal vir altyd dierbaar wees vir die verhoudings wat ek met die leeus gekweek het en ek sal nooit weer diere in dieselfde lig kan sien nie. Elkeen het sy eie persoonlikheid en is as’t ware ʼn individu.”

Sy vertel dit was ʼn “eer” om deel te wees van die Dierepraters-span. “Ek het baie tyd weg van die huis af deurgebring en ek het so baie geleer. Ek was al voor die kameras in ander rolle, maar die keer moes ek die rol van myself vertolk. Dit was beslis een van my persoonlikste rolle tot dusver en ek is baie dankbaar vir die ervaring.”

Dierepraters word van Woensdag 28 Julie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.