Dapper speurders bekyk spookstories

Die Spreeus

Onverklaarbare, misterieuse en bonatuurlike fenomene is van April af in die kollig in die nuwe rillerreeks Die Spreeus. Jy kan elke Dinsdagaand om 20:00 op Showmax in ’n nuwe episode sien hoe twee onverskrokke speurders, Bas Koorts en Beatrice Mack (Chris Vorster en Monique Rockman), van die Spreeus-ondersoekeenheid, misdaad se spoor tot in ’n ander dimensie volg.

Spoke, legendes en fluisterstories

“Ons verwys nie na vampiere, zombies en gediertes wanneer ons van ongewone verskynsels praat nie,” sê Chris, wat ons laas in 2015 as Ryno Lategan in die sepie 7de Laan (2000-nou) op TV gesien het. “Dis eerder bekende verhale uit die Suid-Afrikaanse kultuur wat gebruik word om ’n storie te vertel, byvoorbeeld spookstories, legendes, fabels en fluisterstories, soos die spook van Uniondale en die Tokkelossie (’n gemene, harige mannetjie).”

Die naam van die reeks en die ondersoekeenheid spruit uit ’n grap wat Chris se karakter Bas in die eerste episode vertel. “Die Spreeus is ’n speelse verwysing na die Valke – die polisie se elite-ondersoekeenheid. Hulle noem hulleself so omdat hulle nie juis ’n begroting of infrastruktuur het nie en moet klaarkom met wat hulle het,” vertel Chris.

ʼn Kenner van die bonatuurlike

“Bas Koorts is ’n komplekse karakter wat al baie hartseer in die lewe ervaar het,” sê Chris oor sy rol. “Hy was vir etlike jare ’n speurder in die polisie wat misdadigers se broek laat bewe het, maar ná sy vrou se dood ’n paar jaar tevore, is hy nou net ’n skaduwee van sy vorige self.”

Bas is ’n kennisvraat met ’n groot belangstelling in bonatuurlike verskynsels. “Hy het al vele boeke oor die onderwerp gelees en beskou homself as ’n spesialis in die veld.”

Brigadier Rosa Scheffers (Sandi Schultz) het hom gevra om by die eenheid aan te sluit. Rosa is sy oorlede vrou se suster en hulle het nog altyd ’n goeie vriendskap gehad. “Voor Rosa Bas genader het, het hy as ’n sekuriteitswag by ’n winkelsentrum gewerk met ’n snuiter vir ’n baas. Die Spreeus-eenheid help hom om sy selfbeeld te herbou.”

ʼn Oop kop en ʼn oop gemoed

Chris sê hy hoop kykers skakel met ’n oop kop en oop gemoed in. “Ons doel is nie om verregaande stories te vertel wat jou geloof en waardes toets nie. Ja, daar is die ongewone verhale, maar elke episode gaan eintlik oor die karakters, hul stories, emosies en ervarings. Dis wat die storie eg maak.”

Die res van die karakters

Monique Rockman speel die rol van die bedorwe brokkie en opvlieënde speurder Beatrice Mack, Bas se kollega. “Beatrice het ʼn loopbaan in fisika opgegee om ’n speurder te word, hoofsaaklik om haar pa, Bernie (Kevin Smith), te irriteer omdat sy weet hy dit nie sou goedkeur nie,” sê Monique.

Al het Beatrice nog nooit self in bonatuurlike dinge geglo nie, koester sy ook ’n wrok teen Bernie omdat hy haar ma, Erica (Theresa Sedras), weens haar geloof in geeste in ’n gestig laat opsluit het.

Sandi Schulz is Brigadier Scheffers, die stigter van Die Spreeus. Sy voel daartoe gedryf om ongewone sake op te los en het Bas en Beatrice doelbewus saam gegroepeer en steek haar eie geheime weg. Sandi sê die reeks gaan mense verstom. “Die visuele effekte is besonders en die manier hoe die skrywers te werk gegaan het om stories wat ons as feëverhale ken, te hervorm, is indrukwekkend.”

Hoe kry jy Showmax?

Kry ’n voorsmakie van al die Showmax-aksie met ’n twee-weke gratis proeflopie. Daarna kos dit slegs R99 per maand om duisende reekse, rolprente en dokkies te geniet.

As jy ’n DStv Premium-intekenaar is, sal Showmax jou nie ’n enkele sent meer kos nie. Gaan eenvoudig na www.showmax.com/dstv om in te teken en geniet volledige toegang tot Showmax teen geen ekstra koste nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.