De Klerk, kinders sorg eersdaags vir TV-vermaak

De Klerk Oelofse sal eersdaags optree as aanbieder van ‘Kyk wie praat’ op kykNET. (Foto: Verskaf)

Die gewilde Die Boekklub– en Hotel-akteur De Klerk Oelofse is die aanbieder van die nuwe program Kyk wie praat, wat eersdaags op kykNET te sien sal wees.

Kyk wie praat is ʼn nuwe speletjiesprogram waarin ʼn groep kinders tussen die ouderdom van ses en nege ʼn klomp vrae gevra word, en deelnemers moet raai wat hulle antwoorde is.

In elke program is daar nege kinders wat die vyf deelnemers op hulle tone gaan hou. Pryse wat gesinswegbreke en kontantpryse insluit, is onder meer op dié program te wen.

“Ek dink een van die slegste dinge van ouer word, is om so ʼn stukkie van jou onskuld te verloor,” sê De Klerk.

Kyk wie praat is my kans om opnuut na die wêreld te kyk deur die oë van klein mensies. Dis natuurlik ʼn bonus dat hulle skreeusnaaks is!”

Die vyf deelnemers per program word ronde vir ronde uitgeskakel tot net een oor bly. ’n Gesinswegbreek is op die spel indien die deelnemer genoeg punte bymekaargemaak het. Daar is ook ʼn kans om R10 000 kontant per program te wen, maar indien dié bedrag nie gewen word nie, staan dit oor tot ’n boerpotprys wat in die finale episode van die reeks gewen gaan word.

In hierdie program neem die vyf deelnemers deel wat die meeste punte in die vorige twaalf programme ingesamel het.

Klink dit na pret? Skryf dan in en jy kan moontlik een van die deelnemers wees. Die kinderdeelnemers vir die reeks is reeds gekies. Nou word die volwasse deelnemers – jy moet minstens 18 jaar oud wees – gesoek.

Kyk wie praat word van 5 tot 17 Junie in Kaapstad geskiet. Indien jy een van die deelnemers is, moet jy self tot by die ateljees in Montague Gardens kom waar die opnames gemaak word.

Hoe nou gemaak? Neem solank ʼn video, korter as twee minute, van jouself op waarin jy ons meer van jouself vertel, of daar ’n spesiale kind of kinders in jou lewe is en hoekom jy dink jy die regte deelnemer vir so ʼn program is. Ons het natuurlik ook jou naam, adres, telefoonnommer en e-pos-adres nodig.

Skryf hier in.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.