Dean John Smith: ‘Nóú kan ek ʼn verskil maak’

Dean John Smith vertolk die rol van Wade Daniels in ‘Suidooster’ (Foto: Verskaf)

Maroela Media het by dié 26-jarige akteur ingeloer en oor sy werk as akteur, sosialemedia-invloed en rol in Suidooster gesels.

“Ek wou nog altyd act,” erken Smith. “Maar waar ek vandaan kom, het mense nie gedink dat jy ʼn loopbaan in drama kan hê nie.”

Hy het na skool drama by die Universiteit van Stellenbosch gaan studeer en sy honneursgraad in toneelspel verwerf. Smith vertel dat daar nie vir hom rolmodelle in die drama- of vermaakbedryf in Malmesbury was nie en daarom ploeg hy nou terug in die gemeenskap.

“Ek het verder gaan studeer en vir die mense gewys dat daar ʼn lewe buite die grense van die dorp [Malmesbury] is,” verduidelik hy. “Nou kan ek teruggaan en ʼn verskil maak.

“My boodskap aan jong mense is om jouself te challenge en uit die comfort zone uit te kom,” voeg hy by. Sedertdien het talle jong akteurs uit sy tuisdorp in Suidooster of Arendsvlei verskyn.

Smith vertel dat mense gereeld by hom vir raad aanklop, hetsy per e-pos, sosiale media of sommer op straat.

“Ek mind glad nie om te help waar ek kan nie,” sê hy, en voeg by, “maar dan moet jy obviously wys dat jy iets van jou kant af wil doen om te leer.

“Iemand het een keer vir my ʼn boodskap op Instagram gestuur. Hy was van die begin af oop en eerlik met my. Ek het hom by sy huis gaan oplaai en uitgeneem vir ontbyt. Ek kon sien dat hy regtig wou leer, want hy het ʼn notaboekie met vrae gereed gehad,” vertel Smith.

Dié persoon het hom ʼn paar maande later weer gekontak en terugvoer oor sy vordering gegee. Smith meen hy sal enige tyd so ʼn persoon help wat bereid is om hard te werk en na raad te luister. Hy meen dis sleg wanneer mense raad vra, maar dan nie bereid is om moeite te doen om te leer nie.

Hoewel Smith toeganklik vir die publiek se vrae is, meen hy dat mense ook moet besef waar die grense lê.

“Ek sal nooit ‘nee’ sê vir ʼn foto en chat nie, maar daar is ʼn tyd en plek vir alles,” sê hy. “Ek onthou hoe ek een keer by ʼn begrafnis besig was om my ma te troos toe iemand my gevra het of ek ʼn foto wil neem. Natuurlik gaan ek my voet neersit. Dit toon nie respek nie – en niemand mors met my ma nie.”

Smith kom uit ʼn hegte gesin en vertel dat hy geweldig dankbaar is vir die ondersteuning wat hy by sy ouers en twee susters ontvang. Sy ouers laat hulle toe om te doen wat hulle wil, solank albei voete op die grond bly.

“Ek het nie eintlik ʼn keuse [as om nederig te bly] nie – my sal my klap dat ek weer plat op die grond is,” skerts hy. “My pa het ook altyd ʼn sêding – ‘Hoe laer jy bly, hoe hoër kom jy’.”

Smith is ʼn aangename mens sonder tierlantyntjies. Hy is hardwerkend en is voortdurend op die uitkyk vir maniere hoe hy sy vaardighede kan ontwikkel en as akteur kan groei. Daarom doen hy ook moeite met die materiaal wat hy op sosialemediaplatforms deel.

“Mense wat saam met my video’s skiet, sal weet dat ek na tegniese aspekte kyk en die standaard in ag neem,” verduidelik hy. “Jy moet nooit jou followers onderskat nie. As ek nie ʼn gehalteproduk gaan lewer nie, gaan my aanhangers my nie ernstig opneem nie.”

Dean John Smith en Marco Spaumer in ‘n toneel uit ‘Suidooster’ (Foto: Verskaf)

Smith is bekend in vir sy rolle in die teater- en televisiebedryf. Hy speel tans die rol van Wade Daniels in Suidooster en vertel dat hy trots daarop is om dié sepie se 1 000ste episode op 21 April te vier.

“Wat dit vir my lekker maak en wat my trots maak om deel van die span te wees, is omdat dit ʼn sepie wat long overdue is. Dis iets wat lankal al moes kom. Dit capture die subcultures in die bruin kultuur,” sê hy.

“Om deel van so iets te wees sonder om dit te beplan, terwyl jy net actually besig is om jou passie uit te leef, is wonderlik.”

Suidooster word Maandae tot Donderdae om 18:00 op kykNET, DSTv-kanaal 144, en om 20:00 op kykNET & kie, DSTv-kanaal 145, uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.