DEKATv terug op kykNET vir sesde seisoen

Chantel Dartnall (2)

Hierdie is die sjef Chantel Dartnall se vierde seisoen saam met DEKAT. Sy is die hoofsjef van die Restaurant Mosaic, wat as een van Suid-Afrika se top-10 fynproewer-restaurants beskou word. Foto: Verskaf.

DEKATv se sesde leefstyl-reeks skop vanaand op kykNET af en beloof om net so vermaaklik en inspirerend te wees as die vorige vyf reekse. Die reeks gaan ook in ʼn splinternuwe tydgleuf, om 17:30 op DStv (kanaal 144), te sien wees.

Die reeks van 13 programme word vir die tweede jaar deur die internasionale eiendomsgroep, Fine & Country en die Sweedse luukse motorvervaardiger, Volvo Car, geborg en het weer die welbekende en geliefde musikant en akteur, Chris Chameleon, as ankeraanbieder. DEKAT se redakteur en eienaar, Elzilda Bekker, neem weer die leisels as uitvoerende vervaardiger.

Elk van die programme van 30 minute bestaan uit vier tot vyf verskillende insetsels en gaan kykers weer op ʼn opwindende reis neem na sommige van hul gunsteling-“bestemmings”, waar hulle ʼn keur kan geniet van wat die wêreld van boeke, eiendomme, kuns en styl, asook kos, bied.

Die programme word op Vrydag om 11:30, Saterdag om 16:00, Sondag om 06:00, Maandag om 14:00 en Dinsdag om 00:00 aangebied.

“Ons is in ons skik dat DEKATv terug is op die kleinkas in wat beloof om nog ʼn seisoen van onkonvensionele kykstof te wees. Vir ons, by DEKAT, is dit opwindend om ongewone stories vir ons kykers uit te snuffel, hulle uit te nooi om ʼn kykie in ons wêreld te kry en ons handelsname tot binne-in hul huise te bring.

“Met professionele mense aan boord, soos die veelsydige musikant en akteur Chris Chameleon as anker, Fine & Country se uitvoerende hoof, Linda Erasmus, wat onderhoude voer met eiendomspesialiste en kliënte en eiendomsinligting verskaf, die veelbekroonde sjef, Chantel Dartnell, wat die pikantste geregte denkbaar optower, lewenstylghoeroes, Linette van der Merwe, Marliza van den Berg en Lizma van Zyl, om die lewenstyl- en kunste-insetsels te behartig en die deurwinterde Gerard Scholtz, wat die jongste op die gebied van literatuur gaan toelig, gaan DEKATv weer ʼn fees vir al die sinne bied, op sy kenmerkende vermaaklike en verfrissende manier,” sê Becker.

Chris Chameleon (3)

Die geliefde musikant en akteur Chris Chameleon sal weer DEKATv se ankeraanbieder wees. Foto: Verskaf.

Linda Erasmus van Fine & Country is ook opgewonde oor die nuwe eiendomsformaat vanjaar. “Pleks van ʼn onderhoud met my, is ek vanjaar die onderhoudvoerder. Dié verandering is aangebring omdat ek deeglik bewus is van wat mense alles oor eiendomme wil weet. Terselfdertyd stel dit ons in staat om meer kliënte en lisensiehouers te betrek en tans werk dit baie goed,” verduidelik sy.

“Hoe meer interaksie daar met mense is, hoe beter. ʼn Meer ingeligte kliënt is ʼn goeie kliënt. Die eiendomsinsette sal op duurder eiendomme en ontwikkelings landwyd fokus en is volkome deursigtig. Kykers kan dus verseker wees dat hulle nie net hope nuttige inligting gaan kry nie, maar ook ʼn kykie in behuisingsopsies, -style en -tendense die hele land oor.”

Becker glo DEKATv komplementeer die glansryke gedrukte uitgawe, wat verlede jaar sy 30ste verjaardag gevier het, uitstekend. “In hierdie tyd van vervelige eensoortigheid, waarin die meeste produksegmente bitter min differensiasie toon, het DEKAT daarin geslaag om homself as ʼn gesogte nispublikasie te vestig wat op koffietafels in talle sitkamers en raadsale pryk.

“Danksy ʼn unieke aanslag tot onkonvensionele kwessies en onderwerpe wat deur ervare joernaliste gedek word, ʼn sterk fokus op die heel nuutste lewenstylprodukte, asook ʼn heerlike mengsel van kuns, kultuur, dekor, mode, kos en skoonheid, troon DEKAT, uitgawe na uitgawe, uit soos ʼn kosbare diamant,” sê Becker.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Lucas ·

Hoop net die pragtige Chantel maak die keer ordentlike kos en nie fensie goedjies nie!!

Rina XX ·

Ek stem Lucas, weet nie wat noem jy daai ietsie nie, maar beslis nie kos nie.

Dankie tog ·

Dankie tog nie nóg ‘n sepie. Ook ek het die afgewaterde opsie van DSTV waar ons eens op ‘n tyd met kanaal 187 die ‘Discovery Channel’ gehad het wat intussen verdwyn het terwyl ons intussen meer per maand betaal.
Wat het van die ‘Discovery Channel’ geword of wat is in sy plek vir ons armes?

SMoore ·

Die tye waarop dit uitgesaai word, is regtig ongemaklik. Wat van Sondae in Slank se tyd?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.